As die feestyd nie vir jou is nie

Kersfees SAJa, Kersfees het gekom en gegaan. Daar was presente, maar nie almal ewe geslaagd nie. Sommige alreeds vergete of gebreek of dadelik opgeëet (net om later spyt te wees), ander onmiddellik eenkant gesit om nie weer uit te haal nie. Hopelik is daar een of twee wat in die kol was en vir altyd gekoester gaan word.

Die familiekuier het dalk goed begin, maar nou is die samesyn nie meer deurgaans so vreeslik innig nie. Ouma praat steeds aanhoudend oor dieselfde goed, die tieners vry in die duine, die kleuters mors die hele wêreld vol sand en die ma in die huis werk harder as ooit. En natuurlik voel sy niemand sien dit raak nie. (Heel moontlik is sy reg.)

Ons is klaar Kersliedere gesing en Liefde en Vrede kom nie meer heeltemal so maklik nie. Want ons beleef ‘n hittegolf en die blote gedagte aan die elektrisiteitsrekening is genoeg om ‘n mens te laat onthou van al die kos en uiteet en uitstappies en petrolgeld wat ook in Januarie hulle tol gaan eis. Hopelik net Januarie, en nie die res van die jaar nie.

Ag, en die etery! Net die paar begenadigdes wat vanself maer is en altyd maer sal bly, is nog steeds maer (en heimlik lekker vermakerig daaroor). Die res van ons is ‘n ietwat opgeblase, ons voel dik, ons wonder hoekom ons dit elke liewe jaar weer doen, ons drink Enos en suig Rennies en besluit elke aand om die volgende oggend te gaan stap.

Vir die depressievegters onder ons is dit dikwels die heel moeilikste deel van die jaar. Want ons wéét niks is ooit volmaak nie –  maar ons wil dit so graag so hê. Ons weet ons moenie die onmoontlike verwag nie, maar ons doen dit elke jaar weer. Ons weet ons kan self besluit hoeveel ons eet en of ons gaan stap, maar ons faal elke jaar weer. En natuurlik dis die koerante entoesiasties elke feestragedie vir ons op en tel met wrede akkuraatheid die lyke op ons paaie. En soms is daardie lyke nie almal onbekendes nie.

Ek hoop nie almal wat hier lees, is alreeds hul polse (spreekwoordelik!) aan die afknaag nie! Nee, want die goeie en die mooie is ook nog met ons. Familiebande bly familiebande, al skaaf die juk ‘n bietjie. Uitstappies bly kosbare herinneringe, al is petrol duur. Son en see bly lekker, al is die verkeer hoe druk. Kersfees bly ‘n tyd van hoop en verwagting, al is dit net in die kleintjies se oë en nie meer in joune nie.

Ek hoop jy kan êrens in die malligheid ‘n oomblik stil word. Ek kon dit laatnag op ‘n verlate Weskusstrand doen. Ek hoop jy voel êrens vir ‘n oomblik jy is op die dak van die wêreld. Ek kon dit gisteraand op ‘n granietrots by die Taalmonument doen, met die volmaan op my rug en my manne rondom my.
Ek hoop jy kon iets eet wat jy as spesiaal sal onthou. Vir my was dit Sutherland Hotel se boontjiebredie op ‘n familietroue.
Ek hoop jy kon die liefde in aksie sien. Ek kon dit in die oë van twee bruide sien.
Ek hoop daar was oomblikke toe jou hart so vol was, hy wou trane by jou oë uitstoot. Ek beleef dit elke keer as ek besef my oorsese kind is nog steeds die liewe ou kind wat hy altyd was.
Ek hoop daar was geleenthede om te lag tot die trane loop. Vir my was dit toe ek die oggend na Ouboet se aankoms uit die dorp kom en die dubbelbed op sy kop vind, met die twee boetas in die downward facing dog posisie in die oop ruimte. (Handeviervoet, met bene en arms reguit – glad nie gemaklik vir ‘n beginner nie!)
Ek hoop jy kon iets doen wat jy eintlik op jou ouderdom nie meer moet doen nie. Ek kon in die halfdonker (kerm-kerm) teen ‘n rots uit klouter en bo-op ‘n (mislukte) tree posisie inneem met die maan op my rug, kiddies met laserstrale aan my voete en die Kaap se liggies in die verte.
Ek hoop iets gebeur iewers om jou aan die basiese goedheid van die mens te laat glo. Vir my was dit vanoggend my kind wat met die hond terugkom uit die parkie, saam met ‘n bedelaar vir wie hy tuisgemaakte gemmerbier en brood gee en gedagtes wissel oor die toestand in ons land.

En as jy niks van hierdie dinge het nie, stel ek voor jy begin onmiddellik soek.
Want êrens moet daar iets moois wees.

En as jy regtig niks kan kry nie – WEES dan self daardie iets moois.
Gee iemand ‘n drukkie. Glimlag net as jy nie ‘n drukkiemens is nie.
Bak iets en gee dit weg. (Nee, ek is heeltemal te lui vir bak!)
Sit ‘n vrolike prentjie i.p.v. ‘n donderwolk op facebook.
Vertel ‘n grap, lees ‘n boek, soen ‘n baba, stap om die blok.
Streel ‘n kat, sien ‘n sonsopkoms, eet ‘n roomys, SMS iemand.

En wees dankbaar vir wat jy ookal het. Want iewers is altyd iemand wat nog minder as jy het.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s