Van hoenders en heimwee

Donsie en KoerieMy ode aan die hoender is jare gelede spontaan geskryf en het baie later (Februarie 2015) sy plekkie op Rooirose se agterblad gekry. 

In die Afrikaanse volksmond is die donkie ‘n wonderlike ding. En tereg ook. Maar onder vele donkiewaentjies het daar in die ou dae ook ‘n fuik met ‘n paar hoenders gehang. Die hoender is inderdaad ook volksbesit op sy eie dommerige manier. Om ‘n Australiese kennis aan te haal: “You don’t keep chooks for their intelligence.”

Hoenders is deel van ons erfenis en ons taal. Wat is ʼn troue sonder tant Koek se hoenderhaan? Wat is ʼn kerktoring sonder die hoender wat  ʼn eier nie kan lê? Ons word steeds hoenderkop, kraai graag elkeen op ons eie mishoop en lyk soms soos natgereënde hoenders. Die oues van dae raak steeds die hoenders in as die jonges nie saam met die hoenders wil gaan slaap óf opstaan nie.

Hoenders is vir my herinneringe. Herinneringe aan die plaas, aan jonk wees, aan vergange tye toe dinge nog eenvoudiger was. En aan my ma, toe sy jonk en sterk en tot alles in staat was, toe sy my wêreldjie in haar bekwame boervrouhande gehou het.

Ek sien haar in ‘n onverwagse haelbui skarrel, hoe sy haar halfwas kuikens wat verward en onnoselrig geen skuiling kan vind nie, voor by haar blou mansoorpak insteek. Veilig teen haar lyf, soos sy ons almal grootgemaak het.

Ek sien haar buk voor die kassie wat oor die hen se gekose broeiplek staangemaak is, hoe sy die kwaai moederdier behendig aan die stert eenkant toe lig en een-een, versigtig die eiers deurvoel. Luister teen die oor; ja hy pik! Die paar nat kuikentjies vinnig deurkyk – is alles reg? Dié wat halfpad uit is, versigtig  bietjie help; die doppies effens losser trek, nie te veel nie.

Jare gelede met ons dorp se verjaardag word ‘n luisterryke outydse basaar in ‘n markiestent gehou. Daar was onder andere dagoud eendjies en kuikentjies te koop. Gekleurde kuikentjies – die eerste en laaste keer dat ek dit ooit gesien het. Hoe hulle gekleur is, weet ek nie. Maar hulle was fris en gesond en pure hoender.

Ek het nie ‘n groene gekies uit ‘n gevoel van eensgesindheid met die Groen Party nie; ek het geweet my man hou van groen! So kom ek toe by die huis aan met Koerie (groen) en Donsie (gewone baba-eendjie-geel). Hulle het lieflike troeteldiere geword vir ‘n nuuskierige en aktiewe tweejarige. Sterk en robuust genoeg om sy liefderyke aanslae te verduurMal gewees oor katkos so uit die blikkie geskep deur onwennige kleuterhandjies. Hulle het ‘n yslike wit slaghoender en ‘n yslike wit eend geword. Later moes hulle maar na die familie in die Karoo verplaas word. Daar het Donsie ‘n gelukkige dood gesterf langs ‘n sak mielies – daar was nie die vereiste bakkie water langsaan nie. En Koerie het natuurlik eventueel op die Sondagtafel beland. Die weg van alle (hoender)vlees.

Jare later kry ek onwillig twee kuikens present by ‘n kollega wat van hulle wil ontslae raak. Al my tere herinneringe kom storm op my af. Ek kloek en koer en voer en pak hulle steeds saans netjies in ‘n boksie toe hulle al heeltemal groot genoeg is om buite te slaap. Binne ‘n paar weke is ons dorpsgrasperkie gepleister van die hoendermis, die sementoppervlaktes beblerts van ‘n kant af. Die energieke en nuuskierige tweejarige van destyds is nou ‘n cool twintig, en vir die arme hoenders het hy geen ooghare nie. Om van die nog cooler vyftienjarige nie eens te praat nie. Die dae van oulike seuntjies wat met oulike kuikentjies speel, is helaas verby.

Dus is ek alleen in my toewyding en heimwee. Ek staan en kyk soos ‘n trotse moeder hoe hulle presies weet hoe om te skrop en te pik. Ek beduie vir almal wat nie wil weet nie dat dit ‘n hennetjie en ‘n haantjie is en hoe ek dit weet. Ek oe en ek a as hulle heerlik in die stof op die sy gaan lê en woel met die bene en vlerke. Ek dra stukkies vet en afsnyvleisies aan wat dorpenaars in die asdrom gooi. Ek glimlag vir die kompetisie om die beste brokkies in die hande te kry. Ek knip groenigheid fyn soos hulle daarvan hou. Ek bring telkens ‘n nuwe soort kos van die troeteldierwinkel af. Hulle hou meer van volgraanbrood geweek in water, lekker lou uit die mikrogolf.

Ek vertroetel alleen my hoenders, en ek weet: die verlede is verby. Saam met die tyd toe kuikentjies vir my kinders cute was, is die tyd toe húlle cute was onherroeplik verby. Hulle het arendsvlerke gekry en ver oor die see weggevlieg. Die moederhen se nes is leeg. En dis goed en reg so.

Sal die kinders ook eendag vol heimwee die foto’s uit die familiealbum lig en onthou? Sal hulle met ʼn glimlag terugdink aan die speel en die pret en die klein tragedies? Sal hulle ook vlietend smag na ʼn tyd toe dinge eenvoudiger was? Toe ʼn ma alles kon regmaak wat verkeerd is?

Ek dink tog so.