Ode aan ‘n ma

Jy was die most soft spoken mens wat ek ooit geken het. Of ooit sal ken. Ek het jou nie EEN keer in die 49 jaar wat ons gedeel het, op iemand hoor skree nie. Nie eens éffentjies nie. Regtig, ek bedoel dit letterlik. Wat my verdoem tot wroeging elke keer as ek selfs net effens hard met iemand praat. (Aan nie drie manne in my lewe – Ja, dis werklik so, glo dit of nie!)

Jy was ‘n briljante ouma. Jy was briljant met klein kindertjies. Ek sukkel om ‘n foto van jou te kry waar jy nie ‘n kleinkind aan die hand of op die skoot het nie. Die 22 (tel ek reg?) kleinkinders en omtrent soveel agterkleinkinders (ten tyde van jou dood) sal almal saamstem. Dis ook iets wat ek van jou gekry het. Dit het my my kinders se kleintyd intens laat geniet. En my tien jaar se vreugde saam met my voorskoolse klassies besorg. (Daar was ook baie ONvreugde in daai tien jaar, maar dit was nie die kleintjies se skuld nie!!)

Jy was ongeneeslik fluks. Tot my ongeneeslike irritasie, veral toe ek ‘n tiener was wat net wou lees en droom. Ek sien jou weer in Sutherland se koue verbystoom met opgeskuifde moue. Ek kla ek kry koud. “Jy moet net werk, my kind!” Jou werksetiek was so onvernietigbaar dat ek in my lewe nooit, ooit vir ‘n oomblik sal kan lui wees sonder dat my gewete my bloots ry nie.

Jy was ongeneeslik spaarsaam. Nooit kon ek jou oortuig om ‘n ordentlike bad water te tap nie. Arme ek is dus ook gedoem tot diepe wroeging oor elke vrot aartappeltjie of verlepte slaaiblaar wat ek ooit durf weggooi. En ook tot die ewige neiging om alle oorskietkos liewer op te eet as weg te gooi.

Jy was ongeneeslik onselfsugtig. Ek wens ek kon net naastenby so wees. Ek werk al jare lank hard daaraan om hierdie erfenis opsy te skuif. Ek kan nou al selfs my persoonlike behoeftes voor dié van my gesin stel. Soms. Vir ‘n klein rukkie.

Jy was die nederigste mens wat ek ooit geken het. Toe jy oud en swak was en ek dit verskriklik gevind het om jou in die stort te moet help, het jy met daai twee diepbruin oë na my toe opgekyk en ek het geen vernedering of seergemaakte trots daarin gesien het. Net vertroue. En dit het ‘n vreugde geword om jou te help.

Jy was ook ‘n ongelooflike pessimis wat altyd die donker wolk binne-in die silwer randjie kon raaksien. Jy was altyd oor ons almal bekommerd en het nie in prys geglo nie. Jy het nie van my skryfwerk gehou nie. Jy het nooit gewys jy’s trots op my nie. Jy kon my irriteer soos geen ander mens op aarde nie.

Maar weet jy wat, Ma? Ek het jou dit laaaaankal vergewe. En ek sal jou wragtig my lewe lank liefhê.

Saluut, ouma Sannie! Ek kan nie glo dis al ses jaar nie. En ja, ek dink nog steeds soms wat ek in daardie laaste tyd anders sou doen as weer die kans kon kry. En is steeds nederig dankbaar dat ek die een kon wees wat jou laaste nag met jou kon deel, wat jou hand tot die einde kon houvas en nou jou eenvoudige trouring met trots en liefde kan dra.

NS. En nee, ek het haar nooit, ooit gejy en gejou nie.

NS. En ja, ek sit met ‘n glas wyn en tjank dat dit klap. Ek hoop my lesers ook – dis goed vir die gees!

5 gedagtes oor “Ode aan ‘n ma

  1. Hierdie is `n wonderlike stukkie skryfwerk, snydend eerlik en so tiperend van die kompleksiteit van die verhouding tussen ’n ma en ’n dogter. Vra my, ek weet. Ek hoor die liefde, ek hoor ook die misplaaste skuldgevoelens. Ken jy die uitdrukking: my mother is a travel agent for a quilt trip?
    Ek – en my kinders – het in die verlede nogal lekker gespot daarmee. (Deesdae wens ek soms ek is ’n meer suksesvolle travel agent!)
    Ek dink baie dogters neem hulle voor om nie dieselfde ‘foute’ as hul ma te maak nie en time and again voel die volgende geslag weer so oor jou. In jou geval is dit sekerlik effens verwater omdat jy seuns het en die verhouding tussen ’n seun en ’n ma weer ’n dinamika van sy eie het.
    Alta, ek wil jou so graag ’n drukkie gee. Weet jy, dis ook ’n kultuurding – of ’n godsdiensding, ek weet nie mooi nie. Maar “ons’ ma’s het gehuiwer om hul kinders te prys. My ma het graag die Bybelversie aangehaal: want as ek roem, sal ek in Christus roem. Ek vermoed ek haal dit nie heeltemal korrek aan nie. En hoewel ek dankbaar saamstem dat niks wat ek regkry uit eie krag is nie, vermoed ek dit was ’n tipe nederigheid, wat dalk meer met hulle as met ‘ons’ te doen gehad het. “Hulle” kon dit nie waag om te veel met hul kinders te spog nie. Dit sou hoogmoedig wees, of om die ‘noodlot’ te tart, of so iets kompleks. Die mens, glo my maar, is ’n masjien met baie draadwerk en fyn ratjies wat knars en kraak en tekere gaan. Ek het ’n foto van jou ma gesien – en dit was amper asof ek na ’n foto van my eie ma gekyk het.
    Ek sluit met ’n effense grappie. Ek wou tog so graag hê my ma moes my Huisgenoot-stories lees. Maar sy het daaroor gefrons. Haar reaksie: “Ek hou van ’n storie wat begin met: Eendag was daar ’n man . . . ”
    Ek hoor so wat jy sê, ek was – en is steeds – ook baie mal oor my ma. En ek is spyt dat ek eintlik te laat in my lewe iets ontdek het wat ek so hoop mý kinders gouer gaan besef: ’n Ma is ook ’n mens!

    1. Ek kan net dankie sê vir jou begrip en vir die ondersteuning van my blog, Krsitel! So lekker om te weet daar is mense wat my skryfsels verstaan.

  2. Jammer vir die “tegniese” vraag op ‘n emosionele stuk – Wat presies is ‘n “ode”? Is daar spesifieke kenmerke aan ‘n skryfstuk wat as ‘n “ode” geklassifiseer word?

Lewer kommentaar