Dibi Symington

Muizenberg

  1. Ouderdom: 29 jaar en 236 maande
  2. Beroep: Staatsaanklaer
  3. Huwelikstatus: Getroud
  4. Waar woon jy? Vryheid, KZN
  5. Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.) Man, twee kinders, skoonouers en Boston Terriër
  6. In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend? My man en skoonouers is al drie in die hoërisiko-groep as gevolg van ouderdom en onderliggende gesondheidsprobleme. Ek het egter deurgaans gewerk (werk met die publiek) en is ergo ERG oor persoonlike ontsuiwering – stort ten minste twee en dertig keer ‘n dag, ontsmet hande, hare, klere en skoene elke keer as ek by die huis kom, sosiale distansiëring; die hele pakket en nog.
  7. Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is? Ambivalent. Aanvanklik vol verwagtinglose blymoedigheid. Ek het egter van die begin af my bedenkinge gehad oor die grondwetlikheid daarvan en moet bieg – aanvanklik was ek dankbaar oor die ekstra tyd want ek was besig om ‘n manuskrip klaar te maak – maar hoe langer ons daarin is, hoe meer is dit duidelik dat die land se beste belang nie noodwendig die regering se hoogste prioriteit is nie. Vir die eerste keer begin ek nou moerig, opstandig, rebels en plain moeilik raak.
  8. Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is? Ek het steeds gewerk, so dit het my nie te veel geraak nie.
  9. Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring? Ek was in die Kaap en het die Swartbergpas deurkruis.
  10. Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander? Sien 10
  11. Wat was die moeilikste tydens vlak 5? Om my man met sy gesondheidsprobleme veilig te hou
  12. Wat is vir jou positief tydens vlak 5? Die hele land was positief. Dit was asof daar ‘n samehorigheidsgevoel was; asof ons almal saam in die ding was.
  13. Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was? Hulle het beslis almal gewig opgetel!
  14. Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar? Met geringe irritasie, maar steeds met blymoedigheid.
  15. Wat het jy die meeste gemis op vlak 5? Eerlik nie veel nie. Ek was nie so ingeperk as baie ander nie – my werk is tot noodsaaklike diens verklaar. Dit was maar steeds die roetine van werk en huis. Ek dink egter die res van die gesin het gesukkel om aan hulle verlies aan vryheid gewoond te raak.
  16. Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak? Net soos met die vorige vrae, nie te veel nie.
  17. Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4? Die geringe uitbreiding van vryhede. Dit was egter so min, dit het nie veel van ‘n verskil gemaak nie.
  18. Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4? Die regering se roekelose en somtyds gemene manier waarop hulle onsinnige en drakoniese maatreëls afgeforseer het.
  19. Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het? Nee
  20. Het jy tydens vlak 5 geoefen? 😳Ek het nie eens voor vlak 5 geoefen nie…
  21. Hoe het jy dit gedoen? Gesit…
  22. Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar? Geskryf in die oggend en inkopies gedoen in die middag.
  23. Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak? Ek moes skielik weer voldag in die hof sit!
  24. Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek? Wyn!
  25. Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek? Die feit dat niemand hulle gedra asof hulle ingeperk is nie.
  26. Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel? Uitgeput. Ek is verantwoordelik vir die welsyn van vyf ander mense (en ‘n hond) en ‘n norring kriminele. Baie van my vriende in wetstoepassing is siek en die eerste van my kollegas is eergister oorlede.
  27. Is jy finansieel erg geraak? Gelukkig, met genade van Bo (nog) nie
  28. Wat is nou vir jou die moeilikste? Om vrede te maak met die idiotiese manier waarop die regering die pandemie wanbestuur.
  29. Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is? Ek het geleer donuts bak.
  30. Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA? Nee. Ek het opgehou nuus kyk en luister.
  31. Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19? Nooit.
  32. Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel? Ek kyk nie meer nuus nie.
  33. Bly jy op hoogte van die oorsese situasie? Nee
  34. Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel? N.v.t
  35. Hoekom? N.v.t
  36. Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou? N.v.t
  37. Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin? Nie veel nie. Ek sou steeds gewerk het.
  38. Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin? Ophou nuus kyk
  39. Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het? Nee
  40. Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf? ‘n Kollega is eergister oorlede.