‘n Kursus vir Pa

Brei mansʼn Kursus vir Pa het iewers in 2014 in Vrouekeur verskyn.

“Nee, moenie knip nie, dis te kort!” Maar helaas, hy het klaar die wol afgeknip.

Die kursusleier is aansienlik, maar hy kan nie regtig sien hóé aansienlik nie; daarvoor is die oorlogsverf te veel. Kan sy dan nie self sien die baie grimering laat haar hard lyk nie?

Sy Elize was altyd ‘n sagte vrou. Voor sy streke haar verbitterd gemaak het. Hy wens dinge kon nog so eenvoudig wees soos in die ou dae toe mans en vroue vaste rolle gehad het en daarby gehou het. Daardie tyd het vrouens met hul mans se sondes saamgeleef terwille van die vrede. Daardie tyd sou Elize hom nie uitgeskop en sy kind saamgevat het nie.

Natuurlik is hierdie tipe gedagtes uit die heel oudste oude doos, maar soms kan hy die bietjie nostalgie nie keer nie. Moet seker ‘n teken van die naderende ouderdom wees.

“Toemaar, dis nie die ergste nie, onthou net om volgende keer nie so kort te knip nie,” word die oordeel oor hom darem versag.

Rondom hom werk die vroue met stywe lippe en fronse van konsentrasie. Hy het gedink dit gaan ‘n gesellige oggend met koffie en skinderpraatjies wees, nou’s dit ‘n vervlakste strafkamp.

Wys jou net hoe ‘n man hom kan misgis as hy sy groot voete op die vrou se terrein durf plaas. Almal sit en stoei op hierdie lieflike herfsoggend in ‘n stywe stilte met hul breipenne en veelkleurige bolletjies wol. Dis duidelik dat sy teenwoordigheid hulle ongemaklik maak.

Ja, Sybrand Johannes le Roux, ware man in murg en been, sit en brei saam met ses vroue om ‘n tafel tussen rakke breiwol en hekelpenne en allerhande ander goetertjies waarvan hy nie veel verstaan nie.

Dis net ‘n dogter wat dit aan ‘n pa kan doen. Maar selfs sy het nie geweet presies wat sy hom aandoen nie. Of dalk het sy juis geweet. Hy sal wel uitvind.

 

“Pa kan maar kopgee, natuurlik is ek reg,” het sy meisiekind met haar laaste kuier gelag. “Natuurlik kan vrouens als doen wat mans kan doen, net beter.”

“Behalwe goed wat fisieke krag vereis,” het hy saamgespeel. Dit was nie die eerste keer dat hulle hierdie gesprek voer nie. Op sestien is sy oogappel ‘n entoesiastiese feminis. Wanneer dit háár pas, natuurlik.

“Aag, Pá, dis nie waarvan ek praat nie. Ek praat van verstandgoeters. En fyn handwerk. Enige mens kan swaar goed optel as hy oor ‘n spul spiere beskik, daar’s niks aan nie.”

Hy het maar nog ‘n rooiwyntjie geskink. Elzette geniet dit om hom uit te lok; dieselfde moedswillige streep van haar ma wat hom so aangetrek én geïrriteer het.

“Maar mans kan nié alles doen wat vrouens kan doen nie,” het sy lekker vermakerig voortborduur.

“Natuurlik kan ons.” Teen sy beterwete was hy aan die warm word onder die kraag.

“Behalwe kinders kry!” Triomfantlik, asof dit ‘n nuwe ontdekking is.

“Maar dis mos nou logies,” het hy haar van haar eie medisyne gegee, “Enige mens kan ‘n baba kry as jy met die nodige organe toegerus is, daar’s niks aan nie.”

“Daar hét Pa my!” Haar lag was soos altyd musiek in sy ore. “Maar daar’s ander goed ook …”

“Soos wat miskien, Slim San?”

“Soos … soos … naaldwerk doen of hekel of brei.” Sy’t dit uitgeskater by die blote gedagte.

“Van die wêreld se beste ontwerpers is mans, Elzette.”

“Ek praat nie van ‘n paar begaafdes nie, Pa, ek praat van gewóne mans, soos jy en jou gholfpelle. Julle sal nie kan brei of hekel om julle lewe te red nie!”

Hy het opgestaan en hom tot sy volle twee meter uitgerek: “Dís juis waar jy die fout maak, ou sussie, hierdie pa van jou kan baie goed brei.”

“Wát!”

Sy weet van sy kleintyd se langdurige siekte. Maar hy het nooit vertel van die wankelmoedige serpe wat hy as elfjarige onder sy ma se leiding geproduseer het om die lang dae in die bed korter te maak nie. Dit was knap voor die dae van TV, en ‘n mens kan ook net sóveel legkaarte bou en sóveel stories lees. Hy het later Springbok Radio se stories beter geken as sy ma, en dit wou gedoen wees.

Kan dit wees dat hy selfs as grootmens nog bietjie skaam is oor die breiery? Arme Ma moes altyd sorg dat nie ‘n breinaald of wolletjie te siene is as sy maters kom kuier het nie. En veral as Pa huis toe kom. Pa was nie beïndruk met sy breiery nie, om die  minste te sê.

Maar dit was donkiejare gelede. Die vrou is intussen bevry en die man ook, hoewel hy nie dink hulle het dit al almal agtergekom nie.

Elzette het met blink oë na hierdie brokkie geluister en kop geskud vir haar oupa se engheid. “Ek is darem bly Pa is nie so vertraag nie.”

“Jou oupa was nie gemeen nie, my kind, hy was bloot ‘n produk van sy tyd. Daardie tyd het die mans nog mansdinge gedoen en die vrouens vroumensdinge. Baie eenvoudig.”

“Baie boring, as jy mý vra,” het sy pront verklaar.

“Ja, maar baie makliker vir almal. Die pa het die gesin finansieel versorg en die kinders getugtig wanneer nodig, en die ma het kos en liefde gegee.”

“Was Oupa dan rêrig niks lief vir sy kinders nie?”

“Natuurlik was hy lief vir ons, báie lief, maar hy het dit gewys deur hard te werk vir ons, definitief nie deur drukkies en soentjies nie.”

Sy’t hom summier om die nek gegryp. “Dankie tog Pa is nie so nie! Maar ek sweer jy sal nie meer twee steke agter mekaar gebrei kry nie.”

En so het dit dan gekom dat hy vir Vadersdag van sy dogter die inskrywing vir ‘n breikursus gekry het. ‘n Gevórderde breikursus.

Hy was nog nooit ‘n man wat ‘n uitdaging kon ignoreer nie. Maar die vangplek het hy nie verwag nie.

 

“Kind,” vertel hy die volgende naweek, “daar sit almal in doodse stilte en brei en ek sien net hoe loer hulle onderlangs vir my.”

“Was daar darem talent, Pa? Hoe lyk die tannies?” Ewe onskuldig.

“Elzette, soek jy vir my vrou?” Kastig baie streng, maar sy hart klop in sy keel.

“Natuurlik, ja!”

“Ek kan my eie vrywerk doen, klein klits.”

“Dit lyk nie vir my so nie. Julle is al sewe jaar uitmekaar en ek sien nie vir Pa enige move maak nie.”

“Ai kind, niemand kan jou ma vervang nie.” Die dobbelduiwel het hom van meer as sy vrou beroof. Sy selfrespek kon hy mettertyd terugwen en sy skuld kon hy afbetaal, maar die berou en die gevoel van verlies het deel van sy bestaan geword.

Sy vat nie die aas nie. “Vertel nou liewer van die vrouens, Pa.” Reken natuurlik hy gaan eerste bes gee. Sy wag verniet.

“Almal geholpe en in elk geval nie na my sin nie, my kind. Die een se naels is te rooi, die ander s’n is te vaal; die een praat te veel en die ander te min. Maar na hulle aanvanklike skok was ek ‘n treffer, hoor. Ek is koekies gevoer en van raad bedien en na die volgende kursus uitgenooi.”

“Ag nee, my bedoeling was nie dat Pa ‘n harem van getroude tantes moet opbou nie.”

“Om die waarheid te sê, daar was enetjie sonder ringe.” Verleë voel hy die hitte in sy nek opstoot.

Elzette hou haar asvaal. “En hoe lyk sy? Mooi? Dik? Dun?”

“Ag nee, Zettie, julle kinders van vandag is darem té gewigsbehep. Mooi en dun is nou wragtig nie meer al waarna ek in ‘n vrou soek nie.”

“Ma is nog steeds mooi en dun.”

“Ja, my kind, sy is.” Een kyk en hulle verstaan mekaar perfek.

 

ʼn Week later het hy eers die moed bymekaar om te bel. Sy hande sweet asof hy sestien is. “Uhm …” Hy moet ʼn slaggie keel skoonmaak. “Is daar nog plek?”

“Ja,” sê sy, “daar is nog plek in die kursus.”

“En in jou hart? Vir vergifnis?”

Sy bly lank stil. “Ja, Sybrand, daar is.”

“Hoekom dra jy deesdae soveel grimering?”

“Om die hartseer weg te steek. Maar net werk toe. Saans lyk ek soos ek altyd gelyk het, net ouer.”

“Ek het my streke laat staan, Elize. Jare gelede al.”

“Dit het ek al tevore gehoor.” Maar natuurlik sou Elzette vertel het as hy weer van die smalle weg afgewyk het.

“Hoe moet ek jou oortuig dis regtig die waarheid?”

Lang stilte waarin hy minstens tien jaar ouer word, dan die laggie wat hy so goed onthou. “Kom kursus toe en brei vir my ʼn kombers, Sybrand. ʼn Ordentlike dubbelbedkombers, dan sal ek jou glo.”

Hy was nog altyd ʼn bok vir ʼn uitdaging. “Afgespreek, Elize, afgespreek. En maak dit twee plekke.”

“Zettie,” roep hy kamer se kant toe, “jy gaan saam na die volgende kursus toe, hoor!”

Sy is soos blits uit die kamer en in sy arms. “Natuurlik, Pa, ek oefen lankal in die geheim.”

Vir Vadersdag het hy ‘n tweede kans gekry.