Yvette

  • Ouderdom: 65
  • Beroep: Bibliotekaris
  • Huwelikstatus: Getroud
  • In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?

Dis die eerste keer dat ek en my man heeldag saam by die huis was.

  • Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?

Ek het dit nie eintlik besef nie, ek het my toe nog nie juis aan die nuus gesteur nie.

  •  Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is?

Dit het onwerklik gevoel, ek kon of wou dit nie glo nie.

  • Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?

Voldag gewerk en aankope gedoen en die gym besoek.

  • Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?

Ek was nou voldag tuis. Voorheen het ek voldag gewerk en was na-ure bitter min tuis.

  • Wat was die moeilikste tydens vlak 5?

Om nie te kon sosialiseer nie en te kon oefen nie en rond te ry en winkels buite my dorp te kon besoek nie.

  • Wat is vir jou positief tydens vlak 5?

Ek is geforseer om my tuis besig te hou, met my man ‘n ruimte te deel, my huis te orden, reg te pak. Ek het ook daagliks per Whatsapp-groep met my sibbe, met wie ek gewoonlik min kontak het, gekommunikeer.

  • Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?

My man het ook sosialisering gemis, om sy stokperdjies en sport buite die huis te beoefen. Ek sou sê hy het swakker as ek gevaar.

  • Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?

Ek kon dit nie glo nie, maar daar het tog ‘n mate van gelatenheid by my ingetree.

  • Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?

Om die gimnasium te besoek.

  • Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?

Ek het gereeld soggens gaan stap.

  • Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?

Ek kan nie onthou hoe dit van vlak 5 verskil het nie.

  • Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?

Dat ek nie drank kon koop nie.

  • Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?

Ja

  • Het jy tydens vlak 5 geoefen?

Ja, na 2 weke.

  • Hoe het jy dit gedoen?

Ek het op ‘n stokou oefenfiets begin ry.

  • Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?

Ek het dit as ‘n noodsaaklikheid gesien, maar dit gehaat om soggens vroeg te moet gaan stap. Tog moes ek oefen om my gemoed te help.

  • Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?

Ek was bly dat ek nou enige tyd van die dag kon gaan stap, maar toe het ek nooit weer gaan stap nie! Ek het ook af en toe vir ‘n vriendin gaan kuier of besoek ontvang.

  • Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?

Dat mens meer vryheid kon geniet en alkohol kon koop.

  • Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?

Dat rokers nie wettig sigarette kon koop nie, dat restaurante steeds toe was, dat daar soveel korrupsie met die uitdeel van kospakkies, ens. was. Teen dié tyd was ek goed keelvol vir die regering. En veral was ek woedend dat ek steeds nie my bejaarde moeder in die ouetehuis kon gaan besoek nie.

  • Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?

Ek het twee kwaai dips gevat wat depressie betref, maar is nou okei. Tog is ek moerig oor baie aspekte van die regering se reëls en hantering van die hele pandemie. Ek is taamlik negatief oor die toekoms, dit lyk nie of die wolk ‘n silwer randjie het nie.

  • Is jy finansieel erg geraak?

Nee

  • Wat is nou vir jou die moeilikste?

Dat ek my ma vir 4 maande nie kon sien nie en nou is sy dood. Sy is vir maande weggehou van my, wat gesond was, en toe steek sy Covid-19 aan in die ouetehuis wat haar veilig moes hou.

  • Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?

Dat ek met myself kan saamlewe. En met my man ‘n ruimte kan deel.

  • Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?

Ja

  • Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?

RSG, Die Burger, Rapport, Maroelamedia. Daagliks.

  • Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?

Dit maak my morbied.

  • Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?

Ek het aanvanklik maar ek het opgehou TV – CNN en BBC News kyk.

  • Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel?

Ek volg ‘n paar se statistieke.

  • Hoekom?

Ek stel belang.

  • Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA  jou?

Ek is deur die media voorbereid daarop. Dit sal my meer persoonlik raak as nog mense na aan my sterf.

  • Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin?

Niks nie.

  • Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin?

Alles.

  • Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?

Ja.

  • Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?

Ja