7. Sien die goeie in ander raak:
Party mense noem dit ‘n blinde kol, ander dink dit is naief, maar Nelson Mandela beskou feitlik alle mense as goed totdat hy verkeerd bewys word. Hy aanvaar uit die staanspoor dat jy te goeder trou handel. Net soos wat hy glo dat om voor te gee dat jy dapper is tot werklike dapperheid kan lei, glo Mandela ook dat as jy die goeie in iemand anders kan raaksien, daar ‘n beter kans is dat die goeie sy van sy karakter na vore sal kom.
Dis buitengewoon vir ‘n man wat vir die grootste deel van sy lewe sleg behandel is om soveel deugsaamheid in ander mense te sien. Trouens, dit was soms frustrerend om met hom te praat omdat hy feitlik nooit ‘n slegte woord oor iemand wou rep nie. Hy wou hom nie eens uitspreek oor die man wat probeer het om hom te laat teregstel nie.
… Wat ek van hom bewonder het. Mandela soek altyd na die positiewe, die konstruktiewe. Hy verkies om verby die negatiewe te kyk … Die ergste wat hy dalk oor mense sal se, is dat hulle in hulle eie belang opgetree het.
8. Ken jou vyand:
… saans ‘n amateurbokser … sy vurige afrigter, Skipper Molotsi, het hom geleer dat ‘n bokser wat sukses wil behaal, nie net rats en sterk moet wees nie, maar ook sy teenstander moet ken … Mandela het besef hy sou dit in die politieke arena ook moes doen. Om ‘n vasberade politieke teenstander te verslaan, moes hy hom leer ken en sy swakhede ontdek.
Wanneer jy jou teenstander se guns gewen het, het Mandela gese, moet jy jou nooit daarin verlekker nie. Die oomblik van jou grootste oorwinning is wanneer jy die grootste welwillendheid behoort te betoon. Moet in geen omstandighede jou teenstanders verneder nie. Trouens, gee hulle eerder die geleentheid om hul aansien te red. Dan maak jy van jou vyand jou vriend.
9. Hou jou teenstanders na aan jou
Al het Mandela dikwels sy vriende as vanselfsprekend aanvaar, het hy nooit dieselfde met sy opponente gedoen nie. Hoewel hy soms kontak met sy kollegas verloor het, het hy altyd met sy teenstanders in kontak gebly. Jy kan jou vriende vertrou, want jy kan oor die algemeen aanvaar dat hulle jou sal steun, en jy kan jou vyande vertrou, want jy kan aanneem dat hulle jou altyd sal teenstaan. Maar jou vriendelike teenstanders – hulle is die mense wat jy fyn moet dophou. En Mandela het dit gedoen.
Tog het hy dit diskreet gedoen. Hy sou dit nooit oorweeg om die intelligensiediens of privaat speurders te gebruim om op sy teenstanders te spioeneer nie. Hy het geweet die beste manier om dit te doen, is nie van op ‘n afstand nie, maar van nab. Trouens, wanneer hulle saam in een vertrek was, het hy dikwels aan ‘n teenstander beduie om langs hom te kom sit, sodat hy ‘n oog oor hom kon hou.
Direk aangehaal uit: Op pad met Mandela – Richard Stengel