Ek kon dié week op Oudstshoorn by die KKNK die splinternuwe Geur van vergifnis vir die eerste keer in my hand hou, al was dit net vinnig-vinnig by LAPA se uitstalling by Arbeidsgenot, Langenhoven se tuiste. En weer eens was dit ‘n spesiale oomblik. Ja, ek het lankal geweet hoe die voorblad lyk. Maar dis één ding om ‘n foto van die baba te sien, en heeltemal ‘n ander ding om die baba in jou arms te hou …
Soos met die eerste Geur-boek, was ek ook aanvanklik nie heeltemal oortuig deur die voorblad nie. Maar soos die eerste een, het hierdie een ook vinnig op my gegroei. (Ken iemand ‘n mooi Afrikaanse uitdrukking vir It grows on me?) En nou kan ek ook sien hoe die uitgewer besig is om ‘n tipiese Alta Cloete voorblad te skep (wat branding genoem word, as ek dit reg het.) Die voorblad sluit ook mooi aan by die atmosfeer van die eerste Geur-boek, hoewel ek hierdie keer effens angstig is oor die mate waarin die vroulike hoofkarakter versoenbaar is met die sagte voorbladprent.
Mariaan is nie die sagte vroutjie wat almal probeer plesier soos Lana in Geur 1 nie. (En ek stel my nie haar boarmpies so dun voor soos dié van die voorbladmeisie nie!) Mariaan is ‘n raakvatter wat sê wat sy wil sê en doen wat sy wil doen. En sy sê en doen dit nie altyd op die heel mooiste en korrekste manier nie. Die aanhaling onder die titel gee egter die sleutel tot haar ontwikkeling, en tot die relevansie van die sagte voorbladprent: … alles wat hard was binne-in haar, het sag en vreugdevol geword … Dalk is dit maar wat ek probeer sê het met die karakter – dat ek glo elke vrou het ‘n sagte hart binne-in haar, al probeer party van ons dit met mag en mening wegsteek. Elke mens het ‘n weerlose binnekant, almal het geheime vrese en verlangens. En almal kan bitter maklik seergemaak word, al wys ons dit ook nie ewe veel nie.
Die kwessie van die manlike hoofkarakter is nou weer ‘n ander saak … Maar daaroor meer op ‘n volgende keer.
(Lees meer oor Langenhoven en Arbeidsgenot by http://www.cjlangenhoven.co.za/index.php?life=8)