Die invloed van jou omgewing

Ek stap in ‘n woonbuurt in Leipzig en ek kry ‘n klein glimpsie op die lewe in Oos-Duitsland toe dit nog agter die Muur was. Blok op blok op blok woonstelle en woonstelle en woonstelle … Sommige grys en aaklig en eenders – maar darem leeg en hopelik oppad om herstel te word. Rondom is daar volop voorbeelde van sulke lelike blokke wat darem geverf en meer individueel gemaak is. Ek stap voor al hierdie vensters verby en wonder oor die mense binne-in. Daar is kantgordyne en orgidee in sommige vensters, toegetrekte blindings in ander. Hier en daar is ‘n balkon met pragtige plante of blombakke, maar dis in hierdie buurt die minderheid. Die mense op straat is min – en stil. Hulle stap rustig met hul kinders of honde, maar hulle lyk nie baie gelukkig nie. Hulle roep nie op mekaar of skree vir mekaar gevatte segoed nie … maar hulle lyk ook nie of hul vreeslik lus is om mekaar te beroof en/of te vermoor nie.

Eenderde van die stad bestaan blykbaar uit groen ruimtes. Ek was nou in twee van hulle. Dis groen en stil en mooi, maar half onpersoonlik. Nie juis tuin nie, net die lieflike bome wat waarskynlik vanself daar groei en uitgestrekte stukke gras. Nie ons grasperke wat water vreet en gladgesny moet wees om na iets te lyk nie, sommer net doodgewone gras. Maar erens is gewoonlik ‘n dam met eende en lieflike ou bome wat oor die water leun.

Nou wonder ek of die parke in die tyd van kommunisme ook al hier was? Het die ruimtes die mense by hul sinne gehou? Wat het die sterkste invloed – aaklige, eenvormige behuising of lieflike oop ruimtes?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s