Eat, pray, love

Ek het myself mos belowe ek gaan nie weer ‘n boek lees en daarna die fliek kyk nie. Wel, ek het toe gister vir Eat, pray, love gaan kyk sonder om die boek te lees. Ek sal seker nou eers die boek in die hande moet kry voor ek kan besluit oor die geslaagdheid van die poging.
Die fliek is vol mooi tonele en mooi mans (en natuurlik Julia Roberts) – sy beweeg immers van New York na Italië na Indië na Bali. Enige vrou kan seker op een of ander stadium van haar lewe identifiseer met die hoofkarakter se behoefte om weg te kom en haarself te vind. Maar selfs sonder die boek as agtergrond kon ek voel hoe oppervlakkig die fliek oor die kwessies skeer. Haar uitbreek en egskeiding aan die begin is byvoorbeeld vir my heeltemal ongemotiveerd en onoortuigend. Ek weet nie of duisende vroue nou na die Ooste gaan stroom vir meditasie nie, maar vir my het dit net oortuig om weg te bly van plekke waar dit so warm is!
‘n Lekker fliek, maar nie een wat ek sal onthou tot in die ouetehuis nie. En ek het van die heel oudste en onaantreklikste manlike karakter die meeste gehou!

Lewer kommentaar