Mara Brandt is die dogter van Bavaria Mara, gebore ter see. Sy word groot op die oewer van die Bergriver, in die Sandveld. Een van haar vroegste herinneringe is aan die jettie op Oufontein, wanneer ouma Sannie haar leer tel – bossie ingerygde bokkoms in die hand. Maar Mara se kuiertjies word altyd kortgeknip, sy moet huis toe gaan voor haar pa dreunlyf raak. Want Pa Jacob Brandt is ‘n moeilike man. En sy skadu val ver en donker oor die plaas De Heuwel, alombekend as Weglopersheuwel …
Die verhaal van ‘n Sandveldvrou, lui die subtitel. Maar eintlik is dit die verhaal van miljoene vroue deur die eeue, deur die wêreld heen. Die verhaal wat by Adam en Eva en die ellendige appel begin het – en nog glad nie sy einde bereik het nie.
Dis ‘n besondere boek, ‘n boek wat vergange se dae helder voor die gees roep. Die boek is, net soos E. Kotze se Hoogty, ook ‘n stuk geskiedskrywing; ‘n wonderlike beskrywing van die Sandveld en sy mense, hulle lief en leed en swaarkry, hulle vreugde en vrese en unieke menswees.
Dis die verhaal van vroue wat nie regtig ‘n keuse het nie. En wat dit meestal so aanvaar. Vroue wat onverstaanbaar (vir ons, vandag) lojaal bly aan ‘n man wat dit nie verdien nie, wat konstant onderdanig bly in die uiterste armoede, wat ongelooflik hard werk en weinig dank daarvoor ontvang. Maar tog vroue met hul eie soort krag. En soms hul eie soort wraak.
Die karakter Jacob Brandt is maklik om te haat in hierdie boek. Maar ek sou tog graag ‘n ander kant van hom ook wou sien, ‘n bietjie motivering oor hoekom hy geword het wat hy was. In hierdie opsig het die boek my teleur gestel, gesien teenoor ander uitbeeldings van die patriarg van die ou Afrikaanse families (soos in Roepman, byvoorbeeld), waar hy tog ook liefde vir sy mense gehad het, en opreg geglo het hy doen die beste vir hulle. Die eenkantige tekening van die wrede pa wat almal rondom hom vertrap en absolute onderdanigheid vereis, doen die verhaal skade aan. Na my mening.
As kroniek van ‘n Afrikanerfamilie se wel en wee, as ‘n ode aan die vasbytvermoë, lojaliteit, krag en toewyding van die vrou, slaag Bitter Heuning egter uitmuntend.
Nie ‘n boek om lig te vergeet nie.
Waar kan ek die boek aankoop. Ek bly in Gauteng
Ek stel voor jy kyk op die internetwinkels. Dis nie meer ‘n nuwe boek nie – sal dalk nie meer in gewone boekwinkels wees nie.