Ja, ons weet almal as jy iets gedoen wil hê, is dit ‘n goeie plan om dit vir die besigste persoon te gee … En ons kla/spog deesdae almal baie graag oor hoe besig ons is. Maar ek begin al hoe meer dink dit gaan eintlik maar oor prioriteite. ‘n Mens kry altyd tyd vir die dinge wat vir jou regtig belangrik is. Of liewer, jy máák daai tyd. Jy DWING eenvoudig in jou dag ‘n rukkie vir daardie spesifieke ding oop. As jy ‘n gereelde aktiwiteit afstel (soos ek die afgelope tyd met verskeie dinge moes doen), wonder jy agterna waar op aarde het jy die tyd daarvoor gekry … want daar is nie skielik ‘n gat in jou skedule nie; dinge vloei soos water eenvoudig in daardie oop minute/ure in.
Die moeilikheid kom by die keuse van wat presies vir jou belangrik genoeg is om ‘n klompie van die kosbare minute van elke dag daarvoor opsy te sit. Want ‘n mens spandeer ongelukkig nie spontaan die meeste tyd aan die dinge wat die heel belangrikste is nie. Nee, ons weet almal daar is dinge wat ongemerk jou tyd opslurp en voor jy jou kom kry, is die dag verby en belangrike goed is nie gedoen nie. Saam met tyd MAAK hang dus ook die uitdaging om nie tyd te MORS nie. En ai, dis ‘n moeilike ene … want daar is deesdae soveel goeie, lekker, opbouende dinge waarmee ‘n mens heerlik kan tyd mors. Op die internet veral. Vra vir my, ek weet. J
Hier aan die einde van die eerste maand van 2012 bevestig ek dus moedig my voorneme om my tyd vanjaar effektiewer te bestuur en minder tyd te gebruik vir lekker dinge wat nie nódig ook is nie. En hoop vir die wysheid om te kan onderskei tussen wat nodig is, wat lekker is, wat noodsaaklik is, wat opbouend is, wat regtig tyd mors is …
Laat verlede jaar het ek doelbewus – met groot gewroeg – my blogposts na een per week verminder. En dit gewoond geraak. So gewoond dat ek tot dusver vanjaar nie eens daarby kon uitkom nie. Dus, opnuut die voorneme: Een sinvolle post per week op hierdie blog.
Watch this space … J