Ek het hierdie vir ‘n vriendin saamgeflans – sommer ‘n klomp gedagtes wat uit my eie ondervinding spruit.
Ek plaas dit hier ook, vir ingeval iemand anders dit ook vanaand nodig het.
1. Stel vir jou die depressie as ‘n konkrete ding voor. ‘n Nare dier, of ‘n duiwel, of ‘n lelike gedrog met baie grypende arms, of wat ookal. Kry ‘n prentjie in jou kop – soek sommer op die internet.
Dan is dit makliker om jou voor te stel hoe om daarteen te veg.
2. Visualisasie kan ‘n magtige wapen wees. Ek het bv. aangeleer om as ek gedagtes aan die dood kry, ‘n groot rooi STOPTEKEN vir my voor te stel, en daarna ‘n mooi prent uit ‘n goeie herinnering. Oefen dit ‘n bietjie, dit kan werk.
3. Maak vir jou ‘n lys van goed wat jou woema gee. Dinge waarvan jy hou, waarvoor jy ‘n passie het. En ja, ek weet ons eintlik passie is ons kinders, maar nou moet ons ander ook kry. (Dis een van die punte waar my Springsteen beheptheid so baie vir my beteken.)
4. As niks jou roer nie, begin SOEK na iets. Dalk maak jy wonderlike ontdekkings. Die lewe is so vol verrassings. Ek het hierdie week Pinterest ontdek … Kyk ‘n bietjie op die internet.
5. MOENIE, MOENIE, MOENIE in die bed bly lê nie. Dis die heel gevaarlikste ding, daardie magtelose daadloosheid.
6. Eet gesond. Slaai en volkoring goeters. Nie baie koolhidrate nie. Te veel koolhidrate laat ‘n mens moeg voel.
7. Oefen. Enige vorm is goed. Dans met jouself om die kombuistafel as jy alleen is. (Ek oefen op Springsteen DVD’s!) Gaan stap. Strek. Enigiets. Pasop net vir seermaak.
8. Werk aan onrealistiese verwagtinge. Ek is ‘n mens wat die lewe graag VOLMAAK wil hê. Ek ervaar alles baie intens. Ek is gewoonlik hoog of laag, selde in die middel. Ek vermoed jy ook. Werk doelbewus daaraan om die pendulum effens minder wyd te laat swaai, sodat die die hoogtes en die dieptes ‘n bietjie minder intens kan wees.
9. Drink jou pille! As dit nie akkordeer nie, kry ander. Byt vas, al weet ek dis aaklig.
10. Aanvaar NIEMAND anders gaan dit vir jou doen nie. Ons moet SELF vir onsself verantwoordelikheid neem. Nie God, ons mans, ons kinders, ons vriende, ons dokter kan dit regtig vir ons doen as ons nie ook SELF ALLES gee nie.