Hier volg ‘n kort uittreksel uit Geur van Genade, wat in Junie 2010 verskyn het:
Sy ruk tot haar sinne toe haar motor gevaarlik op die grondpad swaai. Konsentreer, Lana, konsentreer … Sy het jare laas op grondpad bestuur; die stad bederf ‘n mens. Haar kneukels klou wit om die stuurwiel. Nie sy of haar motor is meer tuis in hierdie harde, kaal landstreek nie.
Maar nou het die stadslewe haar afgelaai. En soos toe sy ‘n dogtertjie was, ken sy net een pad as sy die slag regtig in die moeilikheid is – die pad na haar ousus toe.
Want die pad na God lyk nie meer vir haar na ‘n opsie nie.
Sy weet nie of die loomheid wat oor haar hang blote uitputting, of die uitwerking van die nuutste pille is nie. Weer eens minstens drie weke voor sy kan begin wonder of die goed miskien tog help om die donkerte te laat lig. Nóg drie weke onder in die put sal seker nie ‘n verskil maak nie. Die vorige pille het meer kwaad gedoen as goed. Probeer en tref, en elke keer moet jy wag en hoop vir die beste; sy het net nie meer die krag daarvoor nie.
Of die depressie die oorsaak of die gevolg van al haar ellende is, kan sy ook nie meer sê nie.
Diep asemhaal, kyk rustig rondom jou, Lana, verslap die krampagtige greep op die stuurwiel. As sy nou hier kom staan en verongeluk, gaan dit net ‘n yslike beslommernis vir ‘n hele klomp mense beteken. En ‘n las vir haar medemens wou sy nog nooit wees nie.
Marius sê natuurlik dit grens aan belaglikheid, dié ding dat sy permanent aan die agteroor buig is vir ander mense. ‘n Regte people pleaser, sy. Maar sy wou nog altyd so graag almal rondom haar gelukkig en tevrede hou.
Nie dat sy dit enigsins regkry nie. Of enige hoop het dat sy dit ooit sal regkry nie.
Die Karoovlaktes strek na alkante, so groot dat dit jou benoud maak. Hier en daar ‘n eensame klipkoppie met die pers skynsel van die eerste vyebos, ver weg die blou glooiings van die platorand. Om haar, tussen gruisklip en sandsloot, die lente se kortstondige, vurige bloeityd in volle swang.
Nou is dit in elk geval te laat om te stres oor die impulsiwiteit van hierdie rit. In hierdie wêreld vat ‘n selfoon nie sommer ‘n sein raak nie. Sy kan op hierdie oomblik niks op aarde doen behalwe om die kar in die pad te probeer hou nie.
Vir wat nou eintlik die selfoon inpak? Om vir Marius te treiter? Te hoop hy skakel keer op keer tevergeefs? Hoe kinderagtig! Omtrent so kinderagtig soos die hele wegloopsessie. En onverantwoordelik. Uiters onverantwoordelik. Sy kan hom hoor: “Wat het jy gedink?” Hy sal woedend wees, absoluut woedend. Hy’s deesdae chronies woedend vir haar.
Sy byt die trane wanhopig terug. Van Marius kan sy gerus maar begin vergeet. Maar hoe doen ‘n mens dit? Hoe vergeet jy van die middelpunt van jou ganse lewe?
Is hy ooit nog die middelpunt van haar lewe? Dat sy dit lankal nie meer vir hom is nie, is in elk geval ‘n feit wat sy nou in die oë sal moet kyk, of sy nou wil of nie.
Dis tyd vir ‘n verandering in haar lewe. ‘n Groot en ingrypende verandering. Maar wat? Waarheen? En waar moet sy die energie vandaan kry?
Dit neem kosbare oomblikke voor sy besef sy het ‘n papwiel. Netmooi die kosbare oomblikke waarin die skade waarskynlik verdubbel. Hierdie skerp leiklippe speel hoeka nie met ‘n band nie. Alweer was sy amper die gruisslote in. Sy sal haar selfbeheersing moet behou; hier is niemand om haar te hulp te snel nie.
Dan maar kant toe trek. Gedwee haar hele pakkerasie uitpak om by die noodwiel te kom. Vir wat nou ook soveel saamsleep? Yslike boks met boeke, al die ou geliefdes, paar nuwe gunstelinge. Haar skootrekenaar, dik oefeningboek, potloodsakkie vol skryfgoed. Asof die stories eenvoudig uit haar pen gaan vloei!
Haar eie lewe klink op die oomblik soos ‘n swak roman – wat laat haar dan dink sy is nog in staat om iets te produseer wat ander mense sal wil lees?
Die stilte suis om haar. Sy kyk nie eens of iewers ‘n kar aankom nie, sy weet die kans is nul. Almal wat nog dalk die naweek hier rond was, is nou terug waar hulle hoort. Hier kan ‘n verlore siel lank staan en wag vir beter dae. En sy het nie eens water by haar nie. Die veld ruik na kruie, die middag lê stil en warm om haar, hier waar die son die hel uit jou brand in die somer.
Hier kom die somer …. dae soos heuning … warm en lou … Kerkorrrel se melancholiese stem draai in haar kop. Nie wat sy vandag nodig het nie.
Sy staan en staar die pap band ‘n lang ruk moedeloos aan. Duidelik sien sy weer die toneeltjie toe Mariaan die slag saam met haar en Marius plaas toe is en hulle ook op hierdie stuk pad ‘n papwiel op die lyf geloop het. Marius en Mariaan het die band al stryende omgeruil en sy het handjies gevou staan en toekyk. En gewonder hoekom die twee nie in staat is om meer as tien minute in mekaar se geselskap te wees sonder om aan die baklei te raak nie.
Omtrent die enigste ding waaroor hulle saamgestem het, was dat sy tog net uit hulle pad moet bly. Sy was van altyd af beter met dink as met doen – dit weet hulle altwee. Die verskil kom net by hoe hulle daarop reageer.
Vandag is hier niemand om te help nie, sy sal die mas self moet opkom. Sy’s half verbaas oor die koppigheid wat sy in haarself ontdek. Sy sal die verdomde wiel omruil, al is dit die laaste ding wat sy doen. Verbete probeer sy onthou hoe die twee stryendes die taak aangepak het. Goed … eerste die domkrag … êrens moet ‘n plekkie wees waar die ding pas. Dié kry sy sowaar redelik gou. Nou die ellendige kar in die lug kry. En sowaar – sy kry dit reg. Nou die moere. Sy sukkel en sweet en vloek naderhand kliphard in die stilte in, maar sy kry hulle waaragtig los. En deur die genade lyk dit of die noodwiel in orde is. Dink nie sy’t al ooit in haar lewe gekyk of die ding styf is nie. Sy skeur omtrent haar arms van haar lyf af om die moere weer ordentlik vasgedraai te kry. Haar entoesiasme vir die lewe loop nie op die oomblik baie hoog nie, maar vir verongeluk is sy darem nog nie lus nie.
Toe sy eindelik klaar is, is sy nie net gedaan en dood van die dors nie, maar ook onverwags trots op haarself. Sy – wat deesdae voel of sy niks op aarde meer kan reg doen nie – het dit reggekry. Darem iets om voor dankbaar te wees.
Maar die euforie duur net ‘n paar oomblikke, toe bly net die angs en onsekerheid weer oor. Sy smyt die spul bagasie met skielike woede saam met die pap band in die kattebak en trek weg dat die klippers spat. Haar moed is besig om haar te begewe.
Sy het nou tot hier gevorder, sy kan nie nou bekostig om om te draai nie. Sy wonder waar het sy vanoggend die energie gekry om eenvoudig haar goedjies te pak en te ry. Nou is daar in elk geval niks daarvan oor nie. Dis een van die swaarste goed, die tamheid wat haar lewe oorgeneem het. Waar opstaan in die oggend die grootste oorwinning van die dag word, en saans se neerval vir nog ‘n slapelose nag die grootste motivering wat jou deur die dag moet kry. Soveel keer het sy al vir Marius probeer verduidelik dis meer as blote luiheid, belangeloosheid, moegheid. Dit lê jou ledemate vol, jou kop vol, jou hart vol. Die maak van ‘n koppie tee, die pos van ‘n brief word ‘n hindernis wat jy moet oor. Elke klein beslissing word ‘n berg, elke molshoop ‘n vulkaan.
Om nie te praat van die onuitspreeklike ellende wat dit dan word om voor ‘n matriekklas vol vrae en hormone te staan en die wondere van die Afrikaanse letterkunde aan hulle te probeer tuisbring nie.
Vanoggend se uitbreek het haar laaste bietjie energie getap. Sy lyk en voel soos ‘n verwaarloosde vadoek in ‘n sleg huisvrou se kombuis: muf. Sy stink soos ‘n muwwe vloerlap. Sy stink na vrees en twyfel en ongeloof.
Wat probeer sy in elk geval doen? Afstand kry, perspektief kry, besluit waarheen sy met haar lewe moet gaan, sê sy haar rympie vir haarself. Sênou Marius gooi haar uit as sy teruggaan? Sênou sy wíl nie teruggaan nie?
Sy hef haar oë op na die persblou van die berge waarheen sy oor die eindelose vlakte op pad is. Vader, waar sal my hulp vandaan kom? Sy stem is maande lank al vir haar stil. Sal sy dit hier dalk weer kan hoor, hier waar die stilte die meeste geraas maak?
Die Vader antwoord haar met nog ‘n pap wiel. Of dalk was die noodwiel nie so perfek soos sy gedink het nie. Dis in elk geval nie eintlik die antwoord wat sy in gedagte gehad het nie.
Wow… Ek is beslis die eerste wat hierdie boek gaan koop!!!
Alta, ek kan nie wag vir my boekpakkie nie!
Dit lyk na my tipe boek daardie!!! baie geluk, gaan so gou moontlik aanskaf
Alta, jy toor met doodgewone woorde. Ek sal beslis jou boek lees. Dit klink fantasties.
Dankie, Cecilia! Ja, woorde is die gereedskap waarmee die skrywer werk – sonder ons lieflike taal kon ons niks skep nie.
Wow, baie geluk Alta, dit klink na nog n lieflike verhaal, soos al jou ander. N moet lees vir my.
Bets, hierdie een is die heel eerste in die reeks. Ek probeer vir die nuwe lesers die geheelprentjie gee. Ongelukkig is hy nie meer in papiervorm beskikbaar nie, maar wel as e-boek. Groete!
Hallo Alta,
Ek is dringend opsoek na die boek Geur van Genade, kry dit nêrens nie. Ek het die laaste 2, maar wil graag die een ook hê. Jy het nie dalk ‘n ekstra kopie of waar ek een kan aanskaf nie. Oral is dit uitverkoop!
Groete
Estelle
Estelle, ek het ongelukkig nie vir jou een nie. Jou beste kans is by ‘n tweedehandse boekwinkel of op die internet. En natuurlik as e-boek kalahari.net. Hoop jy kom reg!
Geur van Genade is ‘n baie goeie boek, ek beveel dit vir almal aan. Kan nie wag om Geur van Vergifnis nou te lees nie.
Groete
Bernice
Baie bly jy het dit geniet, Bernice!