Louise Viljoen

Naam: Louise Viljoen

Skuilnaam as jy dit verkies:

Ouderdom: 47

Beroep: Vryskutresensent en -teksversorger

Huwelikstatus: Getroud

Waar woon jy? Jeffreysbaai

Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.) My man en my ma.

In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?

Ek werk al vir jare vryskut vanaf die huis. Ook kom ek selde in die dorp (soms een keer in twee of drie maande) omdat my ma, wat aan demensie ly, by ons bly en voltydse sorg nodig het. Ek is haar alleenversorger. Ek beskou my situasie as uniek omdat ek reeds in ’n groot mate “ingeperk” was.

Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?

My eerste gevoel was verligting omdat dit toe geblyk het dat die regering die situasie ernstig opneem.

Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is?

Dit het surrealisties gevoel, so asof dit half onwerklik was of ’n droom. My lewe het normaal aangegaan, maar buite my huis het die wêreld blykbaar tot stilstand gekom.

Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?

My man het inkopies gaan doen om ons kosvoorraad aan te vul. Ek het normaalweg aangegaan met my vryskutwerk.

Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?

Behalwe dat ek nie kon gaan stap of fietsry het nie, het my lewe geensins verander nie.

Wat was die moeilikste tydens vlak 5?

Ek wou graag met tye gaan stap of fietsry het, maar kon nie. Ek het wel my tuin en langerige oprit opnuut waardeer. Die moeilikste was toe ek eensklaps meer as 90% van my inkomste uit permanente vryskutwerk verloor het.

Wat is vir jou positief tydens vlak 5?

Die feit dat ek reeds gewoond daaraan was om in isolasie van die huis af te werk.

Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?

Baie goed. My ma het van niks gewis nie. My man werk ook vryskut vanaf die huis af, so sy lewe het ook normaal voortgegaan. Behalwe dat ons nie by ons erf kon uitgaan nie, het ons lewe normaal aangegaan.

Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?

Ek was dit te verwagte. Ek het soms gewens dat ek ook kon afsaal soos baie ander landsgenote en Netflix kyk of tuinmaak, maar ek het deurentyd gewerk.

Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?

Die tjoklits wat te gou opgeraak het, haha. My inkomste wat summier weggeval het. Die vryheid om te gaan stap, al was dit net 500 m of so ver.

Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?

Dit het my nie geraak nie. My lewe het soos altyd aangegaan.

Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?

Dit was wel heerlik om nou te kon gaan stap het, sou ek wou. Ek het egter net een keer gaan stap, want ek was net te besig met vryskutwerk. Die idee dat ek dit wel kon doen, as ek sou wou, was egter goud werd.

Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?

Ek was vies vir van die onsinnige opmerkings wat mense op sosiale media gemaak het oor die virus en gepaardgaande situasie.

Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?

Nee, maar ek sou soms gaan stap het.

Het jy tydens vlak 5 geoefen?

Die trapmeule was beskikbaar, maar ek het dit vermy.

Hoe het jy dit gedoen?

Haha, ek het gemaak of ek dit nie raaksien nie.

Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?

Positief. Ek was net jammer oor die donker oggendure wat verlore moes gaan. Ek was van plan om te gaan stap en die tyd te gebruik, maar helaas het ek nie daarby uitgekom nie. Ek moes my aandag by my werk bepaal en nuwe inkomste geleenthede vind.

Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?

Dit het my nie geraak nie. My lewe het normaal voortgegaan.

Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?

Niks spesifieks nie.

Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?

Ek moes apteek toe gaan om my ma se kroniese meds te kry (hulle lewer nie af nie). Op pad dorp toe moes ek deur ’n informele nedersetting ry. Ek was geskok om soos altyd hordes mense te sien wat staan of loop en gesels. Die oorgrote meerderheid sonder maskers. Kinders het maskerloos sokker gespeel, mense het in groepe maskerloos gestaan en gesels, ens. Dit het my vies gemaak omdat ek geen wetstoepasser gesien het wat vir hierdie mense op die gevaar van hulle aksies gewys het nie.

Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?

Regtig baie goed! Ek het intussen plan en raad kon sien wat inkomste aanbetref, al is dit maar drupsgewys. My ma het bakteriële longontsteking in dié tyd gehad maar danksy goeie medikasie kon ek haar regdokter en was dit nie nodig dat sy na ’n hospitaal gaan nie.

Is jy finansieel erg geraak?

Ja, ek het meer as 90% van my permanente inkomste uit vryskutprojekte verloor.

Wat is nou vir jou die moeilikste?

Ons koop in grootmaat inkopies aan in dié tyd. Dit neem my ure om elke liewe dingetjie deeglik te ontsmet voor ek dit in die huis in bring. Ek kan egter nie die kans vat dat my ma die virus deur my of my man se toedoen kry nie. Ek wens egter dit was nie nodig om so baie tyd af te staan daaraan om seker te maak dat alles virusvry is nie.

Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?

Dit het my beslis geleer om innoverend te dink en my dienste meer aggressief te bemark.

Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?

Ja.

Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?

Aanlyn koerante en sosiale media. Ek lees maar daagliks iets daaroor, maar het lankal opgehou om die syfers dop te hou. Soms gaan daar selfs ’n dag of twee verby dat ek nie iets nuuts lees oor die virus nie.

Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?

My dogter en skoonseun woon en werk albei in Johannesburg in een van die sogenaamde virusbrandpunte. Dit is maar stresvol vir ’n ma, want ek is bekommerd oor hulle veiligheid. Gelukkig is albei uiters verantwoordelik en besef die gevaar.

Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?

As ek iets interessants daaroor raaklees, ja, maar ek gaan soek nie vir nuus nie.

Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel?

Nee wat.

Hoekom?

Geen spesifieke rede nie.

Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA  jou?

Ek besef agter elke sterfgeval is daar ’n lewe wat vroegtydig tot ’n einde gekom het en ’n familie wat treur. Gelukkig is niemand wat ek persoonlik ken al deur die virus geraak nie. Dit klink nou gevoelloos, ek weet, maar ek is steeds dankbaar.

Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin?

Ek sou niks anders wou doen nie, behalwe dalk om tog maar op die trapmeule te klim en dalk ’n bietjie beter op my dieet te let. Ek sou ook minder brood gebak en geëet het, haha. Nou het ek beslis ekstra vetjies wat ek sal moet afskud. Ek sou ook ’n dagboek wou hou vir die nageslag.

Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin?

Ek sou alles dieselfde gedoen het.

Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?

Nie persoonlik nie. Nee.

Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?

Nee.