“Die wereld smag na helde, maar hulle is dun gesaai. Nelson Mandela is miskien die laaste ware held op aarde. Hy is die glimlaggende verpersoonliking van opoffering en integriteit, en word deur miljoene as ‘n heilige beskou. Tog is hierdie beeld eendimensioneel. Hy sou die eerste wees om te ontken dat hy ‘n heilige is – en allermins uit vals beskeidenheid.
Nelson Mandela is ‘n man van vele teenstrydighede. Hy is dikwellig, maar terselfdertyd kwesbaar. Hy is sensitief teenoor sy medemens, maar ignoreer dikwels die gevoelens van die wat die naaste aan hom is. Hy het ‘n oop beursie vir almal, maar tel sy sente wanneer hy fooitjies uitdeel. Hy sal nie op ‘n kriek of ‘n spinnekop trap nie; tog was hy die eerste bevelvoerder van die ANC se militere vleuel. Hy is ‘n man van die volk, maar geniet die geselskap van beroemdes …”
Ek het hierdie boek vir my oorsese kind saamgebring om hom te herinner aan sy bande met Afrika – en nou geniet ek dit self geweldg. Richard Stengel is ‘n medeskrywer van Long walk to freedom en het lang tye in Mandela se geselskap deurgebring en hom goed leer ken. Die vyftien lewenslesse is nie dinge wat Mandela vir hom uitgestippel het nie, maar dinge wat hy self waargeneem het in Madiba se lewe, gedrag en optrede teenoor ‘n wye verskeidenheid mense. Ek hoop om voor ek huis toe gaan, nog ‘n bietjie meer daarvan te kan plaas. Voorlopig volstaan ek met die punte:
1. Moed is NIE om nie bang te wees nie.
2. Wees deurdag.
3. Lei van voor af.
4. Lei van agter af.
5. Laat jou voorkoms by jou rol pas.
6. Leef volgens ‘n kernbeginsel – die res is taktiek.
7. Sien die goeie in ander raak.
8. Ken jou vyand.
9. Hou jou teenstanders na aan jou.
10. Weet wanneer om nee te se.
11. Haas jou langsaam.
12. Liefde maak die verskil.
13. Om opsy te staan is ook leierskap.
14. Dis altyd albei.
15. Kry vir jou ‘n tuin.
1.Moed is nie om nie bang te wees nie:
Die meeste mense sou reken dat Nelson Mandela die verpersoonliking van moed is. Mandela self definieer moed egter op ‘n ongewone manier. Hy sien dit nie as ingebore of aangeleer op enige konvensionele manier nie, en ook nie as ‘n soort elikser wat ‘n mens kan drink nie. Hy sien dit as ‘n keuse. Niemand word dapper gebore nie, het hy gese; die geheim le in die manier waarop ons op verskillende situasies reageer.
… Maar moed, het Mandela beweer, is ‘n alledaagse verskynsel, en dit kan op groot en klein maniere getoon word.
2. Wees deurdag:
Op ‘n dag het ek langs Mandela op die agtersitplek van sy koeelvaste BMW gesit, toe ons besef sy bestuurder het verdwaal … Die bestuurder het vet gegee en met skeeuende bande om die draaie gejaag asof hy verlore tyd wou inhaal. Mandela het vorentoe geleun en gese: “Kom ons bly kalm, man.”
Kom ons bly kalm. Te midde van storms wat woed, bly Mandela kalm en soek hy na kalmte in ander. Hy straal trouens kalmte uit. Sodra jy beheer verloor oor jouself, glo hy, verloor jy beheer oor die situasie.
3. Lei van voor af:
Dwarsdeur sy lewe het Mandela risiko’s geneem om as leier op te tree. As hy ‘n soldaat was, sou hy die een gewees het wat uit die skuilgat spring en die stormloop oor die slagveld lei. Sy standpunt is dat leiers nie net moet lei nie, maar dat mense hulle moet sien lei – dit is deel van die posbeskrywing. Dis amper asof hy bang is dat iemand dalk sou se of dink hy was onwillig om risiko’s te neem. Selfs in sy persoonlike verhoudings glo hy daaraan om die leiding te neem. As iets jou hinder, as jy voel jy is onregverdig behandel, moet jy dit se, glo hy. Dit is ook leierskap.
4. Lei van agter af:
Om vanuit die agterhoede die rigting aan te dui, is in ‘n sekere sin vir Mandela slegs ‘n versluierde manier om van voor af te lei. Maar hy verstaan ook die beperkinge van enige persoon se leierskap, selfs sy eie. Toe hy uit die tronk gekom het, was hy ‘n soort Afrika-Rip van Winkel. Vriende en kollegas moes hom inlig oor alles onder die son: vroueregte, die moderne media, MIV en vigs, en dosyne ander onderwerpe. Dit was noodsaaklike remedierende onderrig, maar ook ‘n demonstrasie van die Afrika-idee van kollektiewe leierskap. Reeds sedert sy kinderdae het hy geweet dat kollektiewe leierskap oor twee beginsels gaan: die groter wysheid van die groep vergeleke met die van die individu, en die groter belegging van die groep in enige uitslag wat deur konsensus bereik word. Dit is ‘n wen-wen-situasie.
Om van agter af te lei, werk op soortgelyke wyse: jy bereik die verlangde resultaat op ‘n eensgesinde manier. Dis tot voordeel van ander en van jouself.
5. Laat jou voorkoms by jou rol pas:
Ons glo dit is reg om mense volgens hul persoonlikheid te oordeel, maar Nelson Mandela het besef dat jou voorkoms soms die beste manier is om jou persoonlikheid aan ander te toon. Mandela was nog altyd bedag op die voorkoms van dinge – van die kleur van sy hemp tot die manier waarop ‘n beleid vir sy ondersteuners kan voorkom tot sy liggaamshouding. Hy sal nooit iemand aanraai om ‘n persoon nie altyd op sy baadjie te takseer nie, want hy weet ons doen dit almal. Hoewel hy ‘n man van inbors is, glo hy dit is onsinnig om te beweer dat voorkoms nie ‘n rol speel nie. Voorkoms tel wel, en ons het net een geleentheid om ‘n eerste indruk te maak.
6. Leef volgens ‘n kernbeginsel – die res is taktiek:
Nelson Mandela is ‘n man met vaste beginsels – maar hoofsaaklik een: gelyke regte vir almal, ongeag ras, klas of geslag. Die res is feitlik alles taktiek.
Dit klink dalk na oordrywing, maar min mense is bewus van die feit dat Mandela ‘n deurwinterde pragmatis is wat gewillig was om kompromiee aan te gaan, te verander, aan te pas en sy strategie te verfyn, solank dit hom na die beloofde land sou lei. Byna alle middele het daardie edel doel geheilig. In die SA van die 1980′s en 1990′s het dit een ding beteken: die omverwerping van apartheid en die daarstelling van ‘n nierassige demokrasie met stemreg vir almal. Punt.
Mandela is al bestempel as ‘n profeet, ‘n heilige, ‘n held. Wat hy nie is nie, is ‘n naiewe realis. hy is ‘n idealistiese pragmatis, dalk selfs ‘n edelmoedige een, maar op die ou end gaan dit daaroor om dinge gedoen te kry.