Mei 28, 2010 at 12:54 nm (Beveg depressie, Depressie, Geestelik, Gesondheid, Inspirasie, Life coaching (lewensafrigting), Random gedagtes, Skryf, Spiritueel) · Wysig
Tags: life coaching, lewensafrigting, depressie, depression, Afrikaans, gedagtes, dieet, oorgewig
Ons weet (hopelik) die vrees vir verwerping is in die meeste mense se lewe die grootste ding wat hul weerhou daarvan om enigiets aan te pak. En as ‘n mens nooit iets nuuts aanpak nie, gaan jy ook nooit iets bereik nie. Wat natuurlik daartoe lei dat jy nooit jou volle potensiaal bereik nie – en ook dalk dat jy maar min vir jou medemens beteken.
Wat vir die een persoon verwerping is, raak die ander dalk glad nie. Vir een persoon is ‘n kollega wat hom nie vriendelik genoeg groet nie, al verwerping. Vir ‘n ander is dit ‘n toekenning wat hy nie ontvang het nie. Die verlies van ‘n geliefde aan die dood kan selfs as verwerping ervaar word. Al lyk iets vir ander mense na ‘n klein dingetjie, is dit vir daardie persoon iets groots. Dit help dus netmooi niks om vir ‘n ander te se: Ag toemaar, dis nie so erg nie! Want vir hom IS dit erg.
Ons dink gewoonlik verwerping volg op mislukking. Die leerder het ‘n toets gedop en nou kan hy nie saam met sy groep voortgaan na die volgende graad nie. Die meisie se dieet misluk en sy voel sy’s nie aanvaarbaar soos sy is nie. Mislukking is natuurlik ook vir verskillende mense verskillende dinge. Vir die een student kan 70% ‘n groot mislukking wees, vir ‘n ander is dit dalk so goed soos ‘n wonderwerk. En natuurlik help iemand anders se trooswoorde ook hier maar bitter min, want daardie persoon ervaar dit as sy werklikheid.
Daar is snaaks genoeg ook ‘n ding soos vrees vir sukses. Want sukses bring ook sy eie sarsie implikasies (en komplikasies!) mee. Jy handel dalk ‘n transaksie van duisende suksesvol af – en nou kry jy die verantwoordelikheid van miljoene. Jy voer ‘n suksesvolle onderhoud met ‘n moeilike persoon – en van nou af kry jy al die moeilikstes. Jy verloor dalk ‘n klomp gewig – en nou voel jy almal hou jou met ‘n arendsoog dop om te sien of/wanneer jy weer begin optel.
Mag jy hierdie naweek ten minste een ding doen wat jou bang maak. En mag jy sukses he daarmee – en die komplikasies/implikasies van jou sukses met groot dapperheid hanteer!