Vuur vir die fynbos

Vuur vir die fynbosVuur vir die fynbos het in Huisgenoot van 30 Maart 2006 verskyn en het ontstaan uit ‘n werklike avontuurjie met ‘n vriendin en ‘n skilpadjie tydens ‘n brand naby Stanford. Die veldblommetuin wat ek in my gedagtes gesien het, is die Harold Porter by Bettiesbaai (wat een van die plekke is waarna ek nou met ‘n seer hart smag).

“Is jy mal, vroumens? Gee die ding hier en maak dat julle uitkom!” Die man se stem kom rou onder die baadjie om sy kop uit, die donker figuur toring oor my waar ek half gebukkend in die middel van die pad gevries staan van pure skrik. Digte rook hang soos ‘n grys tronkkombers om ons; heuphoogte vlamme knetter ongemaklik naby. ‘n Groot roetbesmeerde hand gryp die spartelende skilpadjie summier uit myne.

Ek’s g’n heldin nie – ek wìl hier uit, en vinnig ook. Daar’s nie nou tyd vir lip kap of hardekwas wees nie, al laat sulke onbeskoftheid normaalweg my nekhare blitsvinnig. rys. Ek val soos ‘n sak patats terug in die kar by Heidi. Haar kosbare plat sportmotortjie skreeu soos sy in trurat verder jaag om uit die doodse grys stilte te kom; nooit geweet sy kan só bestuur nie. Ek sweer sy sal nie môre weer teen so ‘n spoed so reguit agteruit kan jaag nie!

Die bakkie bly by ons; hy jaag nie verby en los ons nie. Kliphardegat, maar konsidererend, dié man.

Ons is binne oomblikke weer uit die gevaar; die digte muur van rook verander in swaaiende los flardes wat groteske figure om ons vorm, daar’s nie meer vlamme langs ons te siene nie. Nou is ons half histeries aan die lag, die wonderbaarlike kalmte in die krisisoomblik het ons vinnig en finaal verlaat. Minute gelede het suiwer adrenalien ons verander in twee outomate wat die vlug-opsie van die veg-of-vlug-keuse blitsvinnig gekies en perfek uitgevoer het, maar nou is ons weer net twee doodgewone vroumense wat verskriklik groot geskrik het

Haar ma het nie bang kinders grootgemaak nie, sê Heidi altyd; sy wou nog deurskiet, vas oortuig dis net ‘n paar verdwaalde vlammetjies en een rietskraal ou rookwolkie. Maar mý ma het ‘n vrekbang meisiekind grootgemaak; vir my was daar net een pad, en dit was terug. Ek los van kleinsaf dappergeit vir ander mense; ek is definitief van die eerder-bang-Jan-as-dooie-Jan soort.

Mý enkele heroïesie oomblik was die uitspring en gryp van die skilpadjie wat paniekerig oor die pad aan die wikkel was, reguit op pad na die vlamme aan die oorkant. En daar kom die bakkie uit die rook gejaag en die onbeskofte vent skel my nie net uit nie, maar gryp nog my skilpad ook!

Triomfantlik bars ons uit in die helder sonskyn. Hier waar dit nie so nodig is nie, het die pad ewe skielik weer ‘n skouer ook; ons draai gemaklik om. ‘n Mens wil darem nou ook nie die dorpie agteruit ingejaag kom nie.

Ons hou sommer eers ‘n oomblik stil en klim uit om ‘n bietjie asem te skep na al die opwinding. Nie dat die beskikbare asem baie vars is nie – pure rook en roet. Op ‘n veilige afstand staan en kyk ons gefassineerd hoe die vlamme oor die pad spring waar ons oomblikke gelede was.

Die bakkie knars agter ons tot stilstand. Onse skilpaddief knoop sy lang lyf agter die stuurwiel uit, kom op ‘n drafstap na ons toe aan, steek ‘n hand uit en stel homself voor: “Ek is Brand van Vuuren, is julle twee OK?” Sy hare is vlamrooi en krullerig en vol roet, sy blou oë bloedbelope, sy wimpers en wenkbroue stomp geskroei.

En wat doen ons twee gesofistikeerde dames uit die stad? Ons gryp hulpeloos na mekaar en skreeu soos ons lag: “Bránd van Vuuren!! Brand van Vúúren??”

Hy wil-wil hom eers vererg, toe trek die glimlag soos ‘n veldbrand oor sy roetbesmeerde gesig. “Dis regtig my naam, hoor, maar ek doen hom darem nie gewoonlik so deeglik gestand nie.”

Ons giggel nog steeds onbedaarlik, pure skok. “Ag nee, is jy nie ‘n brandweerman nie?proes Heidi en “Wat ‘n vermorsing!” snork ek onvroulik en skater dit uit.

Net toe ek myself min of meer onder beheer het, kraai Heidi alweer van die lag: “En ek sweer jou bynaam is Vlam!”

Hopelik verstaan die man dis maar skrik wat so maak; ons is eintlik twee goedopgevoede dames met ons tonge (meestal) deeglik onder beheer.

“Natuurlik is my bynaam Vlam,” glimlag hy geduldig, gelukkig blykbaar glad nie geïntimideer nie.

“En as jy nie ‘n brandweerman is nie, wat ís jy dan?” Nuuskierige agie kry pyn op sy magie. Maar my vriendin vra wat sy wil weet, en wat sy nie uitvind nie, maak sy gewoonlik sommer op.

“Natuurbewaarder, die seun van ‘n reptielkenner, van doekedae af opgelei om te vóél vir reptiele se lot in brande soos hierdie. Dus gedoem daartoe om ook maar soos my pa rond te jaag en te probeer red wat daar te redde is.”

Ons staar die man in stomme verbasing aan. Heidi herstel eerste: “Wil jy vir my sê jy’t deur daardie stuk vuur gejaag om ‘n skilpad te kom red?”

Hy wys verleë na sy bakkie: “Ek sal dit darem nou nie heeltemal só stel nie. Ek was bloot van die ander kant af oppad, en soos julle agtergekom het, is dit doodmaklik om skielik te beland netmooi dáár waar dit weer opvlam minute na die noodwerkers ‘n entjie verder jou verseker het alles is veilig. Maar ek was bly vir die kans, het ‘n goeie klompie gekry terwyl hulle oor die pad probeer vlug het.”

Ek kry ‘n koue gevoel op my maag. “’n Goeie klompie? ‘n Goeie klompie wat?” Met ‘n ysige voorgevoel staan ek nader aan die bakkie, kyk skrikkerig onder die kappie in. ‘n Swetterjoel skilpadjies van verskillende groottes, en een yslike ou knewel, probeer tevergeefs teen die gladde wande uitklim. Maar dis nie op hulle wat my oë vassteek nie; dis op die sakke. Die wriemelende sakke.

Slange. Trawante van die duiwel. En die enigste goed waarvoor ek banger is as vir Satan self.

Ek draai summier om motor toe. “Kom, Heidi, ons sal seker moet oorslaap op die dorp, kom ons gaan vind uit.”

“Daar’s ‘n maklike ompad, ek sal julle wys.  Of julle kan ‘n bietjie wag, die gevaar sal nou-nou verby wees. Kom, ons gaan drink solank iets in die dorp.”

“Nee dankie, ons sal sommer by die polisie gaan hoor. Kom, vriendin.” Ek bondel my pel sonder seremonie in haar eie karretjie en daar trek ons. Sy weet – waar dit by slange kom, is daar nie ‘n greintjie redelikheid in my te vinde nie. Net rou angs.

“Ai, en hy het sulke mooi hande. En die pragtige ryk stem.” Sy skud haar kop meewarig.

“Nou vat hom dan vir jou as hy vir jou so danig mooi is.” Ek is skielik sommer de jooste in.

Haar verloofring vang die son toe sy indraai by die dorpie. “Klaar geholpe, dankie! Dis jý wat op die rak sit en jou voetjies optrek elke keer as ‘n loslappie onder verby stap.”

“Ek heul nie met die addergeslag nie.”

“Nee, maar jy koester darem jou eie persoonlike adder liefdevol aan jou boesem,” brom sy boos. Dis ‘n ou-ou kwessie tussen ons; Heidi verstaan nie van Niël nie.

”Lós dit net, Heidi.”

“Ek lós dit, Heather.”  Maar die prettige dag is klaar bederf.

Môre gaan sy ook nie verstaan nie; sy gaan sê ek misbruik haar. En sy gaan waarskynlik reg wees.

Ek sou darem graag net één keer my vingers deur die kwaai man se rooi krulle wou trek.

 

HEIDI SE OUERS WAG ONS angstig in op die kunstig gepakte klippiespaadjie na die swaar voordeur van hul splinternuwe aftreeplek. Binne gloei ruwe klipteëls in goue strepe sonlig waar twee hondjies salig slaap, oor diep banke en ‘n gesellige ronde tafel. Deur groot ruite in donker houtrame kyk jy verder aan, oor die strook fynbos voor die huis, tot onder waar die branders baldadig oor grys rotse opslaan, skitterwit teen die wye blou van die see en die lug.

Ek neem hulle nie kwalik nie: die mense van die omgewing is die afgelope week geteister deur ‘n vagevuur van angs en afwagting en vrees. Etlike eiendomme is verwoes, miljoene rande se skade aangerig aan infrastruktuur, onmeetbare skade aan die natuur in al sy fasette. Genadiglik geen lewensverlies nie. Vandag se opvlamvuur was die laaste stuiptrekking; daar ís nie meer veel oor wat kan brand nie.

Uit die smaakvolle privaatste vertrekkie van die bekoorlike huis sms ek vir Niël. Alles verloop volgens plan; hy is alreeds by sy ouerhuis in die volgende stranddorpie skaars ‘n klipgooi hiervandaan.

Heidi se ouers ontvang my van altyd af soos ‘n eie kind, hierdie naweek is geen uitsondering nie. Praat van kleinsdag af van ons twee as hulle ou twee blommetjies; Heidi en Heather, Heather en Heidi. Tóé was ons onuitstaanbaar bekkig en heeltemal onafskeidbaar; nou’s ons éérs bekkig, dikwels oorhoops, maar steeds deel van mekaar se diepste binnewerke.

Ek stuur my gewete met ‘n streng stem kamer toe.

 

VROEG-VROEG SATERDAGOGGEND MAAK EK verskoning dat ek graag die omgewing ‘n rukkie op my eie wil verken. Natuurlik wil Heidi en haar ouers ‘n bietjie in vrede opvang met mekaar; hulle laat gaan my sonder beswaar.

Niël se sms’e lei my koersvas tot op sy reisdeken in ‘n versteekte hoekie van die pragtige natuurtuin, genadiglik ongeskonde deur die afgelope week se verwoesting. Hy omhels my teer, sy oë brand in myne. Die geliefde adder aan my boesem, dink ek wrang voor ek my gesig oplig na syne.

Heidi verstaan nie van Niël nie. Niemand sal van Niël verstaan nie. Indien iemand sou weet.

 

EK MOES INGESLUIMER HET, knus in my geliefde se arms, met skadu en lig wat speel oor sy gesig en die geur van fynbos en veraf rook op die wind. Iets laat my my ooglede loom lig. Intuïsie? Voorgevoel?

Ek kyk vas in ‘n gepantserde oumensgevreetjie met prominente neusgate en wimperlose kraalogies. Ek gil ‘n groot gil en ek spring ‘n groot spring.

Brand van Vuuren staan en kyk vir my met gevoude arms en uitdrukkinglose gesig. Die ou knewel van gister begin doelgerig aanstap in die rigting van die fynbos wat die grasperk omsoom.

“Ek kom laat hulle altyd hier vry; dis veilig hier. Maar nie heeltemal so privaat soos mense soms dink nie.”

Hy draai op sy hak om; sy stewels knars oor die gruispaadjie. Uitgevang, teleurgesteld … uitgevang, teleurgesteld … sê sy voetstappe vir my.

 

NOG ‘N PRETTIGE DAG IS bederf. Miskien is ek maar net nie vir pret in die wieg
gelê nie.

Dit word in elk geval ‘n onverkwiklike rusie. Waar kom ek aan die man? Hoe’t hy geweet ek is hier? Ensovoorts, ensovoorts.

Het Niël werklik die reg om my bewegings so te bevraagteken? Ek weet wat Heidi se antwoord hierop sou wees.

Ons moet terug; ongemerk het die oggend verby gespoed. En dit vir niks; net ‘n gevry in die bosse, en diepe verleentheid.

Die opmaak is koorsagtig en onbevredigend. Maar toe ons by die hek uitkom na sy motor toe, is sy arm weer om my, my kop in die holte van sy skouer. Ons is gewoond aan die anonimiteit van die stad; ons waaksaamheid het verslap.

Teen sy motor – húlle motor – leun Niël se pragtige donkerkopvrou. Sy glimlag vir my met arseen op haar vol lippe en lig die baba hoër op haar heup.

“Kom, Niël,” sê sy.

En Niël gaan. Sonder om selfs een maal om te kyk.

 

EK HET GEEN KEUSE AS om maar te begin aanstryk na die huis vol gasvryheid tussen die Kaapse fynbos nie. Ek probeer die wind blameer vir die trane in my oë, maar ek bluf myself nie.

Ook nie vir Brand van Vuuren toe hy met sy ellendige slangtaxi langs my stilhou nie.

“Laat weet gou vir Heidi, dan ry jy saam met my veld toe. Ek het nog ‘n paar pofadders wat ek moet gaan los.” Nie ‘n woord oor die ongemaklike posisie waarin hy en sy skilpad my flussies betrap het nie.

Ek klim gedwee in, sms vir Heidi. Nie dat Heidi sal kla nie! Ek kyk nie oor my skouer na die wriemelende sakke agterin die bakkie nie; daar’s mos darem dubbele glas tussen my en die Satanskinders.

Toe die sak teen my enkel roer, vloek ek verskriklik en beland in ‘n warboel van arms en bene skuins teen die stuurwiel en ín Brand se seningtaai linkerarm, terwyl die ander die bakkie wonder bo wonder op die pad hou.

Ek is doodverleë, maar hy kry my nie weer terug in die bakkie voor ek doodseker is al wat ‘n adder is, is veilig agterop nie.

Mooiste is, hy lag nie vir my nie.

Soos te wagte, verseker Heidi se blitsige sms my dis alles in die haak, natúúrlik dink haar ouers nie ek is ongeskik nie. En daar’s sulke lieflike plekkies vir middagete in die omgewing.

Altyd die ewige optimis, my ou pel.

Ons ry verby kilometers op kilometers van troostelose afgebrande veld met swart stokgeraamtes en naakte wit sand tot by ‘n ongeskonde stukkie inheemse oase aan die voet van die berg. Brand skud drie yslike pofadders liefdevol uit hul sakke, terwyl die ryk stem wat vir Heidi – en vir my – so bygebly het, vertel van die noodsaaklike rol van slange in die ekologie, die nut van brande vir die fynbos en die verwoestende invloed van uitheemse indringers wat teen ‘n veel groter spoed en intensiteit brand as die natuurlike veld, en hul saailinge wat binne weke na ‘n brand soos hare op ‘n hond opslaan en gou-gou ‘n ondeurdrigende oerwoud van nuwe jong indringerboompies vorm.

“Dis nóú die tyd om iets te doen, vóór die uitheemse plantegroei kan herstel – en hulle herstel soos blits. As die mense in beheer net minder wil vergadering hou en meer wil dóén!” Vanmôre is sy gesig roetvry en vars; sy blou oë gloei van passie terwyl hy praat, sy hande gesels opgewonde saam.

Op die ou end gaan eet ons op die stoep van ‘n stokou dorpshuisie met ‘n stapel vars brode by die voordeur, stringe tuisgemaakte pasta in die kombuis en ‘n vyeboom langs die agterstoep. In die groentetuin pak ‘n skraal man glansende donkerpers eiervrugte met rustige bewegings in ‘n mandjie. Ons geniet tuisgemaakte platbrood en yskoue witwyn, en doodskoot (héérlik!) vir nagereg, en ons gesels raak nie op nie.

Ek vergeet selfs vir ‘n wyle van Niël se bruinoogbaba waarvan ek nie geweet het nie. En sy beeldskone vrou wat hom nie verstaan nie. Maar van wie ek wel geweet het.

In Brand se pretensielose houthuisie langs die see, wat lyk of hy sommer so uit die bosse kon gegroei het, kom die dag tot ‘n genoeglike einde. En nee, nie in sy bed nie. Wel op sy balkon, met my voete op die reling, ‘n yslike beker onmenslike sterk koffie in die hand, en rustige kitaarklanke in my ore.

Niël se bekommerde en Heidi se ekstatiese sms’e laat ek rustig in my Inbox lê. Laat hulle maar stowe; vir hierdie enkele aand wil ek net wees. G’n verantwoordelikheid, g’n besluite – net wéés.

Daar’s nêrens ‘n adder te siene in my klein paradys nie. Vir die oomblik.

 

SONDAG IS HEIDI SE OUERS EKSTRA goed vir my; ek wonder wat hul dierbare meisiekind hulle als vertel het. Ons lê die oggend lui om op die houtdek terwyl die see sy ewige dreun ver onder ons dreun. Die oom-hulle maak verskoning dat hulle gaste vir middagete genooi het nog voor ons laat weet het ons kom; nuwe vriende wat hul in die maand of twee hier gemaak het. Die gaste bring hul seun en sy gesinnetjie wat onverwags kom kuier het, sommer saam; hoe meer siele, hoe meer vreugde tog? Ons wuif dit lui weg; dit sal nie die eerste geselskap wees waaruit ons stilweg sluip om te gaan stap of lees of slaap as dit ons verveel nie.

Die seun is ‘n aantreklike man met donderblonde hare, broeiende bruin oë en ‘n bekoorlike glimlag; die einste adder aan my boesem. Sy vrou aanvaar onmiddellik die hele ding is so gereël. Vandag vloei die arseen vryelik oor haar lippe en ek neem haar ook nie kwalik nie. Ek het self ‘n woordeskat as ek die dag konsentreer. En vandag konsentreer ek baie hard.

Praat van onverkwiklik!

Na ‘n rukkie kom ons agter ons is nie regtig só verskriklik kwaad vir mekaar nie; ons is albei eintlik net verskriklik kwaad vir Niël. Die verslae ouerpare val in angs terug houtdek toe en gryp terstond na die Sondagwyn. Heidi moet nog net hard skree en op en af spring, verder toon sy reeds al die tekens van ‘n kleuter wat onverwags ‘n yslike present gekry het.

“Jy’t by ‘n ander vrou geslaap terwyl ek ons kind verwag het!” gil Niël se vrou. Marianna is haar naam.

“Jy’t met jou vrou ‘n baba gehad terwyl jy my vertel het dis mý kinders wat jy eendag wil hê!” gil ek. En ons albei se arms gaan outomaties uit na die onskuldige kind wat ons met sy groot Niël-oë sit en aankyk.

Ons is albei onnosel vrouens wat jare verspil het op ‘n bedorwe brokkie met ‘n mooi gesig, hope sex appeal en enkele verdwaalde breinselle. Saam besluit ons dat Mammie en Pappie maar gerus vir Boetie kan terugvat. Dalk kan hulle nog iets beredder. Mammie en Pappie is verpletter. En besig om stadig maar seker kwaad te word, báie kwaad. Dit kan ek sien aan die oom se hoë gelaatskleur en die tannie se lippies wat skilpaddun trek.

Op die ou end ry Heidi met Marianna om haar en die baba se goed te gaan haal; hulle sal sommer saam met ons ry terug stad nie, en daarvandaan reguit na haar ma-hulle toe. Niël is gelukkig as hy ooit weer ‘n oog op sy mooi vrou kan sit. Op mý gaan hy nooit weer sy oë (of sy hande) lê nie.

Dat dit nou ‘n paar sakke vol pofadders moes neem om die skille van my oë te laat val!

Hulle laai my af by Brand se hoë houthuisie in die bosse. Hy’t gewag vir my; hy spring die trappe twee-twee af, sy oë blink en bly.

”My heidemeisie,” sug hy in my hare.

Vuur is absoluut noodsaaklik vir fynbos; dit bring groei en nuwe lewe. En wat is ‘n ou slangetjie af en toe nou tussen geliefdes?