Is nederigheid altyd ‘n bate?

Soos die meeste Afrikaanse vroue van my geslag, is ek deur my liewe ou moeder geleer dat nederigheid een van die heel grootste bates is. Amper so belangrik soos eerlikheid, hardwerkendheid en sindelikheid. Andersom gesien, is hoogmoed dan een van die heel grootste sondes – soos oneerlikheid (wat soms takt genoem kan word!), (selektiewe) luiheid (of die besef dat ‘n mens jouself kan uitbrand) en die vermoë om enige stoffie langer as ‘n paar sekondes te kan ignoreer.
Maar nou leef ons in ‘n nuwe tyd in ‘n nuwe land en ons weet nie meer aldag mooi hoe ons dit met die ou waardes het nie. Ons vermoed nou dat eerlikheid ten alle koste dikwels ander mense baie seer kan maak, dat om SLIM te werk dalk net so belangrik is as om HARD te werk, dat oordrewe sindelikheid jou in ‘n kywende viswyf  kan verander en mense kan weg dryf van jou af. En dat oormatige nederigheid tot jou nadeel kan wees in die werkplek.
Oordrewe nederigheid kan ‘n skuilplek vir ‘n algehele gebrek aan selfvertroue wees. ‘n Sterk selfbeeld is ‘n begrip wat vir baie mense moeilik met nederigheid versoenbaar is. Oordrewe nederigheid kan dit moeilik maak om ‘n kompliment met grasie te aanvaar. Dit kan dit moeilik maak om in jouself te glo en jouself te motiveer wanneer ‘n moeilike taak voorlê. En dit kan die bedagte aan bemarking van jouself en jou werk in ‘n skrikwekkende monster verander.
Die boek Are you there blog? It’s me, Writer deur Kristen Lamb het my die afgelope week van ‘n klomp skuldgevoelens verlos. Me. Lamb se onderwerp is die gebruik van sosiale media (spesifiek  Facebook, Twitter en blogging) om jouself as skrywer te bemark. Tot my vreugde kom ek toe agter dat my fb-liefde en my versotheid op blogging toe al die tyd bates is en nie skandes nie. En dat daar tussen bemarking van jou werk en spog oor jou werk ‘n baie groot verskil is. (Een van my moeilikste – volgens haar broodnodige – spronge was om ‘n fan page op fb te skep … ‘n Fan page? Wie is ek om ‘n fan page te hê? Wie sal nou my fans wil wees? Vermetele gedagte!)
Ek het ook ‘n hele paar dinge verkeerd gedoen. Een daarvan is om ‘n aparte skrywersprofiel te onderhou i.p.v. om jou verskillende belangstellings in een blog te integreer. Dit bring mee dat ek die dapper (!) besluit moes neem om my aparte skrywersprofiel met hierdie blog te versoen. En natuurlik sien ek nie kans om die posts daarop verlore te laat gaan nie, en gee dit nou dubbele werk af om hulle oor te trek hierheen. Vir die afsienbare toekoms sal hier dus ‘n klompie posts verskyn wat jy moontlik al gelees het. Indien wel – vergeef asseblief! Dit sal ook verby gaan. J
En as jy nog nie my fan page op fb gesien het nie, gaan LIKE gerus byhttp://www.facebook.com/Alta.Cloete.Skrywer, hoor. (En ja, ek cringe nog steeds!)

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s