Klein klippie ver gooi

Klein klippie was my tweede romanse en het in 2007 verskyn:

Die een oomblik lê en sweet Rochelle nog tandeknersend in haar eie erf langs haar eie swembad in die skroeiende somerson; die volgende oomblik vlieg daar ‘n man oor die heining, land so hittete bo-op haar en begin brul summier op haar en haar irriterende hond.

“Lós!  Verdomde brak, los my voël!”  Hy kry vir Keiser aan die halsband beet en gee hom ‘n pluk wat vir Rochelle amper loshande uit haar losgemaakte bikini-top laat spring.

Maar dis nie bloot die groot skrik vir die onverwagse besoeker wat haar amper haar kleintongetjie laat insluk nie; ook nie heilige verontwaardiging omdat hy haar beste vriend vals beskuldig nie.  Nee, dis die woord voël wat haar soos ‘n sweepslag tref en soos ‘n vlakhaas laat spring.  Want soos ander mense vir spinnekoppe of slange skirk, so skrik Rochelle vir voëls.  En sy haat hierdie fobie van haar.  Daarby weet sy ook sy is, soos baie van haar mede-sterwelinge, geneig om onredelik kwaad te raak as sy baie groot skrik.  Hiermee het sy nie veel van ‘n probleem nie, behalwe dat dit deesdae alte maklik gebeur.

Aangedryf deur irrasionele vrees en ‘n goeie skoot woede land sy dus reg voor Superman.  Dié een is sonder ‘n kleefpakkie en mantel, net in sy kortbroek – selfs Superman kry vandag warm.  Sy protesteer verontwaardig, terwyl sy met een hand die swaaiende toppie oor haar bates probeer kry en die ander hand se voorvinger feitlik in sy oog sou gedruk het as hy nie so vervlaks lank was nie:  “Keiser het jou niks gemaak nie!”

Dis nou nie eintlik dat sy deur vuur sal gaan om Keiser se eer te beskerm nie; dis net dat die aanslag darem te fel en onverwags op haar neergedaal  het.  Die feit dat sy in ‘n ietwat harige en deeglik gespierde borskas vaskyk en haar kop behoorlik agteroor moet gooi om by Superman se aantreklike bakkies uit te kom, help ook nie veel om haar bui te verbeter nie.

Van lang, mooi mans het sy in haar lewe netmooi genoeg gehad.  As sy haar ooit weer met ‘n mansmens ophou, moet hy skreeulelik, skatryk en plat op die aarde wees, dit het sy haar vas voorgeneem.

Voor haar verdwaasde oë sit haar verraderlike Duitse herdershond ‘n klein, groen voëltjie ewe verleë op die gras voor hulle neer.  ‘n Dóóie, klein, groen voëltjie.

Dankie tog.  Want sy is seker ‘n léwendige klein, groen voëltjie sou vir haar ‘n groter bedreiging ingehou het; Rochelle verkies in die algemeen dooie voëltjies bo lewendige voëltjies.  Dis nie dat sy ‘n wreedaardige persoon is nie, dis net dat dooie voëltjies merkwaardig minder geneig is om in ‘n mens se gesig vas te vlieg en jou sommer in die algemeen die skrik op die lyf te jaag.

Boetie Frederik se vervloekte hok vol reusagtige, vet, koerende, fladderende duiwe het destyds

deeglik daarin geslaag om haar vir ewig te verskrik.

“Niks gemaak nie?!  Lyk dit vir jou na niks?!”  Die yslike man tel die slap, groen dingetjie versigtig in sy groot hand op, raak met die ander groot klou veerlig en eerbiedig daaraan, hou dit teen sy gesig, blaas liggies daarop.  “Hy’s dood! Arme ou Hompie is waaragtig dood; ek is sommer lus en dagvaar jou!  Kan jy nie jou hond onder beheer hou nie?”

Rochelle het darem intussen alles weer mooi gerangskik en haar toppie met bewende vingers vasgesukkel.  “Meneer, hierdie grote hond is die onskadelikste dier wat jy jou kan voorstel.  En hy is in sy eie erf; dis jy en jou vervlakste voël wat rondfoeter waar julle nie hoort nie!”

So onder die praat draai sy haar sarong vinnig om haar heupe.  ‘n Mens het nie baie oortuigingskrag as jy driekwart kaal met so ‘n ongeskikte skepsel moet begin redeneer nie.  Nou’s sy ten minste net halfpad kaal.  “Dis jou ellendige voël wat soos ‘n klip voor Keiser kom neerval het!  Wat verwag jy moes hy doen – kunsmatige asemhaling toepas?”  Dis ‘n skoot in die donker; sy het nie die vaagste benul hoe het die voël in haar erf en binne Keiser se bereik beland nie.

Die man kry ‘n effense kleurtjie, begin nou seker besef hy is eintlik die aap in hierdie verhaal.  “Jammer, man, dis net dat ek baie erg was oor ou Hompie.”  Met een vinnige trap op die ingeboude blombak met rooi malvas is hy terug oor die heining.  En dis nie ‘n lae heining nie.

Rochelle bly ietwat verslae op haar stukkie grasperk staan; dis nie dat sy gewoond is vreemde mans vlieg daagliks oor haar heining en kom ruk haar hond rond nie.  Sy kon haar die petalje maklik verbeel het, so vinnig was alles oor.  Keiser sit en kyk haar met sy gewone verwytende hondeoë aan; anderkant die heining is alles weer doodstil en rustig.  Die swembad lê rimpelloos en blou langs haar; die hitte bewe oor die Boland.  Alles presies soos ‘n paar minute gelede, behalwe vir Keiser se hangore en die enkele groot kaalvoetspoor tussen haar malvas.

‘n Senuweeagtige giggeltjie glip uit haar keel.  Hompie!  Liewe genade, ‘n yslike lummel van ‘n mansmens, en hy raak histeries oor ‘n dingetjie met die naam van Hompie!  Sy hoop net nie daar is nog baie van sy soort waar Hompie vandaan gekom het nie.  Indien wel, hoop sy Keiser maak hulle een-een van die gras af; dan doen hy ook vervlaks iets nuttigs.

Maar wat soek die man in die Matthees se huis?  Sy het hulle ook maar nog net een keer ontmoet voor hulle oorsee is, maar hulle kon darem gesê het as iemand intussen in hul huis kom bly.  Of is hy dalk ‘n waansinnige familielid wat wederregtelik ingetrek het solank hulle oorsee is?  Of ‘n slinkse dief wat onortodokse metodes gebruik om te sien watse skatte potensiële slagoffers in hul agterplase aanhou?

Hy het die persoonlikheid van ‘n buffelbul met ‘n skeelhoofpyn, maar spring kan hy spring, daarmee kan sy nie stry nie.  En heel agter in die ry het hy ook nie gestaan toe looks uitgedeel is nie.

Rochelle sug en maak haar handdoek, leesgoed en sonroom bymekaar.  Simpel idee om in die son te lê as dit so warm is.  Gevaarlike idee ook, veral as ‘n mens begin dink aan gate in die osoonlaag, en dies meer.  En sy’s hoeka so wit soos die spreekwoordelike laken. “Kom, Keiser, nou moet ons maar verder voor die waaier probeer oorleef tot die wind vanmiddag opkom.”   Sy kom nou wel nie met die hond reg nie, maar hy’s darem nog ‘n asem in die huis, soos haar ouma altyd gesê het.  Iemand om mee te praat as die alleenheid jou nou regtig in ‘n wurggreep beet het.

Sy wag elke namiddag gretig op die koms van die wind.  Dis net see-behepte Gautengers wat kerm oor die Kaapse wind; gesoute Bolanders weet die wind is dikwels die enigste skans voor die poorte van die hel se hitte.  En hef aan lê nog voor – in Februarie gee die Suidooster gewoonlik ook bes en die hitte kraai koning oor mens, plant en dier.  Die enigste positiewe ding omtrent Februarie waaraan Rochelle kan dink, is die oorvloed van verleidelike somervrugte.  En in haar huidige gemoedstoestand is dit ook maar ‘n skrale troos.

Daar was nog altyd vir haar iets onbeskryflik sensueel aan sonryp, volronde somervrugte.  Glimmende groen waatlemoene swanger met soetheid en geur, wellustige vye tussen paradyslike blare, knalrooi granate uit haar ouma se outydse dorpstuin, wulps geronde groen en pers druiwekorrels om een-een te koester op jou gretige tong.  Maar Rochelle se sensualiteit het haar verlaat saam met haar toekomsdrome, haar lewenslus en haar humorsin; soos ‘n uitgedorde, vernielde ou wingerdstompie, dis hoe sy haarself nou sien.

Hoe sy haar jaarlikse verlof in hierdie bakoond moet oorleef, weet sy nie.  Hier sit sy ‘n hanetreetjie van die see af en sy is te bankrot om gereeld uit te ry na die koele lafenis toe.  Maar wat is nou in elk geval prettig aan ‘n dag op jou eentjie op een van die Kaapse strande met hul swemmende, vryende, pretmakende menigtes?   En die vervlakste swembad help ook net solank jy binne-in hom is.

Dit kom nou van jou in die skuld steek vir ‘n droom.  En van ‘n impulsiewe keuse maak.  Sy was so in ekstase oor die plek dat sy nie raakgesien het wat ‘n kookpot die groot vensters aan die ooste- en westekant die huis in die somer gaan maak nie.  Daarby het sy natuurlik vorige somers in die vallei in die genade van ‘n lugverkoelde kantoor en laboratorium deurgebring; sy besef nou sy het eintlik nog nooit die Bolandse hitte op volsterkte beleef nie.  En geld vir pienk goed op die dak of spesiale blindings of lugversorging is daar ten ene male nie nou nie.

Rochelle sug diep en swaar terwyl sy in die skemer kombuis ‘n lang glas koue water wegslaan.  Back to the basics; g’n luukses vir haar hierdie vakansie nie.

Eensaamheid en hitte-uitputting, dis haar voorland vir die feestyd.  Vriend en vyand het alreeds die pad gevat na koeler oorde.  Selfs die paar kollegas wat nog tuis is, se uitnodigings was maar floutjies, sonder veel oortuiging.  Families koek mos saam oor die feestyd, al kan hulle mekaar die res van die jaar nie voor hulle oë verdra nie.  Vir enkellopende buitestaanders is daar in vreugdevolle vakansietye maar bitter min genade.

Sy sal in elk geval die slag om sosiaal op haar eie te funksioneer, weer van voor af moet aanleer.  Hopelik is dit soos fietsry of soen; jy vergeet dit nooit heeltemal nie.

Snaaks genoeg, sy soene is nou een ding van Riaan waarna sy nie terugverlang nie.  Om die waarheid te sê, Riaan was nie ‘n watwonderse soener nie.  Maar dis ‘n skrale troos, want Riaan het wel vele ander talente, soos … soos … soos wat?  Soos om haar voor vriende af te kraak?

Hoekom kan sy skielik niks goeds van hom onthou nie?  Haar ma hou koppig aan met praat van die skille wat van haar oë sal afval.  Was sy al die tyd reg?

Rochelle glimlag teer.  Haar ma is áltyd reg.

Sy hou haar linkerhand omhoog, kyk krities na die ringlose, skraal vingers.   Mooi so, ‘n mens kan nie meer veel sien van die wit kringetjie om die ringvinger nie.  Met haar melkwit vel sal dit nog ‘n sessie of twee in die son kos om die bewys van haar ellende van haar ringvinger te verwyder.  Sy hét al oorweeg om bloot op haar maag in die skadu te lê, met net die arme linkerhand in die son, want dit was nog altyd vir haar sinneloos om vrywillig so te lê en braai.  Maar hoe lyk ‘n spierwit uitgebleikte blondine nou met net een sonbruin hand?

As die son uiteindelik Riaan se merk van haar af gebrand het, kan sy dalk begin werk aan die merke aan haar siel.

Hoekom het sy by Riaan so knaend die gevoel gehad sy is nie heeltemal goed genoeg nie?  Mooi, maar nie heeltemal mooi genoeg nie; slim, maar nie heeltemal slim genoeg nie.  En dis nie soos haar ma haar grootgemaak het nie.  In haar ouerhuis was sy altyd reg presies net soos sy is.  Onvervangbaar, sê haar ma-hulle van kleinsaf vir elkeen van hul kinders; heeltemal uniek en volkome onvervangbaar is elkeen van julle vir ons.

Of sy al vervang is, weet sy nie, maar goed genoeg was sy helaas nie vir Riaan nie.

Genade, waar kom die diepe insigte nou vandaan?  Het die man oor die muur haar harsings los kom skud, haar uit haar ellende laat skrik?  Wel, dan sal sy vir hom, Hompie en Keiser ten minste ‘n monument moet oprig.

Sy sal seker moet begin deur vir Superman ‘n nuwe groen voëltjie te soek.  Rochelle ril; die blote gedagte aan ‘n troeteldierwinkel met hokke vol fladderende voëls is genoeg om haar die horries te gee.

Miskien moet sy hierdie somer sommer aandag gee aan haar voëlfobie ook, terwyl sy nou aan die delf is in haar arme verwarde psige.  Haar omstandighede is in elk geval ideaal vir selfondersoek en regstellende aksie.  Geld het sy nie, maar tyd het sy tot haar beskikking, en baie daarvan.  ‘n Volle maand lê braak voor haar en Keiser, die maand waarin sy op haar wittebrood sou wees en Keiser veilig in die hondehotel.  Bankrot, eensaam, verveeld en halfdood van die warmte sal sy moet oorleef tot sy helfte Januarie weer begin werk.  En op die koop toe met ‘n mallerige buurman wie se voël klaarblyklik nie kon vlieg nie, selfs toe daar nog lewe in die lyfie was.   Hoe het Keiser die dingetjie in die hande – of liewer, in die bek – gekry?  Herdershonde is glo veronderstel om slim te wees, maar voëltjies uit die lug uit vang?  Aikôna, dit sal sy nie sommer glo nie.

Van honde weet Rochelle gevaarlik min, en van voëltjies selfs nog minder.  Kanaries is mos geel, dan nie?  Maar oorle Hompie se klein lyfie was helder groen soos ‘n sappige somerwaatlemoen.

Of soos die vlekkies in sy baas se ontstelde bruin oë voor hy weggedraai het uit die son.

Rochelle skil beswaard die rooi bikini van haar af om haar warmgebakte – en warmgeskrikte – lyf onder die stort te gaan lawe.  Wat ‘n vermorsing; die pragstuk van ‘n man het net oë gehad vir die dooie Hompie en die verskrikte Keiser.  Aan haar honeymoon swemkleertjies en wat dit probeer bedek, het hy hom hoegenaamd nie gesteur nie.

Of dink hy ook soos Riaan sy’s te vet?


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s