Die skarlakenvrou is eintlik groen

Die skarlakenvrou is eintlik groenDie skarlakenvrou is eintlik groen was my tweede storie wat gepubliseer is na ek die sprong uit ‘n vaste werk gemaak het. Bertha en Carel se storie het in Huisgenoot van 23 September verskyn. Dit was die dae toe ons nog SMS’e gestuur en saans bankvas voor Egoli gesit het en ek gedroom het oor gaan help met oliebesmeerde pikkewyne (waarby ek toe nooit uitgekom het nie).

Maandag:

Ek is die skarlakenvrou; die een wat gesinne opbreek en kindertjies se lewens verwoes.  Darem net een gesin tot dusver, en die kindertjies is altwee al mondig.  En heeltemal per ongeluk; ek het dit eerlikwaar nie bedoel nie.  Nie dat dit my eintlik maak beter voel nie.  Ek is grootgemaak om die vrou van Spreuke 31 te wees, nie die ander vrou  nie.                                                                                                                                                                                      Die Moederstad lê weer vanmôre toegegooi onder haar besoedelingskombers.  Baie mense haat die lente se wind, maar ek dink altyd aan die wyse ou wat gesê het sonder die Kaapse Dokter sou ons almal hier gevrek het van die warmte en die vullis.  So vir my is die eerste roeringe van die lentewind altyd goeie nuus.  Ek kyk trots na my sakdoekgrootte tuintjie en probeer luister watter voëls ek hoor.  Die olyflyster se borrelnote is alweer van vroegoggend af aan die gang; koorsagtig besig om sy gebied af te baken.  By die voerder gaan dit woes: mossies,  vinke, rooiborsduifies, tortelduiwe, kransduiwe.  Ek wonder of die fiskaal al sy stukkie vet kom haal het; hy’s ‘n skugter meneer.  Hulle is almal tuis hier, want g’n krieseltjie gif kom in my klein heiligdom nie.

Dis Maandag; ek moet wikkel.  Die baas raak insecure as ek nog nie sjarmant sit en smile op my plekkie wanneer hy inkom nie. Kan nie een voet voor die ander sit sonder die bekwame Juffrou Malan nie.   Maar die bekwame Juffrou Malan het vanoggend ‘n probleem.  Die probleem het dikbek in die vrykamer (o, ironie!) gaan slaap en nou is ek te bang om te gaan kyk of hy nog daar is en nog dikbek is.  Sal ek vir hom moet koffie vat?  Ek besit nie koffie nie!  Drink hy ooit iets in die oggend?  Ek weet eintlik bitter min van die man.  Net dat ek versot is op hom en dat hy getroud is – ongelukkig nie met mý nie.

Die afgelope winter het hy my knusse wêreldjie op sy kop omgekeer, binneste buite gedraai, voering uitgetorring, de lot.  Bekwame Berthatjie met haar power pakkies het die fontein van die liefde ontdek.  En hét sy gedrink!  Behoorlik gulsig gesuip, ná ag-en-twintig dorre lewensjare.  Maar hy het my behoorlik platvoet gevang toe hy gisteraand hier uitdop met sy koffertjie.  Die ergste het gebeur:  Vroutjie het snuf in die neus gekry, hom vasgekeer en hom (verbaal) gemartel tot hy bieg.  En hom toe netjies die deur gewys.

So daag my minnaar toe op met ‘n erg beskadigde ego, sy skeergoed en ‘n paar onderbroeke, en hy gaan sit dit luiters op my dubbelbed neer.  Dis nou die skeergoed en die onderbroeke.  Op die dubbelbed waarin ek nog altyd alleen geslaap het.  Ja, jy’t reg gelees:  ek het nog nie by Barend geslaap nie.  Of by enigiemand anders nie.  Stom onnosel het ek maar aanhou droom van huweliksklokkies en ‘n wit rok, argaïes soos dit mag klink, selfs deur hierdie magic winter.

Dit het nie juis gehelp dat ek getooi was in nat hare vol conditioner, nat rooi toonnaels met wattetjies tussen die toontjies, en ‘n (nat) avokadomasker op die gesig nie.  Hoe moes ek nou weet ‘n rustige Sondagaandjie tuis gaan die begin wees van die res van my lewe saam met die man van my drome?

Uit die spaarkamer kom meteens ‘n bose gesnork en gesnuif.  Dit word erger en verskuif badkamer toe.  Duidelik die smarte van ‘n man met hooikoors.  Erge hooikoors.  Ek gryp na die ketel.  Behoede my, hier is net kruietee en semelbeskuit.  Ek kan sowaar nie so vroeg al begin leen by Carel langsaan nie.  Hoewel hy al een nag drie-uur deur my venster geklim het vir slaapplek ná hy al sy sleutels in sy kar toegesluit het.  Carel is in elk geval nog groener as ek, en eet so gesond selfs ek kan dit amper nie uitstaan nie. So heel moontlik het hy ook nie koffie nie.   En hy is heel snaaks ná hy Barend eendag by my ontmoet het; het omtrent nog nie weer ‘n woord met my te prate gehad nie.  Hooikoorspille besit ek ook  nie.  Ek besit feitlik geen pille nie.  Ek probeer in harmonie met die natuur leef en ek kry dit nogal soms reg.

Barend kom vat my met daai lekker vat van agter af, snoesel in my nek af na my non-existant cleavage toe:  “Môre, Mooiste Ding!”  Ek is niemand se ding nie, mooi of te not,  maar ek sluk my skerp tong weg en draai om in sy arms vir ‘n volbloedsoen.  Ek kry die skok van my lewe.  My droomman lýk vanmôre sy ses-en-vyftig lewensjare.  Vir die eerste keer besef ek rêrig hy is dubbel so oud soos ek.  Sy oë is poffers, sy neus is rooi en sy stoppels is nie ontwerperstoppels nie; hulle is sommer net stoppels.  Hy het ‘n rugbybroekie en uitgerekte t-hemp aan wat nie ‘n apple shape  vlei nie.  En sokkies.  By die aanskoue van daardie donkerblou kort sokkietjies trek my laaste hormoon haar koppie in haar doppie in en knyp haar ogies toe.   Ek knyp my oë ook toe en steek my kop in sy nek.  Ek wens ek kan lank daar bly, maar dit werk nie.

“Ek hoop jy het die hele nag verlang na my,” sê Barend terwyl hy kasdeure begin oopmaak.  “Nou soek ek ‘n ordentlike skoot kafeïen, waar’s jou koffie?  En maak tog toe die vensters, die lug is vrot van die stuifmeel.”

Ek glo in vars lug vir die breinselle; my plekkie is darem bokant die vieslike smog wat die vlakte so vol lê.  As jy vasberade die uitlaatgasse van die N1 af probeer misruik, kan jy jou amper verbeel die lug hier teen die heuwel is geskik vir menslike gebruik.  Ek maak die vensters toe en bedien heuningtee en my beste gesondheidsbeskuit, vol heilsame saadjies en dingetjies.  Barend grom, maar hy eet.

“Vanaand na werk bring ek my ander goedjies, en dan gaan ons behoorlike kos koop.  Sommer ordentlike toiletpapier ook.”  Sy hande soek-soek na my lyf.  Ek dodge soos Danie Gerber op sy dag.

“Die toiletpapier is van recycled  papier gemaak, ek soek nie ander goed nie!” kry ek my asem terug.  “Jy weet mos ek probeer omgewingsvriendelik lewe, jy moenie kom bodder met my goed nie.”  Ek is knorrig in die oggend, hy moenie kom sukkel nie.  Lief of nie lief nie, ek is nog nie reg vir saambly nie en ek verwoes nie die arme aarde nog verder nie, sy is in haar peetjie genoeg sonder my bydrae.

Maar hoe hanteer ek hierdie tere situasie sonder om Barend te verloor?  Dis die vraag wat die res van die dag in my kop draai.  Dis ‘n lang dag waarin Juffrou Malan nie haar beste vertoning gee as persoonlike assistent van die grootbaas van die Kaap se grootste bemarkingsgroep nie.  En dan bly haar neus ook nog in die koerant by die berigte oor die nuutste olieramp.  Ek is ‘n baas pikkewynwasser; ek was laas met die Treasure-ramp mal daaroor, ná ek die eerste rugpyn en stukkende vingers oorleef het.  Moet vanaand onthou om die TV-nuus te kyk.  As die eerste pikkewyne inkom, moet ek en Carel dáár wees.

Ek kom pootuit by die huis aan, net reg vir my sepie en ‘n lekker glas wortelsap.

My vriende weet hulle bodder nie tussen ses en half sewe met my nie.  Daai halfuurtjie is die mense van die Goudstad mý mense; die ander drie-en-twintig-en-‘n-half is ek almal se maatjie, toeganklik en dierbaar, altyd reg om vir Moeder Aarde te baklei.

Ek is net lekker ingeburger op die bank toe Barend arriveer.  Hy’s moeg en lekker moerig.  “Die vervlakste Liza is sommer net moeilik.  Sy weier om die ding soos ‘n grootmens te bespreek.  Sy het wragtag al my goed gepak en uitgedra.  Ek het nooit besef sy is so ‘n onredelike mens nie.   En die kinders bel die hele dag en trap my uit vir al wat sleg is.  Mens sal sweer hulle is nog kleuters!!”

Hy rook dat die blou dampe staan.  Ek is bevrees vanaand sal die Edwardse maar hulle eie battles moet fight; my kragte word op die tuisfront benodig.  Ek trek hom neer langs my en bied hom solank my sap aan, terwyl ek vir my nog gaan maak (en stilletjies ‘n venster oopmaak.)  Dit word nie waardeer nie.  “Liewe land, Bertha, ek het ‘n dop nodig, nie ‘n spul blessitse groente nie!  Kom ons gaan eet iewers, dié plekkie maak my benoud.”

Ek vat vuur; my dag was ook lank:  “Los uit my plek, ek het nie gesê jy moet kom intrek nie!”  Hiermee is die aand daarmee heen.  Ons gaan eet in bot stilswye by ‘n pragtige plek waar hulle niks weet van free range hoenders of organiese groente nie.  Toe ons eindelik tuis kom, begin die stryd om die dubbelbed weer.  Ek is nie van plan om so ‘n mislike aand my eerste te maak nie.  Barend is gefrustreerd en befoeterd.  Wat ‘n begin vir ‘n lewe saam!  Hy praat aanmekaar van Liza en dit begin so stadig op my senuwees werk.  Lyk my hy verlang na haar.  Sy gebruik minstens ordentlike toiletpapier!

En ek het die vroeë TV-nuus gemis.  Ek hoop nie dit gee weer so ‘n ramp af soos met die Treasure in 2000 nie. Toe was ek ‘n groentjie,  maar nou is ek reg vir aksie.  Dis natuurlik waar ek vir Carel leer ken het.  Dierbare Carel het my voete stewig op die groen pad geplaas.  Ons twee het al baie sakke sout (of besoedeling) saam opgeëet.

Sy stem is op my agtergeblewe selfoon:  “Die eerste oliepikkewyne is op pad.  Ons moet dadelik begin.”  Die res van die aand bring ek op die foon deur om my baas te oortuig ek moet onmiddellik ‘n week verlof kry, en daarna om ‘n plaasvervanger te kry wat nie vir Meneer die horries sal gee nie.

Waar ek gaan of staan, is Barend se klouende hande by.  Ek is so koud soos ‘n klip; vir vry is ek nou  niks lus nie.  Veral nie ná die verrassingsoproep van Barend se dogter uit London nie – duidelik het haar ma haar ingelig oor presies wié die vark in hierdie verhaal is.  En waar kry sy my nommer?  Lig gaan meteens vir my op:  “Barend, het jy my nommer vir jou vrou gegee?!”

Hy’s duidelik skuldig:  “Liza het my selfoon gebruik en die vreemde naam gesien.  Sy’t my in ‘n hoek gehad;  daardie vrou is soos ‘n bulhond, sy los nie waar sy het nie!”

Ek hou nie van my gedagtes nie:  Wat sal ék doen in Liza se skoene?  Of as ek in London sit en my pa trek in die Kaap by ‘n jong flossie in?  Dit word nog ‘n rustelose nag, vol kommer en vrae.

Dinsdag:

Vroegdag is ek leepoog en moeg tussen honderde besmeerde, verbouereerde pikkewyne.  Carel is sowaar nog daar, dwarsdeur die nag gewerk.  En so befoeterd soos tien: “Wat soek daai sugar daddy  van jou se kar dag en nag by jou?”

Ek voel self nie die ene suiker en satyn nie:  “Hy’t kom intrek.  Sy vrou het hom uitgeskop.  Ek het hom nie genooi nie; ek is nie reg daarvoor nie!  Dis aaklig; niks is soos ek gedink het nie.”  En boo-oo huil bekwame Juffrou Malan bo-oor die malende miserabele massa aan haar voete.

Carel is duidelik nie homself nie.  Altyd so soft spoken, maar vanmôre vol duiwels:  “Jy het duidelik glad nie gedink nie, Bertha!  As jy ‘n slag met iets anders as jou hormone begin dink, sal jy sien jy’s in ‘n doodloopstraat.”  Hy druk die buise seepglad in die pikkewyn se keel af:  eers die spesiale dehidrasiemengsel, dan die goed om die olie uit die binnegoed te werk. Dan die inspuiting om die gestel te versterk, dan nog iets vir rehidrasie, dan nog salf in die olie-oë. Eers hierna begin die wasproses, wat twee mense ‘n uur kan besig hou.  Hulle het laas uitgewerk die hele proses van vang, behandel en terugplaas van één pikkewyn kos by die R600.

Carel is so reg ek kan hom nie aanskou nie.  Is dít nou hoe my gewete lyk?  Doodmoeg in sy  besmeerde oorpak, hande vol pleisters en bloedbelope oë?  Ek beter my verwyder voor daardie oë; hulle sien glad te veel raak.

Ek gaan los iemand af by die punt waar die klaargewasde voëls met water onder druk afgespoel word.   Dan gaan hulle na die droogkamer onder infra-rooi ligte.  Hierdie eerste besending is gelukkig nog nie verswak nie;  hulle kan dalk binne ‘n week reg wees vir huis toe gaan.  Die voerdery is weer ‘n ander storie, duidelik nie mý talent nie.  ‘n Pikkewyn, verswak of nie, het  ‘n snawel soos ‘n skeermeslem.  Hulle byt dat hulle bars.

Woensdag:

Ek staan donkernag moeg en huilerig op.  Gisteraand se tuiskoms was ‘n riller.  In plaas van die skuimbad en warm ete wat ek nodig het, was dit net verwyte, verwyte.  Ek gee nie regtig om nie, sy huwelik is op die rotse en ek is nie hier vir hom nie.  Ensovoorts, ensomeer.  Ek sluip uit my eie plek soos ‘n dief in die nag.  Ek kry vir Carel netmooi onder by die garages.  Sy humeur is darem ‘n (klein) bietjie beter:  “Kom ry sommer saam met my, dat ek my oog oor jou kan hou.  Jy nog nie jou outoppie huis toe gestuur nie?”  Ek antwoord nie.  Ek was nog min in my lewe so miserabel.

Ons kom laataand by die huis.  Geen Barend nie.  Die briefie sê net:  Ek het ‘n ete met ‘n belangrike kliënt.  Ek dink ek ken dié belangrike kliënt.  Deur hierdie lieflike winter was haar naam Bertha.  Ek het ‘n idee vanaand is haar naam Liza.

Donderdag:

Carel is ‘n regte rondomderm;  hy karring voort op net een snaar:  “Los die ou man, Bertha!  Jy kan nie jou geluk op ‘n gesin se ongeluk bou nie, jy is te ordentlik daarvoor.”

Ek is moeg en ongelukkig.   En ek háát dit om so ordentlik te wees!  “Maar ek is lief vir hom!”  kerm ek.

Carel se bloedbelope oë kyk reg in myne (netso bloedbelope):  “Het jy hóm lief, of het jy die idéé lief?  Direkteur van ‘n prominente maatskappy,  lang slap motor, lieflike juwele,  romantiese skelm etes, die hele idee dat hy jóú uitgekies het.  Is dit nie maar wat jou gevang het nie?”

Ek wil sommer loop, maar hierdie befoeterde Carel gryp my vas met sy oliehandskoen:  “Ek is nog nie klaar met jou nie!  Waar is jou Barend vandag?  Waar is die donasies van sy maatskappy?  Hoekom kom help hy nie?  Hoekom het hy sommer net aangeneem hy kan kom intrek toe sy vrou hom uitskop?  Hy’t jou nooit gevrá nie, het hy?”

Ek storm daar weg en gaan kry liewers ‘n werkie op die verste punt van Carel en sy bitsige tong af.  Maar in my kop draai en draai sy woorde.

Ons kom laataand gedaan by die huis.  Carel wys betekenisvol na Barend se motor.  “Onthou nou wat ek gesê het, Bertha.”  En weg is hy.

Barend val aan die oomblik toe ek my voet in my eie huis sit:  “Nou het ek genoeg gehad!  Jy los hierdie pikkewyn-betotteldheid net hier!  Ons moet ons toekoms bespreek en jy bly missing in action!”

Ek smeek glad:  “Wees asseblief ‘n bietjie geduldig!  Ons maak goeie vordering;  net ‘n paar dae, dan is die grootste krisis verby.”

“Jy sal moet kies tussen my en jou bleddie pikkewyne!  Ek is keelvol hier rondgesit.  En veral keelvol in die spaarkamer geslaap.”  Hy lyk soos ‘n afgeskeepte klein seuntjie.  Ek gaan klim op sy skoot, en alles kom weer reg.  Tot dit na die dubbelbed se kant toe gaan.

“Kom ons wag net tot alles gesettle het, asseblief Barend.  Alles is nou so deurmekaar.” pleit ek.

“Dis net jy wat deurmekaar is.  Jy is deurmekaar met ‘n verdomde spul voëls!”  Die spaarkamer se deur klap onverbiddelik toe.  Tot my verligting.

Vrydag:

Die ergste krisis is gehanteer.  Meer vrywilligers het ingeval.  Ons kom ‘n bietjie vroeër tuis.  Ek sien dadelik Barend se motor is nie daar nie.  Carel mis niks;  ek sien hoe lig sy wenkbroue, maar hy sprak geen sprook nie.

Barend is weg.  Sak en pak.  Die briefie is kort en kragtig:  Dis duidelik waar jou prioriteite lê, en dis nie by my nie.

Ek huil tot middernag.  Toe vee ek sy nommer van my sel af.  Daarna steek ek die spaarkamer se beddegoed in die wasmasjien.  Dis net ‘n rukkie toe bel Carel:  “Wat de joos gaan met jou aan?  Die gegorrel in jou pype hou my uit die slaap.”

“Ek was die spaarkamer se lakens.  Barend is weg.”  My fut is uit.

Doodse stilte.  En toe:  “O.”  En woep sit hy die foon neer.  Nie een enkele woord van simpatie of ondersteuning nie.  Ek huil sommer weer.  Ek huil lustig voort terwyl ek stelselmatig alle tekens van Barend se kortstondige en rampspoedige verblyf uitwis.  Die olyflyster begin al met sy lied toe ek die beddegoed uithang, reg vir die lentewind.  Ek gaan bad sommer nog ‘n keer in diep skuim en val in my  bed neer toe die son opkom.

Saterdag:

Ek slaap omtrent die hele dag.  Ek ignoreer die telefoon en die deurklokkie.  Ek is te bang dis Barend.  Ek is te bang  dis nie  Carel nie.  Dinge begin vir my stadig duidelik word.  Ek was vier jaar lank vreeslik onnosel.

Sondag:

Vroegoggend begin Carel se SMS’e, en hulle kom feitlik uurliks.  My gunsteling:  I  love  you like a bee loves honey, like a rich bitch loves money,  like Jannie loves Sannie … die lewe sonder jou … sowaar … dit kani!  So gaan dit aan, hoe later hoe kwater.   Waar kom hy aan al die goed?  Maar die boodskap is duidelik:  Hierdie man is lankal lief vir my.   Sot wat ek is!

Toe hy twaalfuur op my deurklokkie kom lê, is ek reg vir hom.  Daar’s nie nog tyd vir hard to get  speel nie; ek het klaar te veel tyd gemors.  Ek pluk die deur so onverwags oop dat hy heerlik in my arms in struikel.  Die bos blomme beland op die vloer, die bottel sjampanje oorleef dit net-net.  Ons bepleisterde hande gryp vanself na mekaar.

Ek is nie meer skarlaken nie; ek is nou net groen en gelukkig.