Wanneer die son weer opkom

Depressievegters ken daardie gevoel – jy gly dieper en dieper in die donker put af.

Maar as jy lank genoeg en verbete genoeg aanhou veg, gebeur die wonder ongemerk en soms onverklaarbaar:

Die wande is steeds glad, maar jou naels begin stadig vatplek kry. Al breek en bloei hulle. En jy klou.

En onder wag … Wat? Dalk maar net die ewige donkerte. En jy weet dis nie wat jy vir jouself wil hê nie. Want jy is meer as dit werd.

En jy is nie meer heeltemal so lus om eenvoudig te laat gaan nie.

Want bokant jou sien jy weer die son.

Jy staan soggens op uit die bed – en na ‘n rukkie word die dag tog onverwags hanteerbaar.

Jy eet ‘n gesonde ontbyt, al is jy nie soggens lus vir eet nie. Maar jy doen dit met die wete dis goed vir jou. En jy verdien dat iemand goed moet wees vir jou. Veral jyself.

Jy gaan stap met of sonder die hond – en jy sien die ryp op die Bolandse gras. En die wonder van die berge. En die eensame hadida wat in die parkie hou. En die hoep-hoepe met hul wip-wip vlug.

Jy sit jou gunsteling musiek aan, al is jy nie lus vir dans nie. En op ‘n dag vat jy weer ‘n stadige walsie om die kombuistafel. En onverwags sit dit om in ‘n riel vir die lewe.

Jy tel jou seëninge een vir een … en weer … en weer. En voel weer ‘n slag die roeringe van opregte dankbaarheid.

Jy eet iets heilsaams ipv die sjokolade. En dis ook lekker. (Maar nog nie presies so lekker nie! :) )

Jy lees ‘n opgewekte boek – en betrap jouself dat jy lag vir niks besonders nie.

Jy versorg jou gesin – en vind versigtige vreugde daarin tsv die schlep van herhalende take.

Jy doen die ding waarteen jy die heel meeste opsien. Stadig en pynlik, treetjie vir treetjie. En na ‘n week of wat kom jy agter jy is op die hond se stert. Jy byt vas en handel die stert ook af. En die verligting is onbeskryflik.

Jy probeer goed wees vir diegene wat oor jou pad kom. Want hulle verdien dit.

En praat versigtig met uitgesoekte mense oor jou swakheid. En al verstaan hulle nie, probeer hulle ten minste. En dis kosbaar.

Want hierdie stryd is ‘n alleenstryd. Maar die oorwinning is ‘n openbare viering.

Die dag gaan verby. En nog een en nog een. En die son skyn elke dag ‘n bietjie helderder. Al skyn hy glad nie.

En op ‘n dag dans jou voete weer vanself en jou hart roep uit van vreugde.

Al weet jy die donker gaan weer eendag kom.

Want die lig is nooit heeltemal, heeltemal weg nie.

Ons moet net aanhou soek.

Lewer kommentaar