Marlize Hobbs-Russell

  1. Ouderdom: 48
  2. Beroep: Koordineerder vir studentepraktykopleiding in maatskaplike werk by UNISA
  3. Huwelikstatus: Getroud
  4. Waar woon jy? Pretoria
  5. Alleen? Wie saam met jou?

Saam met my vrou, Cheryne en ons dogtertjie, Lente.

In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?

My dogtertjie is outisties en dis moeilik om so iets te verduidelik.

My vrou het kanker en daarom ‘n ko-morbiditeitPAGE BREAK

Ek is bipolêr en het diabetes en asma.

Ek en Cher is AL wie Lente het, as ons iets oorkom, is daar nie iemand wat ons het, wat Lente sal invat nie. Ons MOET oorleef.

Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?

Vreemd rustig en bly, want dit was nodig en ek was bly dat ons land die erns van die situasie besef.

Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is?

Ek het daarmee saamgestem. Dit het my wel benoud gemaak, maar ek het ook gevoel dat ek my lewe lank daarvoor oefen, want ek is eintlik n kluisenaar en gaan nie juis uit nie.

Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?

Ons het aankope gedoen vir genoeg kruideniersware en so aan om ons ten minste 2 maande te hou, want ons wou nie nodig he om uit te gaan nie.  Ons het ‘n lys gemaak en na ons spaargeld gekyk en daarvolgens beplan.  Ek het ook 3 cartons sigarette en OBS & bier gekoop… al drink ons nie juis nie, net in geval ons iets wil he. Ek het ook reelings getref dat ons medikasie by die huis afgelewer moet word.

Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?

Sedert inperking, het ek begin mediteer en ek doen dit steeds.  Ek doen ook elke oggend grounding & protection en gebede. Ek het ook n gratitute app op my foon en skryf elke dag n dankbaarheid daarin.

Sedert inperking word ek ook 4 uur elke oggend wakker en kan dan nie verder slaap nie, ek het dus begin om daardie tyd te gebruik om my stiltetyd te he om my vir die dag voor te berei. 

Ek het baie meer tyd met my kind spandeer en doen steeds, daarvoor is ek dankbaar.

Wat was die moeilikste tydens vlak 5?

My emosionele toestand. Ek was baie op en af en ek het nie geweet hoe om met my angstigheid te deel nie. Ek het probeer om dit weg te steek vir my familie. Ook om elke dag saam met my gesin “vasgekeer” te wees, het n effek gehad.

Wat is vir jou positief tydens vlak 5?

Ons het as gesin nader aan mekaar beweeg en ek het begin met n spirituele reis na binne en ook om die Universe beter te verstaan. Ek het tyd gemaak om in die son te sit en net stil te wees. Ek en my vrou het heerlike tye saam gehad.

Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?

My vrou is baie rustig en sy was net haar rustige self. Lente het haar vriende gemis, maar sy het goed aangepas en ons het lekker kos geëet en dinge saam gedoen. My vrou is iemand wat dinge aanvaar vir wat dit is en dit het my en Lente baie gehelp om minder angstig te wees.

Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?

Ek was ongelukkig oor sigarette, maar ek het op daardie stadium, steeds geglo dis vir die grootste voordeel van die land en daarom kon ek vrede maak daarmee.  Die leë beloftes oor sigarette het my egter ontstel. Dit het n gevoel van onregverdigheid gelaat.

Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?

Goedkoop sigarette…. regtig.  En om te gaan uiteet en om veilig te voel.

Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?

Daar was vir my geen verskil nie.

Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?

Daar was vir my geen verskil nie, al was ek baie opgewonde aanvanklik daaroor.

Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?

Sigarette. Die beperkings wat in terme van rondbeweeg ts 6 – 9 am gemaak is. Die hele attitude van die groep wat besluite neem, het my begin irriteer. Ek het begin twyfel daarin of dinge actually gedoen word soos beloof, bv hospitale in orde kry, beskerming van dokters en verpleegpersoneel gereed kry, ens. Ek het begin twyfel in die regering.

Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?

Nee

Het jy tydens vlak 5 geoefen?

Nee

Hoe het jy dit gedoen?

N/A

Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?

Ek het by my venster uitgestaar na die oefenaars en hulle jammer gekry.

Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?

Weereens was daar beloftes oor sigarette wat nie nagekom is nie. En die inperking se aanhoudendheid het geen aanduidende verskil in terme van voorbereiding vir die virus en siek mense gemaak nie. Ek het dus n geweldige frustrasie met die regering ervaar. Ek het steeds nie die huis verlaat nie en het ook sedert 18 Maart die huis een keer verlaat om dr toe te gaan en dit was al. Omdat my vrou sedert vlak vier weer begin werk het, het sy die inkopies gaan doen waar nodig en ek het nie die huis verlaat nie, nogsteeds nie.

Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?

Dat ons pizza kon bestel en warm pasteie koop. Dat ons dogtertjie vir paar uur per week na haar skooltjie kon gaan en haar vriende kon sien en bietjie besig gehou kon word met skoolwerk.

Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?

Nogsteeds geen sigarette nie. Dit het van baie onskuldige etiese mense kriminele gemaak. My buurvrou verkoop bv sigarette teen duurste, maar omdat sy n haarkapper is, was dit haar enigste inkomste en manier om huur te betaal…

Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?

Ek voel emosioneel baie beter as aan die begin. Ek het ‘n roetine waarin ek mediteer en bid en skryf in my dagboek. My werk is meer aktief sedert Vlak 4 en 3 en ons het gereeld online vergaderings waartydens ek met kollegas connect.

Is jy finansieel erg geraak?

Ja, agv sigarette. Ek moes ook meer pynpille koop, omdat my migraines en fibromialgie vererger het vanwee die stres tydens lockdown.

Wat is nou vir jou die moeilikste?

Ek het aggressie wat ek nie verstaan nie. Ek voel buite beheer. Ek voel dit gaan nie ophou nie. Ek probeer om ‘n moeilike situasie te aanvaar, maar sodra ek dink ek het dit reggekry, kom ek weer in opstand daarteen.

Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?

Hoe mense bymekaar gekom het om ander te help. Hoe mens se vriende bel en ondersteun.

Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?

Met tye. Ek weet ons by 250 000 verby.

Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?

Radio. Wanneer ek werk, het ek die radio aan en dis hoe ek hoor.

Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?

Ek hou nie daarvan nie. Dit maak my negatief en beangs. Dit vererger my depressie.

Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?

Nee.

Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel?

Nee

Hoekom?

N/A

Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA  jou?

Ek wonder waarheen is ons op pad. Wat die uiteinde gaan wees.

Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin?

Ek sou van die begin af in ‘n roetine van meditasie en gebed gegaan het.

Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin?

Dagboek hou om my emosies los te skryf.

Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?

Wat dit het, maar nog nie herstel nie

Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?

Nee