Hasie in die holte

Hasie in die holte het in die Huisgenoot van 27 Oktober 2005 verskyn.

Pasgebore en weerloos is ek veertig jaar gelede opgesaal met die yslike naam Victoria Wilhelmina Fouché. Ja, my kleinseunlose oupa se naam wás Victor Wilhelm Fouché. In die donker dieptes van die twintigste eeu is sulke wreedhede teenoor weerlose babadogtertjies gepleeg, ondenkbaar soos dit vandag mag klink.

Ten spyte van dié vroeë terugslag is ek vandag betreklik normaal: vrolik, vindingryk en fris. Let wel, nie vet nie – fris. ‘n Waardige nasaat van my oorlede oupa; ‘n fris man met ‘n groot hart was hy.

En – anders as wat die brandmaer beeldskones blykbaar glo – het ek ook ‘n hart. ‘n Sagte vrouehart vol geheime en minder geheime behoeftes, begeertes, bekommernisse, bevliegings en behepthede.

Verder het ek ook ‘n passie, ‘n allesoorheersende passie wat ek willens en wetens omarm het die dag toe ek die mansgeslag finaal afgeskryf het.

Dié blye dag was ‘n triestige Vrydag toe ‘n kollega (brandmaer en beeldskoon, natuurlik) in die personeelkamer sit en uitbasuin het hoe lelike meisies kwansuis altyd volop mansvríénde het. Mans bekla dan glo so graag hulle lot by meisies wat vir hulle geen romantiese belofte inhou nie. Maar móói meisies word uitgeneem en mee getrou.

Daar sit ek toe doodstil in my hoekie (heeltemal teen my aard) en tel so ongemerk oor my teekoppie die mans op ons personeel wat al vir my gesê het: “Ou Vicky, jy’s ‘n regte pel.” Gewoonlik met so ‘n gemoedelike kloppie op die skouer. Véértien. En dié wat my al uitgeneem het en/of met my wil/wou trou? Eén. Faantjie Viljoen: nog leliker (ekskuus, minder aantreklik) en vetter (ekskuus, frisser) as ek.

Eina.

En die mans wat genoemde brandmaer, beeldskone kollega vurig weerspreek? Geen! Nul. Zero. Niks.

Nee, hulle sit en kyk almal vir haar met sulke verlepte, belustige oë en knik gedwee met die koppe.

Eina, inderdaad.

Daardie aand het ek voor my spieël gaan staan en my minder aantreklike, fris lyf vir oulaas met haat en nyd bekyk en beoordeel en beledig. Toe het ek in die bed geklim en gehuil tot ek in elk geval nie meer my minder aantreklike, fris self  uit my vernielde twee oë kon sien nie.

Die volgende oggend het ek my gesig gewas en weer eens voor die spieël gaan stelling ingeneem. Ek het na my lyf gekyk en gekyk en wéér gekyk tot ek nie meer die brandmaer, beeldskone ideaal oor my skouer kon sien loer nie. Toe het ek die funksionele, getroue, deurleefde, wonderbaarlik geskape liggaam wat die Vader aan my toevertrou het, plegtig toegespreek: “Lyf, ek vra nederig om verskoning vir my misdade van die verlede. Nou gaan ons twee die lewe begin geniet.”

Van toe af sê ek doelbewus elke dag dankie vir wat ek het. Ek het selfs al geleer om genoemde lyf ‘n bietjie lief te kry. Net ‘n bietjie, maar darem.

In elk geval, terug na my passie.

Na rype oorweging het ek besluit Moeder Aarde sal voortaan die begunstigde wees van die vele talente wat ek het om te bied. Sy verdien dit; sy verduur daagliks ongelooflike mishandeling. Soos my gedienstige ou lyf, murmureer sy maar selde; nee, sy gee en gee maar net. Tot sy op ‘n dag nie meer verder kán nie, en dan skielik ‘n tantrum gooi wat almal met die broek om die knieë betrap. Moeder Aarde se tantrums neem natuurlik die vorm aan van goedjies soos ‘n ou droogtetjie hier, ‘n oorstrominkie daar, ‘n paar nuwe kruipende duine hier, ‘n spesie of drie wat uitsterf hier, daar en oral.

Dit was ses maande gelede. Ses maande waarin ek nie stilgesit het nie. Ek het skoonmaakaksies georganiseer, pleitbriewe oor die aarde se verknorsing aan die pers geskryf, voëltellings help doen, my tuin begin omskakel na inheems en watervriendelik, meer gestap en minder gery, en menige verbouereerde, onbegrypende skepsel op die skouer getik en sy neergesmyte rommel plegtig vir hom teruggegee.

In die proses het ek so besig geraak dat ek skoon vergeet het ek is veertig, fris, minder aantreklik en manloos.

Ek het ook die oewerkonyn ontdek.

Pondhaas, vleihaas, doekvoet, een van die skaarsste soogdiere in die wêreld, in die geselskap van groot geeste soos die swartrenoster en wildehond en jagluiperd. Nog nooit het ek vermoed dat die langoor-sagvoet-diertjies wat in die Karoo dikwels snags in die motorligte vasgevang word, dalk ‘n laaste eensame oorlewende kan wees nie; blykbaar kan ‘n mens aan die stertjie sien wie’s volop vlakhaas en wie’s skaarser-as-skaars oewerkonyn. Nooit eens geweet daar kom wel inheemse konyne in Afrika voor nie. Nooit geweet alle konyne teel nie soos … wel, soos konyne nie.

En nou’s ek op pad om die oewerkonyne te help tel. Nie dat die liewe diertjies in ‘n ry staan om getel te word nie; hulle is blykbaar so skaars soos hoendertande en daarby skugter en naglopend van geaardheid. Die tellery behels dat ‘n linie vrywilligers deur hulle habitat langs nie-standhoudende riviere stap, gewapen met stokke, waarmee teen elke bos geslaan word om die begeerde doekvoetjie op te jaag en te tel. Watter emosionele impak hierdie onsubtiele metode op die arme diere moet hê, weet ek nie. Hoeveel van hulle dan ‘n ent vorentoe wéér uit ‘n bos geboender en ‘n tweede of hoeveelste keer getel word, weet ek ook nie.

Ek het vir die naweek plek bespreek in een van die dromerige Karoodorpie se op-en-top gastehuise. Dis mos darem die lekkerste lekker van alleenloper wees – jou geld is jou eie en jou tyd is jou eie, om aan te wend soos jy, en net jy alleen, lekkerkry.

 

Saterdag boek ek in vir twee luilekker dae voor die Slag van die Konyn Maandag begin. Die kamer is lieflik en die hospita hartlik en die kos heerlik en oorvloedig. My gasvrou lê vir my al die famielieverbande en onderstrominge tussen die lede van die groep uit nog voor ek die mense ontmoet het. Blykbaar is ek die enigste vreemdeling in hulle poorte. Verder is dit plaaslike boervroue, ‘n paar jong latte uit die distrik en een of twee amptelike mense van Natuurbewaring.

 

Maandagmore tree ons op die eerste plaas aan. Ons word makgemaak met boeregasvryheid, sterk koffie en heerlike beskuit, van stokke voorsien, in die veld afgelaai en in linies opgestel weerskante van die waterlose rivier. En toe agtergelaat. Ons stap energiek en slaat op die bosse soos Moses van ouds op die rotse van ouds. Ons leer mekaar ken en maak grappies en bewonder die skoonheid en ongereptheid van die landskap. Die plaaslike mense vertel my van kriedoring en renosterbos, van steekgras en haasgras, van duwweltjie en kanniedood. Ons onderhandel en kibbel en dreig onder mekaar, want ons kom gou-gou agter hoe nader aan die rivier, hoe digter is die plantegroei en hoe dieper is die dongas. Groot pret. So vir ‘n paar uur.

Geleidelik begin die son steek tussen ons blaaie, sagte bobene skuur skrynerig teen mekaar, die nuwigheidjie slyt af en die humeure lig die kop. Nie meer heeltemal so prettig nie.

En g’n oewerkonyn is te siene nie.

Wat ek wel sien, is vir Faantjie Viljoen. Minder aantreklike, fris Faantjie. Die enigste man op kantoor wat my in al die jare uitgevra het. Die enigste man wat nog ooit met my wou trou.

Onmiddellik voel ek vreeslik gevlei. Hy het sowaar spesiaal gekom om naby my te wees, hoe romanties, net jammer al sy moeite is tevergeefs.

Faantjie neem egter geen notisie van my nie. Terloops gegroet, en dis dit. Ek vererg my bloedig; ons is tog darem kollegas, hy’s die enigste mens hier wat ek ken, dis sy blote plig om my te laat tuisvoel.

Ek kom ook agter hier is hy nie Faantjie nie, hy is Fanus. En hy ken al wat mens is, kuier al die jare gereeld by sy broer en skoonsus op dié se erfplaas. En die boervroutjies vrek oor hom. En hy dra ekstra waterbottels vir omtrent almal behalwe vir my.

Die son sak oor ‘n asvaal, seervoet groepie konynlose konyntellers. Ek voel dikbek en afgeskeep en lekker suur.

Ons slaap in ‘n oopte langs die rivier onder die blote hemel. Faantjie … ekskuus, Fanus, se boetie ry berge skaapvleis en braaibrood en donkerrooi sjerrie aan. Fanus ontpop as ‘n bobaas vuurmaker, braaier en atmosfeerskepper. Ons klompie bewonder mekaar se vernielde hakskene, smeer mekaar se spiere en sing tot laatnag FAK-liedjies onder die sterre, onder begeleiding van die vaardige broeders Viljoen op die kitaar en banjo. Ek verwonder my aan die jong latte wat hartlik saamsing; deesdae is die ou liedjies mos weer hoogmode.

Ek verwonder my nog meer aan een van genoemde latte, met die stuitige naam van Benna, wat al om my draai, braaivleis aandra, nog ‘n bekertjie sjerrie skink. Die kind het waaragtig ‘n oog op my.

Totaal belaglik, maar tog te lekker.

Ek kruip egter laatnag met ‘n seer hart in my slaapsak. ‘n Kiewiet roep verlate in die wye nag, allerhande gediertetjies skarrel in die donker, voordag hoor ek ‘n jakkals roep en sy maat veraf antwoord. Lieflike, lieflike ervarings wat ek nooit sal vergeet nie. Ja, my geld is my eie en my tyd is my eie. Maar ek het niemand spesiaal om spesiale dinge mee te deel nie.

Tog jammer ek voel niks vir Faantjie … Fanus … nie; hy is so ‘n goeie ou siel, ‘n ware Israeliet sonder bedrog.

 

Dinsdag word ons vroegoggend verras met ‘n (vir die boere) welkome buitjie reën. Net genoeg om alles klam te laat, die terrein glibberig, die boervroue in ekstase en vir my lekker dikbek. Dit begin voel ál meer vir my Moedertjie Aarde sou kon klaarkom sonder hierdie spesifieke diensie van my, miskien lê my talente op ander terreine.

Die boer van die volgende plaas verbeter nie my bui toe sy teetyd aangejaag kom met haar windmaker 4x4xfar en gellings tee en tonne koek nie. Daarvoor val sy vir Fanus net té hartlik om die hals en saai uit vir almal wat wil hoor – en nié wil hoor nie, maar dis net ek – presies hoe bly sy is om hom weer te sien en wil hy nie liewer by haar en haar ouers kom oornag nie? Ag nee, sy is tog nie een vir ‘n veldslapery nie, sy hou van haar geriefies, fladder sy die wimpers op na haar slagoffer. Dié staan skaapagtig en smile en klim so waar as wragtag die aand in die fô by fô en los ons om alleen te sukkel met klam hout en die paar ou beteuterde tjoppies wat sy vir ons kom los het.

Of ek nou wil weet of nie, ek word gou-gou ingelig hoe lank Delila (haar naam is eintlik Delia) al sukkel om vir Fanus in te palm. Maar daar is glo iemand in die stad aan wie hy sy hart verloor het. G’n mens kan verstaan hoe iemand so ‘n vangs kon laat wegkom nie; dit moet ‘n baie uitsoekerige vroumens wees. Ek dag hy’s dik en dooierig, maar deur hierdie vroue word hy as ‘n vangs beskou.

Ek kruip vroeg-vroeg in my slaapsak om in vrede te wroeg. Die melkweg hang vlak bokant my kop, dit voel ek kan hand uitsteek en bosse sterre pluk. ‘n Uil gly geruisloos oor die maanblou veld. Ek voel koud en bitter alleen.

Benna kom maak hom met groot vertoon neffens my gemaklik vir die nag. Ek draai my rug vasbeslote op die verspotte kind.

Ek slaap sleg en staan moeg op. Ek loop stuurs en moker elke bos met my stok of hy my iets aangedoen het. Het ek kwaliteite in Fanus misgekyk? Steek daar meer in hom as wat ek ooit vermoed het? Het ek hom ooit enige kans gegee om homself te bewys?

Benna stap langs my en sing uit volle bors: “Hasie in die holte, sit en slaap …”

“Die goed is konyne, man,” vererg ek my naderhand.

Benna steur hom min. “Arme hasie, is jy bang, kyk net hoe jou ore hang …”

Halfdag kom Delila eers met Fanus daar aangesit. Die onbeskaamdheid daarvan. ‘n Geluksaligheid lê oor die man se gelaat, ek kan sweer hy’s dik gevry, haar arme ouers natuurlik vroeg-vroeg in die kooi geprop. Haar bruingebrande kloutjies lê besitlik op sy arm, ‘n soet glimlaggie huiwer om haar mond.

Tot my skaamte is ek besig om totaal te vergeet van die arme bedreigde oewerkonyne waaroor dit eintlik gaan. Onnodig om te noem ons het nog nie soveel soos ‘n puntjie van ‘n lang oor of ‘n wolletjie van ‘n klossiestert gesien nie. Heelwat doodgewone hoppende vlakhase, maar die agtervoete is nie breed en wollerig genoeg nie, die stertjies te reinwit en die lang ore nie lank genoeg nie.

Doekvoet se kind lê laag. Of is hierlangs lankal uitgeroei. Die ou-ou storie van verdwynende spesies – boerdery wat habitat bedreig, rondloperhonde en vangstrikke, lae aanteeltempo (die goed is die naam konyn nie werd nie!).

Namiddag sorg ek dat ek langs Fanus stap. En ek sorg dat hy my ekstra waterbottel dra. Nie dat hy oorgretig lyk nie. Sy reaksie op my kantoorpraatjies is maar flou.

Onverwags word ek sommer afgejak: “Vicky, los tog ‘n slag die werk! Die paar dae is vir my kosbaar genoeg sonder dat jy alles bederf met die ewige kantoorpolitiek.” Harde woorde vir sagmoedige Faantjie Viljoen.

Benna kom verontwaardig tot my redding: “Ag nee oom Fanus, hoe’s Oom dan so kortaf met so ‘n smart girl?”

Die stommiteit ontlok net ‘n gevaarlike frons en ‘n kortaf: “Sy’s nie jou speelmaat nie, Benna, jy’s nog nat agter die ore.”

Wat Benna laat skaterlag dat die kliprantjies antwoord gee.

Ek het genoeg om te bedink terwyl ek bos na bos venynig bydam. Fanus is nie gelukkig by die werk nie. Ek het my nog nooit tevore bekommer oor sy geluk of ongeluk nie. Selfsugtig, soos mens maar word as jou geld en jou tyd jou eie is, om aan te wend soos jy, en net jy alleen, lekkerkry.

Ek bekyk hom onderlangs terwyl ons moedig aanstryk onder die vlymskerp son. Oorgewig, maar nie só vreeslik nie, eintlik net lekker snoesig, soos ‘n groot, lewende teddiebeer. Nie mooi nie, maar ook nou nie só lelik nie. Eintlik het hy ‘n gawe gesig, die gesig van ‘n goeie mens. En ‘n paar stewige boere-ore. Ek het dit by my ouma geërf om op te let na mans se ore.

Fanus Viljoen is so tuis in die veld soos ‘n oewerkonyn kan droom om te wees. In die stad kom hy nie tot sy reg nie, daarom het ek hom daar nooit na waarde geskat nie.

Woensdagaand posisioneer ek met lis my slaapsak tussen dié van die orige Benna en die afsydige Fanus. Dié draai sy rug ongeskik op my en gou-gou saag hy rustig balke. Maar toe Benna jou waarlikwaar tot vas teen my skuif en begin vatterig raak, word hy vinnig verwyder, nog voor ek behoorlik besef wat aangaan.

“Loop speel met jou maatjies, Bennie, los die grootmense uit.” sis Fanus gedemp.

Benna lag sy lekker lag: “O, nou sien ek hoe die wind waai! Oom het al die tyd ‘n oog op die antie, plaas Oom net sê!”

En terstond draai albei om en snork getroos verder, terwyl ek naglank lê en kyk hoe die sterre teen slakkepas deur die hemelruim skuif.

 

Donderdag, laaste dag; ons vat die vlakte met nuwe ywer. Ons sien steeds nie ‘n enkele oewerkonyn nie. Maar ons het vriendskappe gesluit en herinneringe gemaak wat vir altyd sal hou.

Laatnag sing ons nog om die vuur, knuppeldik en lighoofdig van die Karoo se oorvloedige gawes. Benna openbaar ‘n stoute humorsin; hy bly aspris draai om my, loer kort-kort vir Fanus met duiweltjies in die oë. Genoemde duiweltjies kom klouter op my skouer; ek speel lustig saam – wat is ‘n bietjie flirt nou tussen vriende?

Laataand kom hurk Fanus uiteindelik langs my. “Jy hoort nie in die stad nie,” sê ek onbeplan van nêrens af.

“Jy’s reg,” sê hy en skommel die koffie in sy blikbeker, “Ek gaan ook nie meer lank daar wees nie.”

“Hoe bedoel jy?” skrik ek my yskoud.

“Ek is besig om ‘n plaas te koop in die distrik. Ek ken dié wêreld goed, kom mos al die jare hier by Dries-hulle.”

My keel trek toe; ek het my kanse verspeel. “Jou ondervinding as ekonoom sal seker handig te pas kom,” sê ek dapper.

Hy kyk skeef af na my: “Boerdery is nie maklik nie, veral sonder ‘n goeie maat.”

“Delila … ag, Delia … is seker die ideale vrou vir jou.” Ek kyk weg oor die donker veld; die maan is nog nie op nie.

Hy gee ‘n suggie: “Ja, sy kan ‘n man vry dat jou oë traan, maar sy’s nie wat ek soek nie.”

“Ek hoor daar’s ‘n meisie in die stad,” waag ek gedemp. Ek is sekerlik getrek, mens misgis jou maklik met die hoeveelheid sjerrie in so ‘n blikbekertjie.

Hy antwoord my nie. Hy loop vat sy banjo en tokkel die hartseer in my los tot dit teen my wange af drup tot in my rukkende mond en hy kyk nie één keer vir my nie. Toe die maan opkom, glip ek weg die veld in, my flitslig onnodig byderhand, om die ander te laat verstaan dis ‘n gewone toggie bossies toe hierdie.

En toe gebeur die wonder: die ligstraal pen hom vir ‘n enkele eindelose oomblik voor my in die paadjie vas. Ja, sowaar: wit kring om die oë, donker streep om die kaak, lang, láng ore.

“Dis hy,” fluister Fanus meteens agter my. Sy mond is in my nek, sy soliede lyf soos ‘n skild teen myne.

Ek leun genoeglik terug, skakel die flitslig af. Ademloos kyk ons hoe die doekvoetjie weer in die maanlig oplos asof hy nooit daar was nie.

“Ek kan daai meisie in die stad nie uit my gestel kry nie,” fluister hy teen my wang.

“Dink jy sy verdien ‘n tweede kans?” fluister ek terug.

“Natuurlik, ek glo sterk in tweede kanse.” Lekker snoesig is hy inderdaad, maar ook stewig soos ‘n rots.

Toe ons veel later die vuurkring ongemerk probeer binnesluip, lig Benna sy blikbeker hoog die helder nag in: “Op die oom en die antie en die oewerkonyn!”

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s