Junie 13, 2010 at 9:35 vm (Humor, Inspirasie, Random gedagtes) · Wysig
Tags: sokker, vuvuzelas
Lees gerus hieronder Jan-Jan Joubert se rubriek in vandag se Rapport (ek gee dit hier sodat jy nie hoef blootgestel te word aan die klomp negatiewe kommentaar wat hy op Rapport se webwerf gekry het nie!) Van negatiwiteit kry ‘n mens sommer self genoeg, sonder om dit nog te moet soek. Ek maak ‘n paar van my gunstelingsinne bold vir diegene wat net vinnig wil loer.
Hierdie week het darem weer gewys hoe die gewone mense van ons land eintlik baie van mekaar hou, ’n toekoms wil bou en Suid-Afrika wil maak werk.
Ìn die nuus is ons geneig om te konsentreer op ons land se uitskieters en gevaarlike kalante, op die misdadigers, die uitbuiters, diegene wat die beste sing of die sportsterre.
Dis ook reg so, want die nuus gaan om die buitengewone, maar wat ek die meeste van die afgelope week, veral Donderdag en Vrydag, gehou het, was hoe gewone Suid-Afrikaners besluit het om ’n slag die kalklig te betree, en hoe lekker dit was.
Mense, julle moes Vrydag in die Kaapse middestad gewees het. My kollega en ek het die stad ingevaar, want ek wou een van daardie veelkleurige materiaal-keile hê. Nou het ek een, in die kleure van die vlag, met drie sokkerballe bo-op. As ek dit dra, voel ek so belaglik en so gelukkig soos Kaapstad se berugte Eierman van die Groentemarkplein.
Om Vrydag in die stad te wees, was ’n verbysterende en verrassende voorreg.
Suid-Afrikaners van elke ras, stand en alles anders was op straat, besig om hulself baldadig oor te gee aan die vreugde van net wees wie hulle is.
Stewige matriarge het gebult uit noupassende geel sokkerhemde, hul kinders blasend op vuvuzelas. Landsvlae van elke denkbare grootte was oral as versiering te sien. En as jy nie die vlag of die sokkertrui kan bekostig nie, dra jy iets geels. My hart het gebreek vir die hoeveelheid brandarmes wat Shoprite-sakke aan hulself gebind het by gebrek aan alles, behalwe aan gees.
Die gier om ’n vlag aan jou motor vas te maak het hom ook nou van ’n groeiende hoeveelheid Kapenaars meester gemaak. Ek weet die res van die land is ons dit oudergewoonte lankal voor, maar Donderdag het ek een van my goue reëls verbreek. My motor spog ook nou met ’n wapperende vlag aan ’n wit stokkie.
Waar ek woon spog lag-lag ’n kwart van die motors skielik met so ’n vlaggie. Vreemd, nè?
Voorts het ek ’n geel sokkerhemp, ’n serp in die kleure van die landsvlag en ’n rooi vuvuzela?van?verdagte?oorsprong. Dis by ’n straatsmous gekoop, maar die naam van ’n kettingwinkel pryk daarop. Ek vrees dit het iewers van ’n trok afgeval.
Die vuvuzela is ongetwyfeld die irriterendste van die bykomstighede. Een ding het ek nou geleer: Enige weersin wat ’n mens het om te luister na die aaklige geluid van ’n ander se vuvuzela word oortref deur die genot om ’n wonderklank voort te bring uit jou eie vuvuzela.
Probeer dit, dit werk! ’n Mens moet net ’n bietjie oefen. Die geheim is om nie skaam te wees om ’n bietjie te spoeg nie, of om die vuvuzela se tuit om jou hele mond te sit. Trompetspelers sal weet van.
Een probleem vir die nuwe sokkergeesdriftige is die spel. Die reëls lyk redelik eenvoudig, soos hokkie, behalwe dat jy die bal skop. Ek moet beken, ons spelers se name ken ek nog nie almal nie, maar ek dink ons doelwagter, Itumeleng Khune, is inspirerend goed!
Vanjaar se sokker het die potensiaal om die grootste nasiebouer ooit te wees, want dit wys ons wat ons in gemeen het eerder as hoe ons verskil.
Dit vergeet ons so maklik, want die misdaad, korrupsie, diskriminasie en ander verfoeilikhede plaas die klem op wat ons skei.
Daardie dinge gaan nie weggaan of gou verander nie, maar kom ons plaas eerder die klem op wat ons bind.
Gaan kry daardie vlag-serp, dis in elk geval mooi. Sit vir jou motor ’n vlaggie of spieëlsokkies op, al is dit net om te sien hoe jou landgenote skielik vir jou waai of glimlag, en al is dit ’n effense misdaadrisiko, want die goed is heel gesog.
Probeer ’n wedstryd kyk en net drie spelers se name onthou, al is dit moeilik. Les bes: kry ’n vuvuzela en neem wraak op almal wat in jou ore lawaai. Dis baie terapeuties.
Vergeet dus jou besware en neem saam met die res van die gewone mense deel aan die lekker van hier wees, van ons wees.
Anders mis jy dit dalk net!