Kapp, Sophia: Die ooreenkoms

Die ooreenkomsGroot getalle Afrikaanse lesers het hulle tande op die ouer Afrikaanse liefdesverhale geslyp en dink steeds met nostalgie terug aan die romans van mense soos Tryna du Toit, Ena Murray, Dricky Beukes en vele ander. Omnibusse van hierdie skrywers se werk is steeds van die beste verkopers in Afrikaans. Op die lys van die items wat gedurende 2013 die meeste by ʼn plaaslike munisipale biblioteek uitgeneem is, is omtrent 60% liefdesverhale. Liefdesverhale hou inderdaad mense aan die lees.

Geloofwaardige, moderne liefdesverhale is deel van die verskuiwing na kwaliteit- ontspanningslektuur in Afrikaans. Sophia Kapp is vandag ʼn leidende stem in hierdie genre. Haar stories is onbeskaamd romanties, maar toon duidelik dat romanties nie geloofwaardigheid hoef uit te sluit nie. Haar hoofkarakters is moderne Suid-Afrikaners wat met moderne probleme worstel en dit op moderne maniere probeer oplos. Die vroue is sterk, maar hulle kern is steeds sag. Die held is nie daar om die heldin se probleme vir haar op te los en haar redder te wees nie, maar om haar binne ʼn geborge verhouding toe te laat om as vrou en as mens tot haar volle reg te kom. Die manne is steeds aantreklik, maar hulle het ook ʼn hart en vind dat hulle by die regte vrou ook die sagtheid van daardie hart kan toon.

Die ooreenkoms is ʼn oënskynlike Aspoestertjie-verhaal van ʼn (oënskynlike) arm en onbelangrike meisie op wie ʼn magtige, ryk man halsoorkop verlief raak. Hierdie Aspoestertjie is egter van ʼn besondere stoffasie gemaak en laat haar geensins intimideer nie. Nie Adam Rossouw se rykdom of sy moeilike kinders en nog moeiliker familie kry haar onder nie. Petronel se wapen is doodgewone liefdevolle belangstelling en menslikheid, gekombineer met ʼn eiesoortige sin vir humor en daarmee breek sy stelselmatig die mense rondom haar se mure af. In minder as die jaar van hulle ooreenkoms bring sy soveel verandering en verdieping in Adam Rossouw se lewe dat hy aan die einde van die verhaal nie meer dieselfde ietwat hardvogtige man is nie.

Die ooreenkoms se mense praat moderne Afrikaans wat growwe taal en Engels insluit en juis daardeur die karakters vir die leser lewend maak. ʼn Persoonlike gunsteling is Petronel se vriendin Jazz wat vir menige ligte oomblik in die roman sorg, maar terselfdertyd die verpersoonliking van ware vriendskap en omgee is.

Die ooreenkoms is ʼn welkome heruitgawe in ʼn pragtige nuwe jassie. Gereelde lesers van Sophia Kapp se werk gaan hierdie boek met genot herlees en vir nuwelinge gaan dit die eerste tree van ʼn genotvolle pad wees.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s