Ritme van die hart

Ritme van die hart was my derde romanse en het in 2008 verskyn:

“Juffrou Malan, kom asseblief gou na my kantoor toe.”  Selfs oor die blikkerige interkom klink die stem soos heuning.  Of dalk gesmelte sjokolade.  Donker gesmelte sjokolade.

Die kastige asseblief bluf haar nie ‘n oomblik nie.  Dis g’n versoek nie; dis ‘n swak verdoeselde bevel.

Vervlaks of sy sal spring elke keer as die heuningstem kraak oor die interkom.  “Speel gou elkeen vir my vyf toonlere op jul vinnigste deur – maar korrek, gehoor!” sê Dedré Malan vir die vier skurweknie bondeltjies testostoroon wat sy op hulle mammies se aandrang moet leer blokfluit speel, terwyl hulle hoogste missie in die lewe rugby is, en die nuutste rekenaarspeletjie.

Sy klim op die stoel terwyl sy weet hulle kyk na haar bene en druk die knoppie wat om een of ander wonderlike rede omtrent bo teen die plafon geplaas is met haar liniaal se punt.  Aan haar voete klink geen kakafonie van dissonante klanke op nie, net die gewone seunsgeluide van stampe en stote en ‘n onderlangse geproes.

“Toe, speel!” beveel sy van haar verhoogde posisie af terwyl sy wag vir Meneer die Skoolhoof om op haar sein te reageer.  “En hou op na my bene kyk; julle is nog te klein vir sulke verspottigheid.”

Wat net lei tot ‘n verdere geproes en gegiggel.

Sy strek haar liniaalarm terwyl sy wéét haar middellyf word ontbloot deur die gebaar, en druk die rooi knoppie nog ‘n keer.  Lekker lank.

Vervlaks of sy sal begin oumensklere dra net oor vandag se seuntjies belustig gebore word.

“Ja!” blaf die stem onmiddellik.  Geen spoor van enige vorm van soetigheid nou daarin te hore nie.

“Ek is ongelukkig besig met ‘n klas, Meneer.  Ek sal kom sodra die periode verby is.”  Sy het groot moeite om nie die sarkasme deur die onderdanigheid te laat skemer nie.  Sy spring van die wankelrige onderwyserstoel – wat seker ook al meer as sy deel gesien en gehoor het – af en neem weer haar posisie voor die klavier in.

“Ek wil jou nóú spreek, Juffrou, nie wanneer die periode verby is nie.”  Die ongeduld kwalik bedek in die stem.  Daar is definitief nou ‘n geniepsige skeermeslemmetjie onder in die bedrieglike dieptes van die donker sjokolade.

Ek klim sowaar nie weer op daardie stoel nie, dink Dedré en druk ‘n geïrriteerde noot op die klavier, draai skuins na die groepie wat nou fluks oppad is om hul blokfluite as swaarde in te span:  “Goed, kom ons probeer weer!”  Wankelmoedig string die yl nootjies agter die klavier aan.

Wynand, hiervoor gaan ek jou nooit vergewe nie.  Nóóit.

Sy was gewoond om met hoogs begaafde, gemotiveerde hoërskoolmeisies te werk en nou maak sy haar dae om met haasbekkies met skurwe kniekoppe en ma’s wat nie ‘n idee het van hul spruite se beperkings nie.

Sy moet diep asemhaal en ‘n slaggie keel skoonmaak voor sy haar stem kan vertrou:  “Pragtig! Nog ‘n keer!”  Pragtig se voet, maar raas kan sy tog nie die hele tyd nie.

Die deur vlieg oop die oomblik toe die vier fluite vir die eerste keer in weke ‘n paar note in volkome harmonie die troostelose winterlug instuur.  Mensig, maar die man se oë is onbehoorlik blou.

Mensig, maar die man is onredelik befoeterd!

“Juffrou, ek verwag van jou om te reageer op my versoeke.”  Donderweer op die mooi gesig.  Vir wat het hy nie liewer ‘n vervlakste model geword nie?

“Seuns, julle kan maar gaan.  En reguit terug klas toe, hoor!”  Sy’t al baie dinge geleer die afgelope klompie weke.  Een daarvan is dat seuntjies selde van punt A na punt B beweeg sonder om êrens tussenin ‘n jakkalsdraai of twee te gooi.

“Meneer, hierdie seuns se ouers betaal duur vir hulle lesse.  Hulle is geregtig op my onverdeelde aandag vir die volle duur van die lesuur.”  Sy hou haar stem met groot selfbeheersing min of meer reëlmatig. Êrens diep in haar binneste geniet sy al die oordrewe uu-klanke, wat onbeplan perfek meewerk om haar toesprakie net die regte mate van aangeplakte onderdanigheid te gee.

Die oomblik toe die kinders by die deur uit is, is dit of Dewald van Huyssteen se ruggraat skielik slap raak.  Hy sak met ‘n sug op die wankelrige onderwyserstoel neer; sy oë kyk teen haar Kurt Cobain plakkaat vas sonder om enigiets van die waaiende bos blonde hare, die sexy stoppelbaard, die kitaar hoog bo die kop gelig of die algehele wanhoop op die mooi gesig raak te sien.

Dedré sit penorent op die klavierstoeltjie.  Sy dwing haar hande stil in haar skoot, hou haar oë vasberade gevestig op die rumoerige plakkaat van die Red Hot Chilli Peppers teen die oorkantste muur.  Vervlaks of sy hom sal jammer kry.  Sy kry haarself heeltemal jammer genoeg.

Die stilte rek tussen hulle.  Sy weerstaan die versoeking om van pure senuwees te begin babbel met aansienlike moeite.

Toe hy eindelik praat, verras hy haar.  Soos gewoonlik.  “Ek vind dit onprofessioneel dat jy jou klas se mure beplak met rocksterre, daggarokers, dwelmslawe.  Ek dink nie dis gepas in ‘n laerskool nie.  Of in enige skool nie.”  Die ellendeling het baie meer raakgesien as wat sy kon raai.

“Hierdie daggarokers en dwelmslawe is of was toevallig ook geniale musikante.”  Sy sal haar nie in ‘n argument laat betrek nie.  Sy sal nie; sy sál nie.

“Dit regverdig nie hulle leefwyse nie.”

“Daar is vir kinders heelwat te leer uit die nederlae én oorwinnings van hierdie mense.  Onder andere ook oor die ontsettende lyding wat dwelms veroorsaak.”

Waar kom die man aan sy kennis van ouens soos Cobain en Anthony Kiedis van die Peppers?  ‘n Regte dark horse, hy.  Saam met haar as nuweling aan die begin van die kwartaal by die skool aangekom; rits kwalifikasies, ooglopend briljante brein.  Gesig en lyf wat oud en jonk se monde laat water, maar o genade tog – die humeur!  Bewaar jou siel as jy aan sy verkeerde kant beland.  En sy het ‘n onteenseglike talent presies daarvoor.

Die personeel het hom leer ken as ‘n dinamiese leier, ‘n begaafde spreker.  Maar wat bo en behalwe onderwyssake in daardie harspan aangaan, weet g’n mens nie.  Nie kind of kraai het saam met hom hier aangeland nie.  Was glo tien jaar landuit, skoolgehou in Londen en waar nog oral.  Of hy êrens ‘n geliefde agtergelaat het, weet niemand nie.

“Was daar enige klagtes oor my plakkate?  Enige ouers wat voel ek is ‘n verderflike invloed op hul kinders?”  Sy sal haar kop op ‘n blok sit daar was niks.  Sy vind die plakkate skep ‘n aanknopingspunt met die ouer leerders, ‘n geleentheid vir gesprek oor allerhande dinge van musiek tot by sedeloosheid.

“Nee, daar was nie klagtes nie.”  Hy staan stadig op.  Hoekom is die man se skerp blou oë partykeer so dof, so asof hy iets sien waarvan gewone sterflinge niks weet nie?

Met sy hand op die deurknop draai hy om:  “O ja, Juffrou, wat ek eintlik wou sê is dat jy vir ons ‘n uitstappie met die graad 7’s na die SALT moet reël, asseblief.  Ons sal maar mevrou Swart se bykomende pligte onder die personeel moet verdeel; die aflos gaan nie die mas opkom nie.”

En weg is hy.  Terwyl sy soos ‘n vis op droë grond staan en gaap.  Wat de joos is salt?  Wie?

Definitief nie ‘n komponis óf ‘n rockgroep nie.  Van musiek kan min mense haar iets vertel.  In haar vakgebied voel sy veilig.  Maar hierdie vervlakste man is daarop uit om haar uit haar gemaksone te ruk.

Hy besef maar net nie dat haar gemaksone in elk geval lankal uit haar gesigsveld verdwyn het nie.

Toe die klok lui, glip sy gou uit om te kyk of sy haar buurvrou tydens die klaswisseling vinnig in die kan hande kry.  Soos gewoonlik kyk sy met verwondering na die mengelmoes van seuns en meisies wat tussen klasse beweeg.  Dit lyk altyd vir haar of hierdie skool tussen sy mure genoeg onderdrukte energie huisves om ‘n atoombom te bou – soos die klomp darem kan rumoer!

Ai, waar is die rustige, serene dae by die privaat hoërskool vir meisies waar sy klas gegee het, lank gelede, toe die lewe nog mooi en Wynand Mouton nog die son, maan en sterre in haar uitspansel was.  Moeiteloos herroep sy die glashelder winters van die binneland, die vurige donderstorms in die somer, die dinamiek van die grootstad.  Die Kaap voel vir haar beknop, met te veel malse plantegroei; die klam koue dring tot in haar siel se seerste hoekie.

“En toe, Buurvrou, waaraan het jy ons pragtige baas se besoek te danke?”  Louise Muller se rosige gesiggie duik op tussen die woelende lywe wat die gang vul met lewe en dreigende chaos.  Dit voel vir Dedré of sy hier permanent op die rand van chaos is, asof elke situasie binne ‘n oogwenk buite haar beheer kan spiraal.

Is sy dan regtig so ‘n beheervraat?  Iemand wat glad nie buite haar kassie kan funksioneer nie?

“Louise – salt!  Wat op aarde is salt?” fluister sy dringend, terwyl sy met die oë vir haar volgende leerder beduie om solank in te gaan.

Pure pret glinster in Louise se stout groen oë. “Ag nee man, het die Engelse taal julle dan nog nie agter die boereworsgordyn bereik nie?  Sout, Suster, sóút!”  En daarmee verdwyn Louise se kortgeknipte voskoppie tussen die menigte wat onder groot gedruis besig is om haar klas te vul.

Dedré draai moedeloos om na haar klas.  Onbekwaam, dis hoe sy voel.  Onbekwaam en verleë.  Dis hoe sy omtent op permanente basis voel van sy hier aangekom het.  Dis hoogtyd dat sy haar voete begin vind. Die goue Kaapse herfs het al opgelos in eindelose grys reëndae, haar kollegas se vae gesigte het al vir haar individue met hul eie geite en geraamtes geword, maar steeds voel sy die meeste van die tyd soos ‘n verskrikte vissie wat die dam misgespring het.

En terwyl sy magteloos rondflap op droë grond, sal Dewald van Huyssteen nie ‘n hand uitsteek om haar in die regte rigting aan te help nie.  O nee, hy kyk veel eerder waar hy nog ‘n klip in die pad van haar arme verskeurde vinne kan rol.

Soos met hierdie ellendige salt-besigheid.  Sal dit regtig iets met sout uit te waai hê?

Sy het ‘n vermoede baie sakke sout wag in hierdie nuwe lewe vir haar om moeisaam afgewurg te word.  Maar tot dusver het dit meer soos klippe kou gevoel.

Eindelik – pouse.  Dedré wonder of kinders ooit die vaagste idee het hoe bly onderwysers ook maar is wanneer pouse aanbreek.  Die personeelkamer lê soos ‘n rustige eiland in die stormsee van energiebelaaide kinderlywe.  Ten minste solank Dewald van Huyssteen in sy kantoor bly.  Stap hy by enige vertrek in, is daar onmiddellik ‘n ander vibe, ‘n onrustigheid, ‘n roering.

Of ‘n mens van hom hou of nie, hy is nie ‘n man wat ongemerk deur die lewe gaan nie.  Jy sien hom raak – of jy nou wil of nie.

En sy wil vervlaks nie.

“En toe, hoe gaan dit met jou en jou sakke sout?” vra Louise onmiddellik toe Dedré met haar koppie tee langs haar kom neersak.  En hierdie keer nie met ‘n diskrete fluisterstem nie, maar kliphard ten aanhore van die ganse personeel.  “Of moet ek liewer vra, met jou en die Engelse taal?”

Dedré het Louise gedurende daardie eerste aaklige week al geïdentifiseer as ‘n potensiële vriendin, maar oorweeg dit nou om haar summier van die lysie te verwyder.  “Sjuut man,” probeer sy gedemp haar eer red.  “Ek voel al klaar so ‘n yslike gek!  Help my liewer!”

Louise skuif gemaklik reg om ‘n bietjie te ontspan, wat in hierdie geval behels dat sy haar twee klein voetjies in die yslike stewels ewe rustig oor die hoek van die lae teetafeltjie rangskik.  “Nou toe, vertel dan eers presies wat ons mooie skoolhoof jou nou eintlik van sout kom leer het?  Ek moet sê, ek sal nie omgee om ‘n sakkie of twee saam met hom op te eet nie – in privaatheid, natuurlik!”  Sy steur haar bloedweinig aan die berispende blik van juffrou Loots, die senior dame en selfaangestelde sedebewaker van die personeel.  Natuurlik is almal nou die ene ore.

“Hy het gesê ek moet ‘n uitstappie na die salt reël vir die graad 7’s, in mevrou Swart se afwesigheid.”  Sy was nog nooit iemand wat vinnig is om kwaad te word nie; sy begin besef nou eers die onredelikheid van sy versoek.  “Vervlaks, as ek dit reg verstaan, is haar spesialisgebied die Wetenskap – waar kom die man daaraan dat ek haar werk moet doen?”  Sy is nou sommer die josie in vir die onbekende mevrou Swart, wat salig by die huis sit met haar splinternuwe tweeling.  Op hierdie oomblik klink dit vir Dedré na ‘n makliker taak as om die skoolhoof se onverstaanbare opdragte uit te voer

“Hy sê haar plaasvervanger kom nie die mas op met al haar pligte nie,” fluister sy vir Louise.  Haar dierbare ouma Deborah het altyd gesê saggies praat is duiwelsraad, maar sy moet dit eenvoudig van haar hart afkry.  Mevrou Swart se plaasvervanger is ‘n beeldskone meisie genaamd Chanelle de Jongh met ‘n ongeëwenaarde vermoë om hulpeloos te lyk.

“Die mas opkom, my voet!”  Louise is nie een vir doekies omdraai nie.  “As sy minder tyd aan mooimaak en wimpers fladder spandeer, sal sy die mas wel deeglik opkom!  Het natuurlik gaan kerm by die baas oor haar danige werklas en nou moet jy die gelag betaal.”

“Sjuut, Louise!”  Dedré voel hoe haar wange warm raak; dis nie hoe haar ma haar geleer het  nie.  Chanelle de Jongh sit lewensgroot en prentjiemooi aan die oorkant van die vertrek, maar gelukkig is sy so besig om oom Japie te bekoor, dat sy hopelik nie die nydige gesprekkie hoor nie.  Oom Japie is die nie-amptelike oupa op die personeel en iemand wat hom alte maklik laat bekoor deur enigiets wat hulpeloos lyk en rok dra.

Hulp kom uiteindelik uit ‘n ander oord.  “SALT, Dedré – South African Large Telescope!”  Vir Johan Ritter het sy gedurende daardie eerste aaklige week al geklassifiseer as ‘n opperste wolf, maar vandag kan sy hom gerus soen.

Die lig gaan stadig op vir Dedré.  Sy was darem nie regtig die afgelope klompie maande op ‘n ander planeet nie, al het Wynand haar kop meestal in die sterre laat rondsweef.  Sy het wel so af en toe vir ‘n wyle teruggekom aarde toe en in die proses soms nuttelose brokkies inligting raakgeloop.  Soos dat die yslike teleskoop ‘n vreeslike prestasie vir Suid-Afrika is en dat dit iewers in die boendoes op ‘n plekkie is waar ‘n ysbeer sal kla oor die koue.  Maar waar?

“Sutherland, Dedré, Sutherland!”  Johan Ritter se blonde hare is sorgvuldig gejel om bekoorlik deurmekaar te lyk; hy beweeg met die selfvertroue van ‘n man wat weet hy word raakgesien.  Sy’s diep en innig dankbaar vir die inligting, maar vir haar informant moet sy maar liewer ligloop.

As sy maar die kwade dag toe sy amper vir Wynand verongeluk het, al oor hierdie wysheid beskik het.  Wynand met die mooi gesig en die gladde mond, wat eers haar hart verower het en haar daarna oorreed het om haar laaste sent in sy waterdigte gou-rykword-plan te belê.

En toe verdwyn het met die geld sowel as die hart.

Op pad terug klas toe haal hy haar van êrens af in.  “Juffrou Malan, sal jy asseblief so gou as moontlik die basiese raamwerk van jou reëlings aan my voorlê?”  Ai, daai stem, daai stem!  En vir wat moet hy ‘n mens altyd van agter af bekruip?

“Ek voel nie dis ‘n regverdige opdrag nie, Meneer.”  Dedré maak in haar agterkop ‘n nota om onmiddellik ‘n paar skoene met ordentlike hakke aan te skaf; dis pure nonsens dat ‘n mens jou nek so agteroor moet knak om net die man in die oë te kan kyk.

“O? En het jy nog nie agtergekom die lewe is glad nie regverdig nie?”  Hy beduie hoflik dat sy voor hom by sy kantoor moet ingaan, maar sy’s nie van plan om haar in die leeukuil te laat inlok nie.

“My leerders wag, Meneer, ek het ongelukkig nie nou die tyd om die onregverdigheid van die lewe te bespreek nie.”

Sy oë is ‘n dieper blou as Johan Ritter s’n, met fyn kraaispoortjies by die hoeke.  Êrens in die onlangse verlede moes hierdie man oor die vaardigheid beskik het om te lag, iets wat sy hom sowaar nog nooit sien doen het nie.

“Is dit werklik jou allesoorheersende pligsbesef wat jou jaag, Juffrou, of is dit dalk jou onvermoë om ‘n uitdaging die hoof te bied?”

“Daar is absoluut niks verkeerd met my vermoë om ‘n uitdaging die hoof te bied nie!  Inteendeel, die blote feit dat ek na amper twee maande nog hier is, behoort vir jou meer as genoeg bewys te wees daarvan!”  Hierdie man het eenvoudig die vermoë om haar verkeerd op te vryf; sy’t haarself nog nooit as ‘n bitsige persoon beskou nie.

Hy maak die deur met ‘n besliste beweging toe.  “Hoekom is jy dan hier as jy nie hier wíl wees nie, Dedré?”  Meteens die toonbeeld van vaderlike besorgdheid.

“Omdat ek nie kon bly waar ek was nie.”  Ag genade tog, gaan sy nou werklik hier aan die grens gaan?  En sy was so trots daarop dat sy haar gisteraand vir ‘n verandering  nie aan die slaap gehuil het nie, gedink vanaand kan sy dalk so ver kom om Wynand se foto minstens om te draai, indien nie te vernietig nie.

“Weghardloop help nie op die lange duur nie.”

Dit weet sy maar alte goed, maar dis nog steeds presies wat sy doen – sy draai om en vlug holderstebolder uit die kantoor van die haatlike man wat van die eerste dag af op haar senuwees werk.

En wie se blou oë soms selfs voor Wynand se beeld in haar kop inskuif.

5 gedagtes oor “Ritme van die hart

    1. O genade, ek dink hulle is al uitverkoop! (Dis wonderlik om te weet Romanza doen nou so goed dat die boeke actually uitverkoop!). As jy soms in ‘n tweedehandse boekwinkel kom, kan jy dalk een opspoor. Of jou plaaslike biblioteek?

      1. Is dit Harrismith waar jy nou werk? Vertel, vertel! (Jy het mos seker my persoonlike epos adres?)

  1. Dankie, jong. Ek sal bietjie kyk… Nie dat ek al tweedehandse boekwinkels in Harrismith opgespoor het nie. As al die lesers is soos ek, sien n tweedehandse boekwinkel nie my boeke nie. Ook nie die biblioteek nie. Want ek hou hulle net vir myself… Vir die herlees… En weer… En weer… Ek het al n hele boekrak vol romanzas…

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s