Ek is baie teleurgesteld in myself oor hierdie fliek. Ek is mal oor diere en mal oor honde, maar ek is eenvoudig te sinies en/of prakties en/of ingelig om die fliek net onbevange te geniet.
Ons skryf so maklik menslike emosies en eienskappe aan diere toe, waar dit dikwels maar net instinktiewe gedrag is wat hul toon. Die werklike Hachiko se gedrag het waarskynlik bloot gevolg op die positiewe versterking wat die betrokke mense hom gegee het. (Die verwelkoming van sy baas. En later die kos wat die mense van die omgewing hom gegee het). Dit is per slot van rekening hoe diere (en mense?) leer – hulle leer gou om gedrag te herhaal as daar ‘n beloning aan verbonde is. Verder pla die voorbeeld wat die mense in die fliek aan dierelefhebbers stel my ook. Die manier waarop Parker die hond indulge is ongelukkig in die werklikheid nie die manier waarop ‘n mens ‘n gelukkige hond kweek nie. ‘n Hond moet grense he en weet watter gedrag is aanvaarbaar en watter nie.
Die fliek steun absoluut net op die cuteness van die hond en die naam (en looks) van Richard Gere. Ek is ook teleurgesteld dat die filmmakers die storie sommer so maklik gevat en bloot in Amerika geplaas het. En sommer nog in vandag se tyd ook. Almal weet nou die werklike gebeurtenis het ‘n hele klomp jare gelede in Japan plaasgevind (die Akita is ook ‘n Japannese honderas) en die impak van die storie sou soveel meer gewees het in daardie setting. Maar natuurlik praat geld die hardste …
Dat dit ‘n lieflike hond is, kan ‘n mens egter nie ontken nie. Ek hoop maar almal trek nie nou los en soek Akitas nie, want hulle is blykbaar baie intelligent en aktief en verwoes jou erf en huis gou-gou as hulle nie baie oefening en stimulasie kry nie. As ek dink hoeveel Huskies (geteel om kilos en kilos per dag af te hardloop voor ‘n slee) verveeld en gefrustreerd in dorpserwe opgesluit staan, krimp my hart vir die Akitas.
Vir die mense wat die diere vir films afrig, het ek die grootste bewondering. Ek sou wat wou gee om te sien hoe hul met die diere werk op ‘n filmstel. Selfs daardie muishond moes ook noukeurig afgerig wees.
Dit was interessant om vir Gere in iets anders as ‘n romantiese fliek te sien. Dalk vir hom ook ‘n lekker afwisseling? Of word hy eenvoudig nou te oud vir romantiese rolle?
Die aangrypendste deel van die fliek was vir my aan die einde toe die werklik bejaarde ou hond so stadig oor die spoorlyn aangestap kom. Die verganklikheid van ons almal was so duidelik op daardie ou gesig geteken.
Dit was steeds ‘n lekker fliek en almal wat minder sinies is en enigsins vir diere lief is, sal dit baie geniet. Versigtig net om so met jou hond uit dieselfde bak jul springmielies te eet en hom jou dan deur die mond te laat lek – honde lek op snaakse plekke, hoor …
Kyk gerus na Greyfriar’s Bobby. Die volledige fliek is op YOUTUBE in ‘n paar installments. Maak net seker dat jy na die oorspronklike een kyk(jarrrre gelede deur Walt Disney gemaak) , nie die re-make nie Dis die ware verhaal van ‘n hondjie is Skotland. Ek dink dis ‘n pragtige ware verhaal en outentiek verfilm. En wag ‘n bietjie- moenie diere se intelligensie en gevoelens onderskat nie.
Dankie – ek sal beslis kyk!
Soos in meeste gevalle het het die fliek nie die ware storie vertel nie.
Mens moet dit onthou.