“HOEKOM WAS JY KERSOGGEND SO hartseer?” Al is dit donker, weet ek hoe lyk die oë wat vraend na my opkyk: diepbruin, vraend, bietjie seergemaak. Een of ander tyd sal ek móét antwoord; my stilswye begin grens aan onbeskoftheid.
Dis amper middernag. Oujaarsaaand. Ons sit-lê langs mekaar op die bank met ons kaal voete op die stoepmuurtjie voor ons, ons oë op die donker oseaan, wagtend vir die fakkels wat op verbygaande skepe afgevuur word met die aanbreek van die nuwe jaar.
Haar ma-hulle se kamervenster is reg agter ons, maar dis nie vir my ‘n issue nie. Hier gaan nie vanaand gevry word nie. Hierdie girl is te kosbaar vir casual vryerasies.
Sewe dae leef ek nou al in ‘n lugborrel van vrede en liefdevolle sorg. Maar die oomblik waar die borrel noodgedwonge moet bars, kom met ‘n hengse spoed nader. Ek kan nie aanhou misbruik maak van hierdie mense se goedheid sonder dat hulle ‘n snars van my lewe weet nie.
Dat die oom my nog nie uitgegooi het nie, sê veel vir sy insig en mensekennis. Verkrampte ou boere-omie, het ek daardie eerste aand gedink. En my lelik misgis. Daar skuil ‘n vlymskerp brein onder die blink pankop en ‘n hart so ruim soos die waenhuis op sy plaas in die groot ou borskas.
Toe Belinda Kersoggend op die verlate kuspad na my toe aangehardloop kom met haar musiek dreunend in haar ore en onbegrip en vasberadenheid op haar natgeswete gesiggie, het ek geweet hier maak my lewe ‘n draai. Maar die rigting van die draai kon ek nog nie so lekker kleinkry nie.
Sy’t nie uitgefreak oor ‘n uitgegroeide mansmens wat langs die see staan en grens nie. Sy’t langs my bly staan en haar asem teruggekry en stilgebly tot ek myself min of meer bymekaar gehad het.
‘n Meisie wat weet wanneer om stil te bly, is ‘n kosbare verskynsel.
Dit het niks gekos om my te oorreed om saam te gaan terug huis toe nie. Ek het gesmag na die warmte, die geborgendheid, die lekker kos, die obvious liefde tussen hulle drie.
Niemand het buitengewoon verbaas gelyk toe sy weer met my daar aankom nie. Die oom het woordeloos nog ‘n koppie nader geskuif vir koffie. Die tannie het haar bril afgehaal, haar rekenaar afgesit en terstond die oom begin rondorder – van die honger gaan ek beslis nie hier vergaan nie.
Ek het die spul vuil klere en stink tekkies op my kar se agtersitplek in my arms bymekaargemaak en op my bed in die buitekamer gaan dump, die Volla op die oom se instruksies langs die huis ingetrek en my branderplank stoep toe gedra. Toe het ek langs die oom op die stoep gaan sit en ons het in gemeensame stilte oor die see gestaar met die tweede koppie koffie byderhand.
“Jy’t seker nie klere vir kerk nie, kind?” het die tannie naderhand kom vra, haar arms vol van my gemors.
Ek het my kop verleë geskud, skielik weer bewus daarvan dat ek eintlik inbreuk maak op mense wat ek van g’n kant af ken nie.
“Toemaar, ons luister sommer vandag die radiodiens,” het sy gesê, teruggedraai en die spul vuil klere sistematies vir die wasmasjien begin voer. Ek het nie eens probeer teenstribbel nie; ek wou tog nie regtig nie.
Ek was intens bewus van ‘n reusagtige behoefte om ‘n bietjie gemother te word.
Niemand het gekarring oor waar Belinda my weer gekry het nie, ook nie my ongeskikte vertrek van die oggend opgehaal nie. Natuurlik het sy hulle eenkant vertel van my grensery; hierdie mense het nie geheime vir mekaar nie.
My afgeskakelde selfoon lê al die hele week beskuldigend op my bedkassie waar die tannie hom neergesit het toe hy tussen my spul goed uitval. Ek sien hoe kyk sy vir hom as sy my soggens bederf met koffie in die bed. ‘n Mens kan sien hierdie tante het seuns grootgemaak, sy weet om nie te karring nie, al brand sy hóé.
Langs my wag Belinda op ‘n antwoord. Die eerste fakkel red my hierdie keer. “Kyk!” Ek wys na die eerste ligstippel ver oor die see, toe nog een, nader, en nog een en nog een. ‘n Klein fees van nuut begin. 1 Januarie 2006.
“Gelukkige Nuwejaar, kinders!” roep haar ma-hulle uit die kamer agter ons. Na die hotel se kant toe begin ‘n paar toeters blaas, ‘n motor jaag brullend verby. Dis die somtotaal van die dorpie se naglewe. Maar ek worry nie; ek het als wat ek wil hê. Vir die oomblik.
“Gelukkige Nuwejaar, Bollie.” ‘n Ademlose, eindelose oomblik is sy in my arms, my lippe rus ‘n klein ewigheid op hare. Kophou, Christopher, kophou, moenie verwagtinge skep nie, sy’s te jonk vir jou.
Ek is een-en-twintig. ‘n Deel van my voel vyf en ‘n deel van my voel vyftig. Of honderd.
“Gelukkige Nuwejaar, Stoffeltjie,” sug sy teen my skouer. Ek gaan hierdie lieflike meisiekind seermaak. Haar pa gaan my vrekmaak, en ek sal dit verdien.
Ja, ek noem haar Bollie en sy noem my Stoffeltjie. Soos my ma my noem. Genoem het in beter dae. En dít is die somtotaal van die inligting oor myself wat ek die afgelope week met hierdie gasvrye mense gedeel het, in ‘n simpel poging om ‘n boetie-sussie-verhouding tussen my en hulle kosbare laatlamdogter te vestig. Wat nie gewerk het nie.
Ek is té bewus van haar hier teenaan my. Ek lig my lyf teensinnig van die bank af: “Kom, ons gaan stap gou ‘n draai voor ons kom slaap.” Sy vat my hand vertrouend, soos die aand toe ek met haar by die spin-the-bottle party uit is. Sy vertrou te maklik, ek ys as ek dink hoeveel sy nog moet leer.
Dis laagwater; die see sug rustig om ons voete. Op die horison gaan ‘n skip verby; op die verste duin raas ‘n klomp jonges om ‘n yslike bon-fire. Ons begin stap met ons voete in die ysige Weskuswater, al vinniger soos die briesie kouer word, tot ons laggend hardloop dat die boë water om ons voete staan. Sy’s ‘n flippen goeie atleet, sy sleep gou-gou vermakerig onder my uit. Soms dink ek water is my eintlike habitat, ek hardloop lomp en halfdom in die sand.
Ek het lieflike surf-dae gehad hierdie week. Soms het Belinda saamgegaan, daglank teen ‘n duin gelê en lees en droom terwyl ek agter die branders bly tot ek voel ek is gevries tot in my diepste binnewerke. Soms het ons ander surfers ontmoet; vir ‘n paar uur het die groepe saamgevloei, dan weer vanself geskei. Soms het sy tuis gebly, altyd verlig gelyk as ek terugkom.
Ek dink hulle verwag almal ek gaan weer ‘n disappearing act op hulle trek.
My ego sorg dat ek haar inhaal, atleet of te not. Ek kan die versoeking nie weerstaan nie, ek duik haar plat dat ons skuif oor die klam sand. Meteens is my hande vol van haar meisielyf; die planklyfie wat sy onder oorgroot klere wegsteek skielik vol onverwagse sagte plekkies. Ek soen haar voor ek lekker weet wat ek doen. Haar lippe is sag en sout en oop onder myne. Dit voel soos kleintyd se kondensmelk steel uit Ma se koskas. Verbode. Maar lékker.
“Kom, ons vat ‘n dip!” Ek skil my klere af, ek is gewoond aan- en uittrek op rare plekke, dit pla my nie. Ek storm soos ‘n mal ding die ysige water in, enigiets om net ‘n grip op myself te kry.
Haar lyf glim ‘n oomblik in die spooklig voor sy gillend die vlak water inhardloop na my toe. Ek gryp haar hand, trek haar dieper in, maar meteens is sy bibberend teen my lyf. O Vader tog, ek verdrink, ek verdrink in die ysige water en die meisiekind wat soos ‘n sussie is maar nie regtig nie. Dan maar weer weghardloop. Dis al wat ek die afgelope jaar al doen. Probeer weghol – of wegsurf – van my probleme. Maar hulle haal jou in, boetie, hulle haal jou in.
“Kom, ons gaan vrek van die koue!” Klappertand sukkel ons ons klere oor ons nat lywe aan en hardloop die entjie terug huis toe. Ek dink sy huil, maar ek waag dit nie om te kyk nie. Idioot, idioot, klap my kaal voete op die sypaadjie.
In die kombuis knipper ons oë verbouereerd in die skerp lig, ons kyk half verleë na ons sanderige voete op haar ma se skoon kombuisvloer. Die gemaklikheid tussen ons is uitgewis. Deur my onnoselheid.
“Bollie, ek moet môre ry,” sê ek toe sy my beker koffie aangee. Dae lank oefen ek al die woorde in my kop, en nou kom dit op die simpelste manier denkbaar uit. En op die heel verkeerdste tyd.
“Waarheen?” Net ‘n bietjie té casual vra sy dit.
“Kaap toe. Ek vlieg oormôre terug Jo’burg toe, my ma-hulle land die aand van Perth af.” Ek sluk die koffie kokend af. Daar is nie ‘n maklike manier om dit te sê nie. “Ek los die Volla by my meisie se huis. Valerie.”
Sy roer haar koffie om en om, om en om. “Dan vlieg ek weer af as die varsity begin.” Ek voel laer as brommerbollie.
“Valerie.” Sy rol die naam op haar tong. “Is sy mooi?”
Hoekom moet ek dink hoe lyk my meisie van die afgelope drie jaar? Maar ek moet dink. Of course weet ek sy’s blond met blou oë, maar die uitdrukking in die oë ontwyk my, die trekkie om die mond het vaag geword, die beweging van die hande skimagtig. “Ja, jy kan seker so sê,” antwoord ek vaag.
“Genade, jy kan darem meer entoesiasties klink!” Wil sy nou kom staan en opkom vir Valerie! “Surf sy ook? Hoekom is sy nie saam met jou nie?”
“Nee, sy surf nie, en sy wou nie saamkom nie. Dis nie te lekker tussen ons op die oomblik nie.” Hoe meer ek verduidelik, hoe lamlendiger klink ek.
“Jy beter daardie dooie selfoon van jou gaan aansit, dalk het sy jou lankal in jou peetjie gestuur.” Skielik vreeslik streng; sy voel wragtag vere vir my!
Op varsity dra ek swaar aan my image as die ewige chick magnet, altyd gesweer ek sal nooit windgat raak nie. En hier het ek sowaar aangeneem hierdie meisiekind smaak my. Vermetele bobbejaan wat ek is. Kom hier aangesit met my lendelam kar en gehawende surfboard, eet die mense se kos op en neem aan die girl van die huis moet vir my val.
“Nag, Stoffeltjie.” Met klem op die verkleinwoord.
Ek sluip buitekamer toe soos die hond wat ek is. Daar maak ek die deur toe en staar lank na die selfoon op die bedkassie. Die ding lê roerloos daar, sy gevreet gee niks weg nie. Ek haal die foto uit my beursie; die laggende gesigte wil my ook nie sê hoe vorentoe nie.
Ek het die foon skaars aangeskakel, toe begin piep hy soos ‘n besetene: Ma, Pa, Valerie, Ma, Valerie, Ma, weer ‘n slag Pa … Valerie, Valerie … Die een verwytende SMS en missed call na die ander.
TOE EK EN MY HOOFPYN laatoggend die woonkamer instrompel ná ‘n nag vol angs en spoke, toe wag hulle vir my. Skynbaar ‘n rustige gesinnetjie wat kuier om die ontbyttafel, maar ek weet my uur het geslaan.
Vandag is die dag vir derms ryg voor drie amper-vreemdes. Die vooruitsig is angswekkend. Of is dit?
Belinda lyk mooi, glad ‘n bietjie grimering aan. En lus vir baklei. “Hoe lyk dit, hét jy darem nog ‘n meisie?”
Ek gaan sit, steek my hand uit na die vars roosterbrood wat die tannie aangee. “Nee.”
“Wát?” En die oë is sommer vol trane: “Skuus, Stoffeltjie, ek dag ek maak sommer ‘n simpel grappie!”
Ek het naglank gestoei met die gevoel van vernedering, ek het hom vir die oomblik redelik onder beheer. Die pyn wat ek verwag het, het nog nie gekom nie.
Het Valerie my ‘n yslike guns gedoen?
“Kêrel, ek dink jy moet by die begin begin.” Die oom, streng bo-oor die brilletjie.
Die happie brood word dik in my mond. Ek reik soos ‘n drenkeling na die beker tee; die tannie het stilweg ‘n ekstra lepel suiker ingegooi. Die drie gesigte wat ek die afgelope week begin liefkry het, is afwagtend na my gedraai.
“Ek het ‘n tweelingsussie gehad.” My ander helfte.
“Gehad?” Belinda se verskrikte oë is steenbokkiebruin, met digte kort wimpers.
Ek sluk. “Sy’s verlede jaar op Kersdag dood in ‘n kaping.” ‘n Sonbruin meisiehand skuif oor myne. Die tannie se oë raak nat. Niemand praat nie.
“Ek was te lui om saam te ry kafee toe.”
Stilte.
“Haar dood was my skuld.” Ek kon dit nog nooit oor my lippe kry nie. Maar elke dag, elke oomblik brand dit in my hart.
“Kind … “ Die tannie huil openlik bo-oor haar roosterbrood. Die oom maak hewig keelskoon.
“So op veertien, vyftien het ons ons vreeslik geskaam vir die corny enerse name. Christopher en Christelle.” Die herinneringe sal nooit opgebruik raak nie.
“In ons gesin word nie gehuil nie. Kersdag was ‘n helse glips.”
“Trane is gesond, kind, dit reinig die gemoed.” Die tannie skink nog tee.
“My ma praat nie en sy huil nie. Sy wil net wegkom, landuit, asof dit Christelle sal terugbring. My arme pa wil net die vrede bewaar, hy sal teen sy sin Australië toe trek as dit haar sal plesier.”
“Jou hele gesin is uitmekaar geskeur.” Ek kon dit nog nooit vir myself so formuleer nie.
“Valerie het verwag ek moet ná ‘n paar maande daaroor wees. Sy’t geduld verloor met my buie, my aanhoudende praatjies oor Christelle.”
“Sy’t dalk lankal bedreig gevoel deur die spesiale band tussen julle.” Sy het, ja.
“Het sy ook geswot? Jou sussie?”
“Ja, Ingenieurs, saam met my op Maties. En my gereeld uitgestof.”
”Hoe het sy gelyk?”
“Nes ek, net baie mooier.” Skewe glimlag vir my powere grappie. Ek staan op om die foto te gaan haal. Ons twee op Jeffreys se strand, hare verwaaid, oë laggend geskreef teen die son, elk met sy surfboard in die arm. “Sy’t gesurf ook. Sy’t die lewe oophand aangepak.”
“Jy moet verskriklik alleen wees sonder haar.” Ek dog Belinda is ‘n immature, hoewel dierbare, tienerkind. Maar almal weet wat Dog als oorgekom het.
“Jy het eintlik jou ma ook verloor.” Die tannie blaas haar neus in ‘n stuk kombuishanddoek.
“Kêrel, jou pa sal sy voet moet dwars sit.” Natuurlik die oom.
“Jy sal moet bel, Christopher, vir Valerie en jou ouers.” Belinda.
“Ek het reeds vannag met Valerie gepraat. Sy’t hierdie ou ontmoet wat nog nooit naby ‘n surfboard gekom het nie. En wat g’n susters het waaroor hy hangups kan hê nie.”
“Is jy hartseer?”
Ek dink. Is ek hartseer? Ja, ons was drie jaar saam. Dooptyd ontmoet, dadelik verlief gewees. Maar eintlik was dit lankal verby. Ek het net nie kans gesien om nog iemand te verloor nie.
“Net ‘n bietjie.”
“Jy sal jou ouers moet bel, seun.”
“Ja, oom.”
Toe ek terugkom, is die ontbyttafel opgeruim, alles lyk vreeslik normaal. Die tannie het agter haar rekenaar ingeskuif, die oom is besig met ‘n blokraaisel, Belinda leun teen sy bene met ‘n Huisgenoot met een van die tannie se vorige stories.
Maar hulle wag eintlik vir my.
“My ma-hulle sê groete. En dankie dat julle so goed is vir my.”
“Enige Christenmens se plig,” brom die oom. Dierbare ou knorpot, ek skrik hom lankal nie meer nie.
“My ma haat Australië. Sy sê die mense is arrogant, die spoedbeperking belaglik en die vlieë iets verskrikliks. Sy sê die meeste expats verlang hulle half dood, al ontken hulle dit hóé.”
“My pa sê hy’t sy voet dwars gesit, sy gaan onmiddellik ‘n terapeut begin sien vir roubegeleiding.” Goedkeurende knik van die oom.
“Hulle vra of Belinda nie wil saamkom vir ‘n paar dae nie.” Op hierdie oomblik begeer ek niks meer as juis dit nie.
“Nee magtag, kêrel, dis darem eens te erg! Sy ken jou skaars!” Natuurlik is hy heilig op sy laatlam.
“Wag, Pappie, ons kan dit later rustig bespreek.” Pappie het nie ‘n káns nie, my saak is klaar gewen.
Ek steek my hand na Belinda uit. “Kom, ons gaan loop ‘n ent.” Soos altyd, plaas sy haar hand vertrouend in myne. Maar ek weet nou van die verborge krag agter die dogtertjievoorkoms.
“Ek gaan haal gou my MP3-speler. Daar’s iets wat ek vir jou wil speel.” Dansmusiek waarna sy luister, iets waaraan ek nie veel erg het nie.
Sy vroetel met die knoppies, druk die oorstukkie in my oor. Ons stap straataf in die sonskyn. Die musiek begin nie met die gewone donderende ritme nie. Ek luister verstom. Dis so goed soos my suster wat uit die ander, beter lewe met my praat:
Babe jy huil want jy verstaan nie
Jy dink alles is verby
Maar ek’s nie in ‘n kis in die grond nie
en Liewe Jesus sorg vir my
Hoe dit gebeur het maak nie saak nie
Ek’s jou engel ek kyk na jou …
Sou jy kon keer wat met my gebeur het as jy by was
Sou dit die trane op jou wang dalk net kon wegvat …
Jy verstaan nie hoe dit voel nie
Om hier voor jou te kan staan
Maar ek mag nie met jou praat nie
Want ek praat nou ‘n ander taal … probeer verstaan …
Ek sien my suster glimlag in die son, haar blonde hare nat slierte oor haar gesig, haar arms om die twee goed wat sy die liefste gehad het: haar broer en haar surfboard.
Ek draai blindelings om huis toe. Ek sit lank op die bed in die buitekamer, luister die liedjie oor en oor en oor. Belinda kom sit later stil langs my. Hierdie keer probeer ek nie my trane wegsteek nie.
“My pa sê ek kan met liefde saam met jou huis toe gaan. Hy sê julle klomp kort ‘n normale mens om julle bietjie reg te ruk.” Geweet die tannie sal hom gou-gou regsien.
“Kom, ons gaan sê dankie vir jou pa.” Ek steek my hand vertrouend na haar uit.
* Ek’s nog hier van Nicholis Louw se CD My hart is aan die brand.
ai…ek moes net keer of ek tjank saam. DIs darem verskriklik mooi geskryf!