RSS

Snyman, Dana – Soekmekaar

SoekmekaarTwee boeke wat ek onlangs gelees het, het my ervaring van die Springbokke se oorwinning in Japan dieper en betekenisvoller gemaak. Die een is In my vel deur Azille Coetzee, die ander Soekmekaar van Dana Snyman. Azille is ’n jong filosoof en akademikus wat in Amsterdam studeer het en uit daardie perspektief van haar Afrikanerskap probeer sin maak. Dana is ouer, geen akademikus nie, maar gelouter deur die lewe in Suid-Afrika. Albei is baie bedrewe skrywers. Waar mens egter In my vel toemaak met ’n oorweldigende drag wit skuld op jou Afrikaanse skouers, maak jy Soekmekaar toe met die gevoel dat Dana Snyman op die oomblik die persoon in die openbare lewe is wat Afrikanerskap op die eerlikste wyse verken en met die mees gebalanseerde beeld anderkant uitkom.

Dana Snyman het lank reeds volksbesit geword, op grond van sy boeke en sy TV-reeks Op pad. Op sy uitgewer se webblad kan jy sy indrukwekkende rekord gaan bewonder as jy so voel. Op sy Facebook-blad het hy meer as 39 000 volgelinge, wat hy gereeld trakteer op nuwe skryfwerk wat telkens ’n situasie verwoord waarvoor die gewone mens nie altyd die uitdrukkingsvermoë het nie. Hy is uiteraard ’n hoogs talentvolle skrywer en is al talle kere daarvoor vereer.

Wat sy werk uniek maak, is die manier waarop hy die hart van ons volk kan verwoord. Hy ry met sy ou bakkie deur hierdie wye en droewe land en hy soek na dít wat ons maak wat ons is. Hy hemel nie Afrikanerskap op nie. Hy swaai nie die ou vlag rond nie, sing nie patriotiese liedjies oor dapper Boerekrygers nie. Hy trap sy spore in die Suid-Afrikaanse stof saam met die gewone mense wat hy op sy reise raakloop. Hy het klaarblyklik die vermoë om vir enige mens enige vraag te vra – en ’n eerlike antwoord te kry. Hy het definitief die vermoë om joernalistieke vaardigheid met fyn, evokatiewe skryfwerk te kombineer. Soekmekaar is weer eens ’n reis na nie alleen die hart van die volk nie, maar ook na sy eie hart. In sy soeke na die waarheid neem hy sy leser diep in sy persoonlike lewe in sonder om ooit ekshibisionisties of sentimenteel oor te kom.

Soekmekaar is saamgestel uit 59 stukke van wisselende lengte, toonaard en invalshoek. Die leser word aan ’n reeks uiteenlopende karakters voorgestel. Daar is Eugène Terre’Blanche met sy baard en sy perd en sy pakkie Lexingtons in sy bosak wat laatnag Afrikaanse poësie voordra. Daar is Dana se pa, die predikant wat op sy dag die AWB se hoofkapelaan was, ’n huisvriend van Terre’Blanche, wat telkens met sy enigste seun gebots het en teen die einde van sy lewe ontnugter toegee dat hy niks meer verstaan nie, dat sy waarhede in der waarheid nie standgehou het nie. Daar is Dana se ma wat waarskynlik ’n sakevrou in eie reg kon wees, maar getrou saam met haar man van plattelandse gemeente na plattelandse gemeente trek, wat haar laaste tye feitlik bedlêend slyt met haar sigarette en haar huishulp vir wie sy as “Skattebol” aanspreek en wat haar ook so noem. Daar is Karel Schoeman wat sy eie lewe neem en die twee swart vrouens wat hom op sy laaste reis vergesel het.

Dan is daar natuurlik Johannes en Lettie en Koos, wat op Ventersdorp vir Dana se pa gewerk het en na sy dood sy versoek om na Dana om te sien, letterlik tot uitvoer bring. In die eb en vloed van Dana se verhouding met Johannes en sy mense word ons ewige soeke na mekaar verpersoonlik; die frustrasie, die onbegrip, soms die woede, maar altyd die liefde en die eerlike begeerte om mekaar te aanvaar en te probeer verstaan.

Ook die selfdood van Dana se verloofde word met sy kenmerkende eerlikheid hier verwoord. Die leser gaan saam met ’n verpletterde man op reis die binneland in, na die begrafnis van sy verloofde, na ’n groter begrip van die menslike weerloosheid voor depressie, wat vir sommige ’n terminale siekte is. Daarna pak die leser saam met hom sy huis op Jacobsbaai op en vertrek na ’n nuwe lewe met net die nodigste besittings en sy versameling optelhonde. Ons glo ons sal in ’n volgende bundel ook die res van sy reis kan meemaak.

Die insigte wat Dana ten opsigte van depressie verwoord, kan as een van die belangrikste elemente in die boek beskou word. In ’n tyd waar die stigma nog stewig aan geestesiektes kleef, waar dodelik siek mense nog deur oningeligtes aangesê word om hulle “reg te ruk”, is hierdie woorde soos ligte in ’n donker hemelruim: “Depressie is werklik ’n siekte, ’n verskriklike stuk waarheid wat hoop in wanhoop verander tot jou angs vir die lewe groter kan raak as jou angs vir die dood.”

Soekmekaar is die kroniek van ’n soekende siel, ’n lid van ’n volk wat moeitevol en sukkelend op soek is na sy plek in Suid-Afrika, sy plek in Afrika en in die wêreld. Dana Snyman het nie vir ons antwoorde nie, maar hy vergesel ons getrou op ons elkeen se reis na groter begrip, groter deernis en groter hoop.

Soekmekaar is onontbeerlike leesstof vir elkeen wat hierdie land liefhet, elkeen wat ons uitdagings probeer deurgrond, elkeen wat probeer om ten alle koste die hoop te behou. Dana Snyman se persoonlike reis het ongemerk ’n metafoor vir die reis van elke denkende Afrikaner geword; die dokumentasie van ons eindelose soeke na mekaar en na onsself.

Lees Soekmekaar – en verdiep jou in die wonderlike, skrikwekkende ervaring van Afrikaans-wees, soos verwoord deur iemand wat saam met jou op soek is na die ontwykende waarheid.

Die oorspronklike resensie het hier verskyn: https://www.litnet.co.za/resensie-soekmekaar-deur-dana-snyman/?fbclid=IwAR1RKA469GDbBh0dv_TxnhSLpOznwciS1pRZojJxlsgzPkWS6uFxBNcN-SU

 

Kommentaar is gesluit.

 
%d bloggers like this: