Junie 6, 2010 at 8:57 vm (Beveg depressie, Depressie, Gesondheid, Inspirasie) · Wysig
Tags: Alta Cloete, depressie, depression, Afrikaans, gedagtes, gesondheid, Spiritueel, Nieu-Seeland, New Zealand
As ons depressief is, tas dit ons geheue ook aan. Ja, jy onthou definitief swakker, maar daar is ‘n ander, meer subtiele verandering wat ook plaasvind en wat stil-stil sy skade aanrig.
Wanneer ‘n mens in ‘n depressiewe toestand aan ‘n spesifieke gebeurtenis terugdink, gebeur dit baie maklik dat jy net sekere aspekte daarvan onthou. Maar – reg geraai – dis NIE die lekker dele wat jy onthou nie! Nee, dis die slegte dinge wat jy onthou en kort-kort uithaal om weer ‘n slag blink te vryf. Dit kan ‘n heerlike tyd met baie goeie dinge wees wat jy onthou, maar geniet jy daardie goeie herinneringe? Nee, jy gee net aandag aan die dinge wat verkeerd gegaan het. En as ‘n mens mooi dink, is daar gewoonlik baie meer goeie dinge as slegtes om te onthou.
Een van die beste voorbeelde in my eie lewe is ‘n baie lekker oorsese trip – maar die terugvlug was aaklig, met ure lange vertragings, ‘n ongemaklike sitplek, die totale onvermoe om te slaap en die persoon langs my wat met opstyg en gaan sit soos ‘n ruimtemannetjie met sy suurstofmasker gesit en my bitter benoud gehad het – dit het vir my gevoel die man kan enige oomblik iets oorkom en ek gaan verantwoordelik wees! (Hy het aan slaapapnee gely, maar ek verstaan nou nog nie die rol van die suurstofmasker nie).
En wat het ek vir jare onthou as ek aan daardie tyd dink? Nie die beeldskone Suid-Eiland van Nieu-Seeland nie … nie die lekker tye saam met my man nie … nie die sneeubedekte berge rondom Queenstown of die lekker caramel slices en hemelse wortelkoek nie, ook nie Melbourne se Waterfront langs die Yarra en die reusepilare wat saans sesuur ritmies vuur spoeg nie … MAAR die vermoeienis, die verveling, die irritasie van die vlug en die enkele kortaf dingetjie wat my liewe man in die hele tyd vir my gese het.
Wat ek dus baie effektief gedoen het, was om die negatiewe deeltjie heeltemal uit verhouding op te blaas en die baie lekker herinneringe feitlik te ignoreer. En net om dubbeld seker te maak, het ek sommer nog die grootste negatiewe dinge wat die tyd na die toer vir my ingehou het, ook daaraan gekoppel. (Hoewel baie positiewe gevolge op die negatiewe gevolg het).
Maar dit is moontlik om hierdie manier van dink te verander! Doodgewoon deur bewus te wees van die gevaar, op die uitkyk te wees daarvoor en dan doelbewus ook ‘n lysie van die goeie dinge te maak. En hulle doelbewus te onthou.
Glo vir my – dit werk!