Du Pisanie, Sarah: Liefde in die Ou Kaap

Liefde in die Ou KaapSarah du Pisanie is vir jare al een van die mees geliefde skrywers van romantiese fiksie in Afrikaans. Die tien omnibusse waarin haar werk alreeds saamgevat is, word gereeld op aanvraag van lesers herdruk. Die twee romanses wat in Liefde in die Ou-Kaap opgeneem is, is spesiaal vir die bundel geskryf. Hoewel Sarah veral bekend is vir haar verhale wat in die ou Suidwes, nou Namibië afspeel, is sy ewe tuis in die glorietyd van die Ou Kaap.
In Don Poseidon beland ʼn beeldskone jong edelvrou in die jaar 1790 aan boord van ʼn skip op pad na die Kaap die Goeie Hoop. As adellike ontvlug sy van die guillotine deur vermom as ʼn seun die kaptein se kajuitjonge te word, soos deur haar sterwende pa gereël is. Die bemanning van die skip is egter nie wat sy verwag het nie. Gou kom sy agter daar is dinge aan die gang waaroor sy nie ingelig is nie. In die Kaap wag die onbekende markies Giliomee om met haar te trou. Pauline is verskeur tussen haar vrees vir die onbekende en haar groeiende toegeneentheid teenoor veral die skeepskaptein en die stuurman.
Lillie speel op die Kaapse wynplase van die agtienhonderds af en betrek ook die belangrikste karakters uit Don Poseidon. Lillie is ʼn jongmeisie vasgevang in die waardes en gebruike van die tyd, maar is ook ʼn individu wat in die geneeskunde belang stel en haar nie altyd binne die aanvaarde norme gedra nie.
Beide verhale is geskryf met die doel om die leser van die harde werklikheid te laat ontsnap en in die liefde te help glo. Die leser wat van ʼn romantiese aanslag hou, sal ure se genot in Pauline en Lillie se verhale vind. Ook die manne op wie Pauline en Lillie hulle harte verloor, is van die stoffasie waarin romantiese siele graag wil bly glo. En natuurlik seëvier die liefde telkens, soos dit in ʼn goeie romanse moet gebeur. Lesers wat besorg is oor feministiese kwessies in hierdie verhale, moet onthou dis in ‘n sekere tydsgees geskryf en moet as sulks geniet word.
Liefde in die Ou Kaap is ʼn gawe geskenk van Sarah du Pisanie en LAPA Uitgewers aan haar getroue lesers van baie jare, op ʼn tydstip in haar lewe wanneer sy al gerieflik kon afgetree het.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s