Uit Rapport van 11 Julie 2010
Ilse Salzwedel:
Marié Heese se Die honger reisiger wag op my lessenaar toe ek terugkom van ’n week lange reis deur die Karoo.
Toevallig in die week waarin dit wyd gesneeu het en ek een van die laastes was wat oor die Lootsbergpas gesukkel het voordat dit gesluit is weens sneeu en ys. My reis was op ’n einde. Presies die regte tyd om ’n bundel reis- en kosvertellings te lees, want hoewel my verstand wéét die vakansie is verby, was my lyf nog op reis.
En die reise in Die honger reisiger speel juis af in plekke waarvan ek die meeste name nog net op wêreldkaarte gesien het: Eritrea, langs die Bosporus, Figueras, Port Nouvelle…
Die goue draad wat die vertellings saambind, is die kos wat tydens elke reis geëet is. Heese sluit dan ook elke hoofstuk af met die resepte van die geregte wat sy en haar man, Chris, die meeste op ’n bepaalde avontuur geniet het.
Die etes self vind plaas in uiteenlopende plekke: in ’n agterstraatse kafee in Istanboel met ’n prostituut as (boeiende, hoewel onverstaanbare) tafelgenoot, op ’n bark aan’t vaar op die Kanaal du Midi in Suid-Frankryk of in ’n beskeie agterkamer in Asmara, Eritrea.
Wat is dit van reise wat die mens so bekoor? Dit is Heese se vraag in ’n vertelling oor Tintern Abbey in Wallis. Aan die hand van ’n frase uit Wordsworth se gedig wat hy oor dieselfde plek geskryf het, beantwoord sy dan die vraag: “…here I stand, not only with the sense/ of present pleasure, but with the pleasing thoughts/ that in this moment there is life and food/ for future years.”
“Ek wonder,” skryf sy dan, “is dit nie die een rede hoekom mens reis nie? Sodat jy die mooi, die interessante, die hartroerende dinge kan opgaar?
“Hier, voel ek, moet ek stilstaan en kyk en kyk; soos Boerneef sê, lank en eerbiedig… Vir latenstyd.”
Die honger reisiger laat ’n mens inderdaad stilstaan en kyk na plekke wat jy waarskynlik nie sommer sal besoek nie. Dit laat jou proe aan kos wat jy nie sommer hier te lande sal raakproe nie – ’n woordelikse Babette’s Feast wat werklikheid kan word danksy Heese se goed nagevorsde, praktiese resepte.
En moenie kaviaar en saffraan verwag nie – soos die beskrywing op die stofomslag sê: Hierdie is resepte “sonder saaits”. Die meeste bestanddele sal jy waarskynlik in jou kombuiskas hê (behalwe natuurlik die “gewaarborgde hase” van Frankryk – maar gelukkig werk dié resep net so goed met hoender).
Heese was nog altyd baie vernuftig met woorde, soos met haar onlangs bekroonde The Double Crown: Secret Writings of the Female Pharoah. Sy is bekend om haar kinderboeke en Die uurwerk kantel (1976) tel onder Afrikaans se klassieke werke.
In Die honger reisiger stel Heese ook nie teleur nie. Haar beskrywings laat jou voel jy is dáár, dat jy onder meer self voor die standbeeld van die Fiske-gumma (vis-ouma) in Malmö in Swede staan. Of saam met die verteller die tog soontoe per skeerboot (hydrofoil) meemaak… ’n Tog, skryf Heese, wat sy glad nie aanbeveel nie.
“Dit is iets tussen ’n vliegtuig en ’n veerboot, met die slegste kenmerke van albei. Dit voel soos ’n rit in ’n gesteelde vliegtuig met ’n dronk jeugmisdadiger aan die stuur wat dit nie van die aanloopbaan kan laat opstyg nie, maar wat met dom vasberadenheid gaan aanhou probeer totdat die vlerke afskeur.”
Raak, gevat is haar beskrywings, soos haar beskrywings van die mense wat sy op die reise leer ken.
Lank nadat ek die boek neergesit het, bly my gedagtes nog by Kessete. Dis byna onmoontlik om te dink een mens kon soveel swaarkry in een lewe ervaar soos dié arme man van Asmara in Eritrea.
En dis byna asof ek Marina, die stroewe gids in St. Petersburg wat na “pre-perestroika-tye” hunker, kon hoor.
Ongelukkig was daar met die lees deurentyd ’n baie hinderlike klip in my skoen. Iets wat waarskynlik veronderstel was om ’n ligter, dalk selfs humoristiese trant aan die vertellings te gee, het allesbehalwe vermaak en lees eerder soos dagboekinskrywings: “Spreek af om mekaar daar te kry.”, “Slaap oor in B-en-B in Kilkenny Town, Kilkenny County.”, “Sien ook g’n kleinboer…” of “Los ons tasse en gaan stap ’n ent”.
Ek is jammer dat ek hoegenaamd hierdie irritasie moet uitwys, maar vir my het dit net ’n keer of twee te veel in die boek verskyn om oorgesien te word. Ander lesers kan dit anders ervaar.
Tog, my effense irritasie ten spyt, kan ek Die honger reisiger beslis aanbeveel vir enigiemand wat hou van reis, en van kos. Of wat ’n slag net weer iets nuuts wil ervaar, ’n nuwe resep, ’n nuwe plek, ’n nuwe manier van kyk na mense en plekke.
En met die koue wat oral kloue inslaan, is dié net die boek om ’n bibberdag mee te verwyl.
En op ’n rusbankreis lafenis vir al die sintuie te kry. Vir nou, en vir latenstyd.
Ilse Salzwedel is ’n vryskutjoernalis van Johannesburg.
Chrisanth Rosant:
Reisigers “wil sien hoe dit anderkant lyk, hoe mense dáár leef. In die jare voor die globale McHamburger oral posgevat het, was daar groter merkbare verskille as jy die grens van ’n land oorsteek; kleredrag, kos, musiek was nie oral so eenselwig nie,” skryf Marié Heese.
En voer jou in Die honger reisiger van ’n bark op die Kanaal du Midi in Suid-Frankryk na wat heelparty mense beskou as die agste wonder van die wêreld: die rotskerke van Lalibela in Ethiopië. Hierdie meesleurende bundel reis- en proeverhale wat saamgestel is uit Heese se reisjoernale en resepteleêr word onopgesmuk voorgesit en met humor opgedis.
’n Land se kos openbaar sy geskiedenis, sy karakter, sy wesensaard. Wat jy eet, is intiem verweef met wie jy is. Om vreemdelinge se kos te deel, is om iets van hul menswees te leer ken.
En dit is presies wat Marié en haar sielsgenoot-man, Chris, in hierdie eksotiese bestemmings doen. Hulle proe aan die kos, en die menswees van plekke soos Eritrea waar die mense alles met die regterhand eet.
Elk van die 20 hoofstukke eindig met ’n resep of drie – soms uit ’n verre land, soms by vriende afgebedel.
Agterin die boek is ’n resepregister met voorgeregte, vleisgeregte, visgeregte, groente, slaai, nageregte en “ander” waaronder appelkooskonfyt.
Hierdie is ’n boek vir weer en weer lees. Elke keer ’n bietjie stadiger, al is dit net om die geure in te asem en Heese se beeldspraak te proe.
Een van die eerste disse wat sy op die bark in Suid- Frank-ryk maak is wat haar “ouma sou bestempel het as klipsop. Jy begin met ’n klip en dan gooi jy wat jy bymekaar kan skraap daarby in die pot en kort voor lank het jy lekker sop.”
So lekker soos sy haar resepte aanbied: “Wel, wat ek het is ’n prei. Een van. Maar hy’s enorm. Groot genoeg om mee te kolf in ’n bofbalwedstryd. Ek kerf hom op en braai hom liggies in botter tot deurskynend. Bietjie knoffel daarby, reken ek, is ’n goeie plan. Solank ons net almal sop eet, want op hierdie bark, as die wind waai soos hy nou waai, leef ons in mekaar se asems…”
Die subtitel van die bundel, Reisverhale met resepte, dui daarop dat reis sentraal staan, maar beslis nie onafhanklik van die kos nie. Die resepte in hierdie bundel is almal getoets, “maar jy sal dit in elke geval jou eie maak. Niks is besonder uitheems of besonder lastig om te maak nie. Dis sonder saaits. Kos om met goeie vriende te deel, vir die soort saamwees wat jou verweer teen die wolwe wat, hoe ouer jy word, al hoe meer sielig om die agterdeur tjank. Dis sielskos, trooskos, en veral – kuierkos.”
Soos die kil herfsaand in Istanboel, Turkye, op soek na ’n Turkse restaurant waar die plaaslike mense eet, kom Marié en Chris op ’n kein kafeetjie onder die straatvlak af. Niemand praat Engels nie en daar is nie ’n spyskaart nie. Nie lank nie en Marié raak aan die gesels met een van die sekswerkers (wat vir Chris heeltemal ignoreer) wat daar kom afkoel (of opwarm).
Die Turkse sekswerker praat Turks, Heese Afrikaans. Oor Istanboel skryf Heese dan ook: “Istanbul, het ek nog altyd gedink is ’n vrou met ’n verwonde skoonheid, stormagtige woede, vervlietende sjarme en durende moed.”
In die epilogiese hoofstuk vra sy: “Hoekom reis mens?” En neem ons na ’n oertyd toe ’n stam nie kon oorleef as hulle op een plek sou bly nie.
“Dwaal,” volgens Heese, “is in ons bloed. Die wil om te reis, is in ons gene.”
Chrisanth Rosant werk by Exclusive Books Tygervallei waar sy die Afrikaanse en Afrika-titels bestuur.
Babette le Roux:
Sonder saaits! ’n Lekkerlees bundel reisverhale met heerlike resepte eie aan elke land wat die skryfster en haar man besoek het.
Maar die vertellings is nie net beskrywings van historiese landmerke nie, dit sluit ook kostelike staaltjies oor die mense van daardie lande in.
Met hul reisfilosofie van “nie onnodig geld uitgee op vervoer of verblyf nie, sodat hulle langer kan bly en meer kan doen”, ontdek hulle meer as net besienswaardighede.
Hulle kom uit by die warm menslikheid van elke land. Die vertellings getuig van ’n diep deernis en respek vir elke land, sy inwoners en hul kultuur.
Die skryfster se siening van “om vreemdelinge se kos te deel, is om iets van hulle menswees te leer ken”, bring die leser tot midde-in die hart van elke land wat beskryf word: sy mense.
As jy dié wintervakansie tuis moet bly, laat jou meevoer deur Die honger reisiger.
Babette le Roux is ’n oud-onderwyseres van Pretoria wat tans ’n leesreeks skryf. Sy het al haar hand aan ’n kleuterboek gewaag.
Frances Crous:
Wat ’n belewenis!
’n Baie leersame en beskrywende reisverhaalbundel wat jou meevoer van die suide van Frankryk deur Denemarke, Spanje, Swede, Turkye en die lande in die noordweste van Afrika – Eritrea, Ethiopië, deur Rusland, Amerika, Skotland, Ierland, Wallis, China en ons eie land.
Dit voel of ek die skrywer en haar man persoonlik ken en saam gereis het.
Sy vang die atmosfeer en kultuur, en die leefwyse, die seer en die drome van die mense baie goed vas.
So kan die leser hom vereenselwig met die drome van Kesette Teweldebrhan, en terselfdertyd baie by hom leer. Of van suster Sara en die Eritrese koffieseremonie.
Die reis in Turkye het my laat besef ’n mens het nie altyd taal nodig vir kommunikasie nie, dat jy met jou menswees kan kommunikeer.
En dan Egipte! Die beelde en gode in Egipte! Sy beeld die Egiptiese geskiedenis en leefwyse baie goed uit.
Die heel andersheid van Amerika en die verskillende Europese lande en die Britse state word baie beskrywend uitgewys.
Daar is ook die ete ter ere van Robbie Burns. Hy was ’n digter en sy verjaardag word elke jaar gevier. ’n Instelling wat deur sy vriende begin is. Haar humor is ook oral sigbaar en maak dit aangename leesstof.
Die boek leen hom uit vir die reisende leser, die gewone leser, en kan ook baie leersaam aangewend word selfs in skole en opvoedkundige instellings. Dit is omvattend en bind ’n mens in ’n reis saam met hulle, van die begin tot die einde.
Die resepte lyk heerlik en is verfrissend saamgestel met elke verhaal. Dit gee werklik ’n lus vir reis, en ’n lus vir lekker eet, ook kosse wat vir die leser nie altyd bekend is nie. Dit verseker ’n mens van die heerlikste kuiers en nuwe vriende wat jy hierdeur kan maak.
Frances Crous is onder meer koördineerder van die Suid-Afrikaanse Angs-en-depressiegroep in Worcester en het ’n onophoudelike dors na kennis.
Marietjie du Plessis:
Al klink die titel van Marié Heese se nuutste boek ietwat saai, spreek die veelduidende woord “honger” tot verskillende aspekte van menswees, veral as honger en reis saam genoem word.
Verbande met fisieke honger, sielshonger, ontdekkingshonger en kennishonger word opgeroep. Veraf plekke word besoek en verrassend maklike resepte word gegee wat met ’n betrokke land verbind word.
Interessante vermengings kom voor tussen die eksotiese en die tipies Afrikaanse beelde en taalgebruik. Die Franse mistral word met die “Kaapse sedoos” vergelyk wat “waai vir die vaal hel” terwyl almal ná die fyn Franse geregte “te dik gevreet is vir nagereg”.
Die styl is toeganklik (soms te oordadig) met natuurlik vloeiende gedagtes; ’n skryfstyl wat die “na gedagte” kosmaak (soos op bl. 22) van die skrywer naboots, lei tot amusante vergelykings – soos die nagereg wat so verruklik is dat ’n aristokraat dit as omkoopgeld sou kon gebruik het om die valbyl vry te spring.
Opvallend is die ingekorte sinne wat ’n gevoel van onmiddellikheid aan die vertellings verleen. Historiese feite klink nie oral soos ’n geskiedenishandboek nie, maar word ligvoets aan die leser oorgedra. Moontlik té ligvoets vir ernstige reisigers wat meegevoer wil word deur ongekende reiservarings en nie net van waarnemings en raad aan voornemende reisigers wil lees nie. Die honger reisiger sorg vir ’n andersoortige leesreis. Die aanloklike omslag en die illustrasies soos Salvador Dalí wat Spanje verteenwoordig, is treffend.
Marietjie du Plessis het ’n dok torsgraad in kreatiewe skryfkuns.