Net ‘n mens – uittreksel

NET 'N MENS voorbladDie Paashaas se agterpootjies bring haar by die laagste punt van die siklus: die bekende oomblik van intense berou oor die massa kilojoules wat sy pas verorber het, gevolg deur die wete dat sy by omdraai verby is. Die oomblik wanneer sy weet die skade is reeds gedaan en dis nou maar ‘n kwessie van deurdruk en die sonde afrond. Wat help dit nou sy bêre die blerrie voete en stertjie net om dit later vannag weer te kom uithaal en die bose sirkel van voor af te begin.

Sy lek haar vingers een vir een af en konsentreer op die gevoel van vertroosting, van koestering, die bekende mengsel van verrukking en berou vir die oomblik na agter in haar bewussyn toe gedruk. Sy ken haarself tog, sy weet hoekom sy eet. Vir hierdie paar minute in die skemer bekendheid van haar kombuis kan sy haarself maar net so wel aanvaar. Sy eet wanneer sy spyt is en sy eet wanneer sy bly is, so eenvoudig is dit.

Deesdae is sy meestal spyt. Op hierdie oomblik is sy veral spyt sy het die Paashaas verorber. Maar toe sy opkyk, is sy die heel spytste dat Willem haar weer eens betrap het.

“Ai, Sanet, jy weet mos môre voel jy weer aaklig hieroor,” sê hy met die sagte, redelike stem wat hy altyd vir hierdie situasies reserveer. Eintlik is sy stem altyd sag en redelik, behalwe wanneer sy oor sy betrokkenheid by Coenraad Beyers se nalatenskap begin baklei. Dan kan hy verstommend rigied wees en elke liewe dingetjie wat sy sê persoonlik opneem. Mens sal sweer die groot skrywer beheer sy prokureur nog steeds uit die graf soos hy met sy testament die vrouens in sy lewe gemanipuleer het.

“Hoekom slaap jy nie?” Sy steek die gevalle haas se linkerpootjie in haar mond om die lus vir baklei wat in haar opstoot, te stuit. Sy het jare gelede al geleer dat om met Willem te baklei ‘n futiele oefening is. Amper so futiel soos om teen haar kosverslawing te veg.

“Ek het net die Eno kom soek. Jou hoendergereg was lekker vanaand, maar ‘n bietjie ryk vir my.”

Sy probeer nie eens antwoord nie. Die hoenderdis met geil kaassous was heerlik, maar van geen ewigheidswaarde nie. Soos elke heerlike dis wat sy daagliks voorberei. Vir haar het dit nie die holte in haar hart gevul nie en vir haar sportiewe, skraal man het dit bloot sooibrand gegee. Sy kan hulle maar net so wel op ‘n dieet van blare en groen smooothies sit en haarself baie ure in die kombuis spaar. Kos help nie vir ‘n leë hart nie. Kos roep net om meer en meer; die vertroosting lê maar altyd anderkant die volgende bord ryk lasagne, die volgende stuk klam wortelkoek.

Sy weet tog al vir jare die enigste manier is om soetgoed en die meeste koolhidrate soos die pes te vermy. Dis die weg na genesing, die enigste manier om – miskien – van die doring in haar vlees verlos te raak.

Die ding is net dat sy nie regtig verlos wil wees nie, want sy is versot op die doring in haar vlees. Sy is mal oor die romerige soetheid van sjokolade op die tong. Nie bittersjokolade propvol antioksidante nie. Nee, gewone supermarksjokolade propvol bygevoegde suiker en allerhande bose preserveer- en geurmiddels. En sy is mal oor koek: wortelkoek (dit bevat tog groente), sjokoladekoek (dit bevat soms donkersjokolade propvol antioksidante), heuningkoek (heuning is tog ‘n natuurlike versoeter en so heilsaam soos vars lug en slaaiblare). Sy is ook mal oor brood: witbrood met margarien (propvol onheilsame, kunsmatige byvoegings) en gouestroop (propvol doodgewone suiker, deesdae voëlvry verklaar en openbare vyand nommer een, as mens die gesondheidspers moet glo) tot ‘n romerige lekkerte saamgeroer en bedek met ‘n dik homp ongesonde, harde geel kaas; volgraanbrood met plaasbotter, ciabatta, focaccia, saadbrood, gesondheidsbrood, gevlegte brode, lang brode, ronde brode. Sy is mal oor …

“Ai, my vrou, môre huil jy weer oor jou gewig.” Willem trek die band van sy netjiese donkerblou kamerjas vererg stywer en draai om, terug kamer toe, die oorgewig labrador op sy hakke en die ernstige oorgewig gemmerkat op dié se hakke.

Sanet kyk hulle ‘n oomblik agterna. Willem is die soort man wat elke vrou begeer en dan op die ou end vervelig vind: gelykmatig en betroubaar, tot sterwens toe. Soozie is die soort hond wat sy nooit wou hê nie: ongedissiplineerd, vraatsugtig en lui, maar liefdevol tot versmorens toe. Patti is ‘n kat uit die poorte van die warmplek: selfgenoegsaam, verwaand en humeurig by uitstek. En net liefdevol as sy hoop om ‘n lekkernytjie los te slaan. Willem en die diere is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. As hy die slag tuis is, bly die twee op sy hakke, trap waar hy trap, sit waar hy sit. Aan al drie van hulle is sy onlosmaaklik verbonde, soms teen haar sin, soms met wrewel, maar altyd verbonde.

“Ek huil lankal nie meer by jou oor enigiets nie!” roep sy agter die drie verdwynende rûe aan. Sy behoort môreoggend ‘n lekker ent te gaan stap en vir die dag op vloeistof, rou groente en vrugte te leef. Dit sal die skade van die bose haas minstens in haar kop uitkanselleer. Tot op ‘n punt het dié tegniek vir haar gewerk, die perfekte kombinasie van boetedoening en detoksifikasie ná ‘n dwaling van die smalle weg af tot in die poorte van haar persoonlike swakheid.

Dis net dat sy nie vir stap lus is nie. Stap is nie meer lekker nie. Te veel bewegende dele, te min selfvertroue. En buitendien vas mens nie op jou vyftigste verjaardag nie, veral nie as jy met vriendinne op ‘n mooi plek onder eikebome gaan vier nie. Sy is ook nie lus om te verjaar of om haar oor haar huwelik te bekommer of om van hierdie stoel af op te staan en verder te probeer slaap nie. Sy is net lus vir nog ‘n Paashaas, dis al.

“Sanet.”

Sy wip soos sy skrik, sy het hom nie hoor terugkom nie. Onvermydelik wag die kat en die hond geduldig in die agterhoede. Deesdae voel dit permanent of daar ses oë op haar gerig is, ses oë wat al haar swak plekke raaksien. Dis nou wanneer Willem hom die slag verwerdig om huis toe te kom, wanneer hy nie by die werk is of by die meisiekind met die kleintjie nie. Soms wonder sy of die kind ooit die grote Coenraad Beyers s’n is en nie dalk dié van sy getroue prokureur nie.

Ouer vriendinne gee so hoog op oor die toenemende gevoel van bevryding wat elke dekade veronderstel is om te bring. Jy is veronderstel om vrede met jouself te hê, minder om te gee wat ander dink, sterker in jouself te word. Aangesien die veertigs haar helaas nie van ‘n enkele van haar inhibisies bevry het nie, moet sy dalk maar begin oefen vir die vyftigs. Sy sal sommer begin deur vir ‘n verandering van die heup af te skiet. “Is jy seker die kind is nie dalk joune nie, Willem?” Sy skuif die stoel agteruit en lig haar lyf met moeite uit die vertroude warmte. Dit het vroeg begin koud word vanjaar, die kilte slaan op uit die teëls. Of dalk is die koue meer in haar kop en hart as in haar lyf.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s