Helder Somerkersfees 1

Helder Somerkersfees 1Helder Somerkersfees se twee dele het as een lang verhaal in Huisgenoot van 23 Desember 2005 verskyn. Daar was regtig ‘n Sokkies en ‘n Laska in my lewe, maar die konneksie tussen die twee is denkbeeldig. 

Desember:

Daniël de Lange se oë is grys. En koud, soos sy stem. Heeltemal onvanpas in die blakende Kaapse somer. Digte donker hare met spatsels grys. Ou hemp vol verfkolle, verweerde beretjie skeef-skeef op die kop. Gesteld op sy beeld as kunstenaar, dis duidelik.

Oor sy skouer sien Esther ‘n esel met ‘n halfvoltooide vrouefiguur op die doek. Vaagweg bekend, maar bitter lelik. Lyk of die vrou pyn het. Die meeste hogere kuns lyk mos maar so of iemand iewers ‘n pyn het; sy is geen kenner nie. Wat vir haar mooi is, is mooi; wat lelik is, is lelik, en klaar.

“Juffrou, Laska vreet jou verskoning vir ‘n kat voor brekfis op. Kyk tog dat die gedroggie aan sy kant van die muur bly!” Hy druk die rondloper onsag in haar arms. Beslis geen katliefhebber dié nie! En duidelik nie in ‘n Kersstemming van liefde en vrede nie.

Sy wil hom nog sê sy is Esther en nie sy Juffrou nie, en dis sy buurvrou, haar vriendin Gerda, se kat wat sy kom kosgee. Maar sy klap haar los mond weer vinnig toe. Hierdie man stel nie belang in lang hartseer stories nie – hy soek om uitgelos te word. Die lyftaal spel dit ook duidelik uit, net in geval van enige onduidelikheid. Maar dis ‘n allerpragtigste hond wat vertroulik teen sy bene staan, en ten spyte van sy grootte, definitief van ‘n beter geaardheid as sy baas. Die lyftaal weer eens duidelik, die ene liefde en vrede.

“Wat is hy?” vra sy moedswillig en ignoreer sy kwaai gesig. “Hy’s pragtig.”

“Dis ‘n sy.” Die stem is nog koel, maar die oë ‘n aksie ligter. Klaar sy sagte plekkie ontdek! Sy was altyd goed daarmee – om dit wat mense laat tiek, raak te vat.

“‘Skuus tog.” Sy lyk moedswillig gehoorsaam. “Wat is sý?”

“Sý”, sê die kwaai man terwyl sy hand op die groot kop rus, “is ‘n Alaska Malamoet, en sy háát katte.” Dis ‘n mooi hand, let sy op. Lang vingers, met fyn swart haartjies, al is die naels onversorg, met verf onder.

“En jy háát mense!” Dis uit voor sy kan keer. Sy gryp die moedswillige katjie in ‘n stewige greep vas en maak ‘n flink omkeer voor die man sy asem kan terugkry. Sy weerstaan net-net die versoeking om hom vinnig te salueer. Sweerlik ‘n sammajoor in die ou dae se army gewees, grinnik sy by haarself.

Toe sy en Sokkies haar vriendin se tuintjie langsaan ongedeerd bereik, slaak sy ‘n sug van verligting. Sy lag ‘n so klein bietjie vir haar eie moedswilligheid. Sy hou op lag toe sy kliek dis ‘n stukkie van die ou moedswillige Esther wat onverwags uit ballingskap opgespring het. Die Esther wat met al wat leef kon gekskeer en bekend was vir haar gul, onbevange lag. Graag gekuier het, graag gekook het, geleef het vir haar man en dogter. Gelukkig was, en mense na haar toe aangetrek het met haar deernis en haar humorsin.

Op sy eie stoep praat sy mooi met die sondebok: “Sokkies, dis nie so lank voor jou mense terugkom nie. Moet tog net nie weer wegloop nie. Ek sien nie kans om jou elke dag by daai man te gaan red nie.” Sokkies draai spin-spin om haar bene. Dis so goed sy hoor hom sê: “Ek wil ‘n méns hê. Dis te alleen hier, en ek is nog klein.”

Sy sit lateraan langbeen op die koel stoepteëls, die katjie lankuit teen haar bene. Sy het tog niks wat haar jaag nie, niemand wat op haar wag nie. Sy het haarself al amper oortuig sy verkies dit so, in hierdie tyd wanneer die mensdom freneties vakansie hou en kuier en geld uitgee en so hard probeer om gelukkig te wees. Vanjaar boikot sy Kersfees. Vanjaar moet sy verlede Kersfees se hel besweer – finaal deurwerk en agter haar sit. Sy’s moeg gewroeg; sy moet weer ‘n lewe kry.

Sy volg die skadu’s van die prieël lui-lui met haar oë, en sy dink aan haar vermetele woorde aan die vreemde man. In die oomblik voor sy ontsnap het, was die pyn óóp op sy gesig. Hy het nog lank om te gaan, dis duidelik. Ten minste het die afgelope jaar darem ‘n dun rofie oor haar eie rouheid gevorm, breekbaar soos die roomvelletjie oor ‘n koppie kookmelk. Só dat elke dag darem nie meer so heeltemal na dood voel nie. So dat sy soms versigtig-versigtig aan ‘n herinnering kan raak, dit vir ‘n oomblik kan vashou voor die pyn te erg raak.

“Ja Sokkies, ons het almal ‘n mens nodig. Hoekom is ons dan so onnosel dat ons dit so maklik vergeet? Ek het van almal onttrek en amper in my selfbejammering versuip. Lyk my hý voer dit nog ‘n stappie verder – verjaag almal willens en wetens sodat hy heerlik alleen kan slobber in sy eie modder.”

Sy ril as sy dink aan daardie eerste tyd. Sy trek die katjie dankbaar teen haar aan. Gerda hou so aan sy moet ‘n diertjie kry, iets om weer lief te hê. Maar hoe kan ‘n kat haar man en kind vervang? En tog, net om iets te hê om aan te vat. Iets wat nie ongemaklik gaan rondtrap as hy jou smart sien nie. Iets wat nie gaan dink jy wil haar man afvry as jy terloops aan sy arm raak, net vir daardie oomblik van warm kontak nie. Sy was nog altyd ‘n vat-mens, maar sy het ná die tweede debakel met ‘n sogenaamde vriendin se man haar les geleer. Weduwees moet hulle hande tuishou, dis duidelik.

Dit was maar een van die vele pynlike aanpassings: Goeie vriendinne wat begin verskonings maak, al minder kontak maak en dan sommer eendag uit die bloute aanval: “Jy los my man uit, gehoor!” Asof sy een van hulle boeppens-kaalkop-ja-en-amen mans wil hê! Sy wat vir Fritz gehad het – lank en dun en dierbaar met sy dik bos hare en sy bulderende lag. Fritz met sy passie vir die lewe – vir sy werk, vir sy vrou, vir sy dogter. Fritz het niks halfwas gedoen nie.  Dit was vir hom alles of niks. En Fritz en Francien was háár alles.

Ja, dit is wat uit my lewe weg is: passie, dink sy terwyl sy die katjie streel en streel. Maar sy voel die óú lewenslus in haar woel. Hulle sê as die eerste jaar eers verby is, begin gaan dit stadig beter. Dalk kom sy nog eendag by aanvaarding uit voor sy stokoud en seniel en sonder tande is.

Dis ‘n jaar van Fritz vir Francien by haar maat se huis gaan haal het, ná hulle twee ‘n heerlike alleennaweek by hul huisie aan die Weskus gehad het. Sy, wagtend met lekker kossies, het verlang na haar meisiekind, al was dit so lekker om Fritz net vir haarself te hê. Fritz het weer gejaag sonder sy veiligheidsgordel soos altyd, dit weet sy, al het daar geen bewysstukke van enigiets oorgebly nie. Alles verkool, haar man en kind, die twee jongmense in die ander motor, alles, alles. Aan die begin was sy so kwaad sy kon nie hartseer wees nie.

Toe sy haar eie meenthuis se voordeur oopstoot, gaan staan sy in haar spore: Kind in die son. Natuurlik! Die meisiekind se donker hare waaier uit terwyl sy oopmond lag en uitreik na die sonskyn wat die hele skildery goudgeel vol lê. ‘n Stuk of vyf jaar gelede by Fritz vir hul huweliksherdenking gekry. Sy hoor hom weer: “Uitgeknip Francien oor ‘n paar jaar!”

Sy kry die befoeterde kunstenaar sommer jammer. Hy het ver geval van hierdie werk vol lig en lewe tot die gemartelde siele wat nou sy voorkamer vol staan. Sy kan nie dink dat dit vir iemand kan mooi wees nie, hoe hooggeleerd en kunstig ookal.

Vir die volgende week gaan sy elke dag tweemaal na Sokkies, neem lekkernytjies saam, sit ‘n rukkie. Die besoekies aan die wederstrewige katjie word vaste punte in haar leë dae, soos Gerda, dierbare vriendin, sekerlik bedoel het. Gerda is die één konstante faktor in haar vae herinneringe van die afgelope jaar van pyn en eensaamheid. Nooit moed opgegee nie, altyd geduldig, nie vol oppervlakkige trooswoorde en kitsoplossings soos al die ander nie. Altyd ‘n stoute grappie gereed, of Esther nou lus was vir lag of nie. Gerda het laat weet van die plek in die meenthuiskompleks, gehelp met die besluit, gehelp met die trek, nooit bedreig gevoel oor haar liewe man se rol nie. Kosbaar.

Esther ontwikkel ‘n klein ritueel met haar besoeke aan die katjie: Kosbak skoon en vol, waterbak skoon en vol, langbeen sit met die katjielyf langs haar. Dan versigtig, versigtig ‘n herinnering uithaal. Altyd ‘n vrolike een: Fritz wat deelneem aan die resies vir pa’s by die skool se atletiek, en neerslaan dat die kalkwalms wit opslaan; Francien en maatjie wat die badrand seepsmeer en met hul kale dogtertjielyfies gly en gly tot een se kop die kraan tref; sy wat by die agterdeur uitstorm komposgat toe met nog ‘n mislukte kulinêre eksperiment terwyl Fritz al die voordeur oopsluit. Hy wat onmiddellik begin lag as hy haar skuldige gesig sien, en presies weet wat aangaan.

Sy spreek die katjie telkens streng aan: “Jy los vir Laska uit, gehoor, haar baas is nie lus vir ons twee nie.” Sokkies kyk haar met soete onskuld in die oë, maar sy het lankal die enkele los hare op die sagte katjielyf opgemerk – definitief nie Sokkies-haartjies nie. Hier is duidelik ‘n gekuiery aan die gang. Die gedagte gee haar groot genot. Sy kan hulle so bymekaar sien onder die flikkerende blareskadu’s van die aangrensende meenthuis se identiese prieël: die yslike pragstuk van ‘n hond, en die klein alleenkatjie met die wit voetjies.

Dit word deel van die roetine om uit te kyk vir die hond as sy Sokkies kom versorg. Later is Laska gereeld by die hek as sy verbykom. Op ‘n dag waag sy om haar hand deur die tralies te steek en die groot kop te vryf. Soos te wagte, word haar hand nie afgebyt nie. Eerder sopnat gelek van pure liefde. As die baas naby is, groet sy vriendelik en maak haar uit die voete. Netnou dink die brompot sy soek man. Maar sy beland telkens weer voor die skildery, besig om te wonder oor die man. Goeie teken as sy weer begin nuuskierig raak oor mense! Mense, ná kosmaak, was nog altyd haar groot liefde.

Die laaste oggend wag Laska soos gewoonlik by die hek, maar iets in haar houding is anders. Esther ignoreer die stemmetjie in haar agterkop en bring ‘n laaste rustige halfuurtjie by die katjie in haar vriendin se tuin deur. Toe sy terugstap, staan die hond nog daar.

Die hond lyk onrustig; half aggressief, half verbouereerd. En mank, besef sy skielik.

Meteens prik die hoendervleis koud op haar voorarms. Soos in ‘n droom stoot sy die hek oop en stap agter die hond aan.  Sy beland met die oopstoot van die agterdeur binne-in die nagmerrie van elke wetsgehoorsame burger van die Nuwe Suid-Afrika. Sonder vrees loop sy deur die verwoeste kombuis, deur die woonkamer waar die doek met die lelike vrou minagtend eenkant gestamp is, deur die gang met die skewe portrette van die grysoogman en ‘n dogter wat baie duidelik syne is. Daar is geen spoor van ‘n ma nie. Sy tree oor die bloedkol op die ligte slaapkamermat en buk oor die man wat dwars oor die dubbelbed lê.

Sy voel sy pols, sy bel die polisie en die ambulans en gee die feite saaklik en sekuur. Toe wag sy bewend en benoud, haar oë vasgenael op die hopie mens op die bed, terwyl die hond fyn tjankgeluidjies maak en die katjie teen haar skuur en die horlosie ongeskonde tik-tak teen die muur. Sy was nog nooit een vir bloed en derms nie. Ook nie vir heldedade nie. Sy klou bewend aan die hond se warm lyf. Sênou hulle kom terug? Wáár is hulle?

Esther ontspan eers toe die ambulansmanne by haar verbydraf met hul draagbaar. Ja, nou help jou kwaaigeit jou ook niks, dink sy nog. Toe die ambulans wegtrek, sak sy op haar hurke af met haar rug teen die muur en haar gesig in die welige pels van die hond. Sy snik heerlik luid en onbevange en sy gee nie eens om vir die hondehare wat aan haar nat gesig bly klou nie. Sy huil haar huile klaar terwyl die hond haar geklou geduldig verduur en die alomteenwoordige katjie skuur-skuur teen haar bene draai. Toe sy eindelik daar opstaan, is sy reg vir besigheid.

Sy beantwoord die polisie se vrae saaklik en kalm. Nie dat sy eintlik enige nuttige inligting kan gee nie: Nee, hy woon blykbaar nog nie lank hier nie. Ja, sy woon in dieselfde kompleks, net verder aan. Nee, die hond is syne. Nee, die kat is nie syne nie. Ja, sy weet dis gevaarlik om in ‘n huis in te loop as jy misdaad vermoed. Nee, sy het nie ‘n dokter nodig nie.

Wonder bo wonder is sy selfoon ongeskonde in die laaitjie voor die bed. Die lysie in die phone book is bitter kort. Sy kan sweer hy het die hele spul net op ‘n dag eenvoudig uitgevee. Dis wat sý gedoen het toe sy hierheen getrek het. Haar ou lewe gedelete. Sy lees hierdie befoeterde mansmens soos ‘n boek.

Die opgewonde mannetjie van die plaaslike koerantjie verduur sy geduldig. Tot op ‘n punt. Nee, sy dink nie sy was dapper nie. Eerder onnosel. Nee, sy dink nie sy het sy lewe gered nie. Wie sê hy gaan ooit lewe? Nee, sy het niks verder te sê nie. Nee, sy wil nie afgeneem wees nie. Nee, ook nie saam met die kat en die hond nie! Sy geniet dit behoorlik om haar so lekker te vererg. Die lewe is besig om terug te kom in Esther Lategan.

Sy maak tog maar die huis skoon ná die polisie se ondersoek afgehandel is; iemand moet dit tog doen.  Dit lyk nie of die man enige ondersteuningsisteem het nie. Na ‘n kort en heftige debat met haarself vat sy die verbouereerde hond saam met haar huis toe. Die kwaai baas kan maar later stuipe kry as hy ooit weer gesond genoeg word om te baklei.

Sy antwoord haar vriendin, uitgerus terug van die see, se vrae geduldig: Ja, hy was lekker ongeskik met haar. Nee, sy was nie bang nie. Ja, sy is mal oor die hond. Nee, sy dink nie dis baie romanties nie. Ja, sy dink sy begin so stadig weer kans sien vir die lewe. Ja, sy dink die gedwonge betrokkenheid by ‘n ander se lewe het haar ‘n hupstootjie gegee. Ja, sy het teen wil en dank lief geword vir die katjie. En ja, sy wil hom graag hê.

In die laaste dae voor Kersfees voel sy hoe die lewe in haar terugloop. Sy koop ‘n vrolike hemp, ‘n enkele statement ná die selfopgelegde jaar van vormlose swart klere. Sy verklaar oorlog teen die onpersoonlikheid van die meenthuis: ‘n paar vrolike kussings, ‘n bos sonneblomme. Maar sy sien nog nie kans vir ‘n Kersboom nie. Sy haal wel haar CD’s uit en sy huil nie meer elke keer by Koos du Plessis se Somerkersfees nie. Net elke tweede keer. Gee ons ‘n helder Somerkersfees … In hierdie land, o Heer …

Sy duck and dive nie meer as die bure groet wanneer sy en Laska en Sokkies verbygaan op hulle daaglikse wandeling nie. Tot haar verbasing geniet sy nogal die heldestatus wat sy so onverwags bereik het. Sy voel so aan haar bas dat die voorwerp van haar dapperheid nie in ekstase gaan wees as hy die dag daardie kwaai grys oë weer oopmaak nie.

En sy weet nie hoe sy ooit weer sonder die hond gaan klaarkom nie. Die sagte lyf vul haar huisie, die groot kop dikwels op haar knie waar sy ookal sit, die oë heldevererend op haar gerig, die katjie gedurig aan die speel en terg om die pote. En albei snags op haar bed. Ten spyte van die somerhitte en die hare en ‘n bloedige stryd met ‘n verdwaalde vlooi, verduur sy hulle. Met vreugde.

Daniël is lank bewusteloos. Gerda maak dit haar besigheid om te weet en hou vir Esther ongevraagd op hoogte. Sy verkneukel haar in Gerda se romantiese hoop dat hierdie ‘n Groot Liefde gaan word. Vir so ‘n befoeterde man sien sy nie kans nie! Eintlik sien sy vir geen man kans nie. Selfs haar dierbare Fritz het maar genoeg van sy eie geite gehad.

Sy gaan sit tog maar soms vir ‘n rukkie langs sy bed. Geen naasbestaandes maak hul verskyning nie. Dis amper Kersfees en hierdie man het blykbaar niemand wat omgee nie.

Sy sit die roetine van haar Sokkies-besoeke langs sy bed voort: Elke dag één herinnering. Maar sy word dapperder; begin waag om die seer herinneringe uit te haal. Vinnig-vinnig, dan weer wegbêre. Die verbouereerde jong polisieman wat haar moes kom sê. Flitse uit die verwarring van daardie eerste dae. Haar geleidelike onttrekking, mense se ongeduld met haar. Die hel van die leë dubbelbed. Die galmende leegheid van die groot huis in die stad voor sy tot trek gekom het.

Dikwels sit sy maar net en kyk na sy gesig en verkneukel haar heimlik in sy verontwaardiging as hy sy oë moet oopmaak en in die lastige kat-vroumens se gesig vaskyk. Soms hou sy een van die slap hande vas en raak versigtig aan die donker haartjies, trek die lyne in sy palm saggies na. Hy lyk onskadelik soos hy daar lê, die baardstoppels donker teen die bleek vel, die naels nou kortgeknip en verfloos.  Soms wil-wil hy iets sê, maar sy kan nie uitmaak nie. ‘n Naam? Sy vrou?

Sy skrik haar asem weg toe hy op ‘n goeie dag – jou waarlikwaar Ou Kersdag – regtig sy oë oopmaak. Sy sit verstom en kyk hoe die lewe en die befoeterdheid stadig terugvloei in die grys oë.  Diep binne-in haar lyf lig ‘n sagte vreugde sy kop stadig op, soos ‘n groot dier met kussingpote.

Dit word toe tóg vir haar ‘n helder Somerkersfees.