RSS

Geseende sameswering

“Gaan bad nou asseblief tog, Marlene, my maag is al seer gelag!” Sonika trek die kamerdeur dankbaar agter haar toe.  Sy moet sowaar ‘n bietjie asem skep solank haar vriendin in die badkamer besig is; Marlene is vanaand weer stuitig verby.

En hoe gaan hulle twee saam ooit vannag tot ruste kom in die pragtige ou koperkatel?  Die ander klomp is almal in kamers met respektabele driekwartbeddens, maar hulle twee se plek lyk pure wittebroodsuite.  Sy is een wat van haar persoonlike ruimte hou, en hulle is darem nie meer kinders nie.

Sonika sak op ‘n bankie onder ‘n ou peperboom neer. Die maanlig lê bleek oor die klein binnehof van die Lord Milner; donker skadu’s huiwer onder die knoetsige ou bome.  Die pikswart Karoohemel is besprinkel met glashelder sterre. Toe die krieke vir ‘n oomblik stilraak, kan sy Suzanne se hoë lag hoor, gevolg deur Hendrien se bedaarde diep stem, sekerlik weer een van haar onvergeetlike stories aan die vertel.  Uit die volgende twee kamers hoor sy niks, maar sy ken haar vriendinne so goed dat sy presies weet wat in elke kamer aangaan.

Die hoeveelste jaarlikse wegbreek van die Loslit Leesklub is dit nou al?  Seker maklik vyftien jaar gelede het sy en Marlene eendag oor ‘n koppie koffie impulsief besluit hulle gaan ‘n leesklub begin – en dit gaan ‘n anderste leesklub wees.  G’n stywe vergaderings en formele lesings slegs oor polities korrekte of letterkundig hoogaangeskrewe boeke wat statusbewuste siele lees net omdat dit die inding is nie.  O nee, die Loslit Leesklub sou ‘n loslit aanslag hê, lees wat hulle wil en vergader soos en waar hulle wil.  G’n wonder hulle mans het sommer vroeg-vroeg al skertsend van die Loslyf Leesklub begin praat nie!

Hulle het al vergaderings bo-op Paarlberg én Tafelberg op hul kerfstok, op die luukseseiljag van Marianne se ryk skoonfamilie, onder Kirstenbosch se kamferbome, op seilstoele midde-in Namakwaland se blommeweelde, op ‘n stil weeksoggend op die trappies by die haaitenk in die Kaapse Akwarium.  Vandag het hulle ‘n prettige middag met hul stapels boeke in een van die Lord Milner se pragtige ou sitkamers deurgebring; môre het onder andere die Louw-huis op Sutherland op die spyskaart.

Sonika sluit haar oë met ‘n tevrede suggie en laat rus haar kop teen die skurwe stam agter haar.  Moeiteloos verplaas sy haarself meer as honderd jaar terug in die geskiedenis van Matjiesfontein; roep die atmosfeer van die vervloë militêre hospitaal op.  Sy hoor die flink voetstappe van die jong meisies wat uit England gekom het om die soldate van die koningin se ryk te verpleeg in hul stryd teen die verbete Boeremagte, hul uniforms kraakwit, hul peaches and cream gelaat sorgvuldig beskerm teen die bitsige Afrika-son.  Sy sien poëtiese, handgeskrewe liefdesbriewe, wandelinge in die skemer, skugter liefkosings en hartverskeurende afskeidstonele.

Maar bowenal sien sy die liefde wat uiteindelik selfs die grootste ellendes oorwin.  As onversadigbare liefdesverhaalleser en –skrywer is dit haar spesiale missie in die lewe om die onoorwinlikheid van die liefde in elke liewe situasie te sien.

Ai, hoe mis sy nou vir Marius!  Heerlik soos vanjaar se wegbreek saam met  haar mede-boekwurms weer eens is, is dit maar steeds na hom wat haar hart gou-gou verlang.  Dit kan nie anders nie; meer as dertig jaar vul hulle nou al elke holte in mekaar se harte en mekaar se lewens.

Elke holte, ja.  Behalwe daardie één donker, leë gat.  Daardie pyn probeer hulle verbete doodswyg.

Net jammer dit werk hoegenaamd nie.

Deur die rustige roering van die slanke peperboomtakke skyn veraf liggies uit die ander suites. Sy raak bewus van ander lewens as dié van haar vriendinne rondom haar, die beweging van vreemde lywe, dowwe stemme, ‘n veraf lag nou en dan.  Die maanblou Karoonag gee aan alles ‘n skyn van anonimiteit, laat die grense van die stowwerige binnehoffie verskuif, laat haar met ‘n gevoel van volkome onwerklikheid en algehele isolasie.

Haar altyd parate verbeelding teken maklik die paartjies in die ander kamers:  ‘n bejaarde egpaar op ‘n laaste selfstandige wegbreek; bloedjong lovers wat onder Ma en Pa se oë wil uitkom; dalk ‘n paartjie wat vir die eerste keer na die kleinding se geboorte alleen weggaan en nou verbaas ontdek hoe pynlik hulle hom mis.

En dalk, wie weet, werklik ‘n paartjie wat vir die naweek wegglip om ‘n verbode liefde te kom vier.  Of dalk te kom begrawe.

Die los gelukkies is altyd die maeretjies, het die gids vanmiddag onder groot gelag verklaar op sy rondte met die groepie vriendinne deur die geskiedkundige geboue van die eertydse militêre hospitaal, afgerond met Ou Ryperd blikkerig, maar bekoorlik, op die regop kroegklavier.  As dit ‘n frisserige vrou is, dan weet jy die tweetjies is regtig man en vrou en hier vir ‘n broodnodige wegbreek-naweek.  Maar as sy brandmaer en opvallend opgedollie is, kan jy maar weet dis ‘n gesteelde nawekie waar daar volbek aan die groen gras oorkant die draad gewei gaan word.

Gruwelike veralgemening, het sy gedink, terwyl hulle soos ‘n swermpie kwetterende, middeljarige, goedversorgde spreeus deur die ruim ou vertrekke gevul met fluweel en brokaat en kosbare skilderye gestap het.   Maar die welsprekende gids se vinnige bruin oë het sekerlik al baie paartjies by hierdie geskiedkundige vesting sien kom en gaan – wie is sy om met hom te stry?

In die diep stilte klink geluide soms onverwags helder, sodat sy vlugtig opskrik uit haar mymering.

Meteens kantel die Karoosterre bokant Sonika gevaarlik uit hul baan.  Daar is net een man met só ’n lag.

Marius.

Háár  Marius.

Maar Marius is op ‘n spanbou Weskus toe, sy het self vanoggend nog sy naweektassie gehelp pak.

SONIKA KRY METEENS KOUD, slaan haar arms beskermend om haar bors, krimp kleiner in die diep skadu onder die boom.  Sy moet konsentreer of haar tande gaan aan die klapper van skrik.

Saam met wie is Marius? Hoe durf hy, hoe dúrf hy?

En hoekom is dit vir haar so ‘n skok?  Sy is tog al maande lank bewus van ‘n ongedurigheid by hom, vreemde stiltes, soms onverwagse afwesighede.

“Sonika, waar is jy?”  Marlene se oë mis niks – wat op aarde gaan sy máák?

“Sjuut!”  Sy strompel verbouereerd onder die oorhangtakke uit na waar Marlene  in hul suite se deur staan.  “Moenie so skree nie, man!”

“Jammer, ek het net bang geraak jy het verkas na die ander toe en ek wil tog niks mis nie!”

Sonika druk verbouereerd by Marlene verby.  Haar lugborrel het gebars, fyn en flenters, onherstelbaar uitmekaar geskiet.  Marius het genoeg gehad van haar; hy’t vir hom iemand ander gekry.

Dalk iemand wat nog sy hartsbegeerte kan – en wil – vervul?

“Ek … ek gaan net gou badkamer toe.”  Sy kan nie gou genoeg onder haar vriendin se skerp oë uitkom nie.  Uit die spieël staar ‘n bleek gesig met brandende, verskrikte oë haar koorsig aan.  Van pure skok stoot ‘n dwingende naarheid in haar op.  En onmiddellik is sy terug in die nagmerrie van daardie enkele rampspoedige swangerskap knap na hul troue.

As hulle net daardie kind kon behou.  Maar haar liggaam het die fetus verwerp, uitgestoot.  En toe het sy geweet Pa was al die tyd reg:  haar straf sou sy kry.

Sy het die miskraam gelate aanvaar en geweier dat hul weer probeer vir ‘n baba.  Sy het haarself oortuig dat haar liefde vir Marius genoeg sou wees.  Maar nou, na soveel jare, het haar fout haar ingehaal.

Sy kan nie die hele nag hier bly sit nie.  Wat gaan sy vir Marlene sê?  En die ander?

Het haar standvastige man nou totaal gek geword?  Hy weet tog hulle slaap vanaand hier oor voor hulle môre aanstoot na Sutherland se sterrewag en lenteblomme!  Is dit sy siek idee van ‘n grap?  Of is dit nou wat ‘n middeljarekrisis aan ‘n man doen?

Hoe lyk dit nou in die ander kamer oorkant die klein binnehof?  Sou Marius iets spesiaals vir die naweek aangeskaf het?  Een van daardie gladde, blink bokserbroekies met allerhande stout sêgoed?  En die vrou – is sy maer?  Jonk?

Sy het Marius te ver gedryf met haar buierigheid en geneigdheid tot stilstuipe.  Hoe moes hy weet dis juis wanneer die verlange haar oor raak?  Sy gaan hom verloor.  Meer as dertig jaar lank het hy sy alles vir haar gegee, ten spyte van haar weiering om hom te gee wat hy die heel meeste begeer:  ‘n kind.

Maar sy kon nie.  Sy het geglo die miskraam was hulle straf en niks of niemand kon haar van die teendeel oortuig nie.

Sy stap soos ‘n stokou vrou terug kamer toe.  Marlene wag haar angstig in.  Marlene was nog altyd een wat ‘n stemming blitsvinnig kon aanvoel; sy kan vergeet van probeer wegsteek.

“Sonika?  Wat gaan aan?  Jy lyk of jy ‘n spook gesien het!”

Haar bene het in jellie verander; ‘n sonbesie sing verwoed in haar agterkop.  Sy gaan sit versigtig op die bed se kant.  “Marlene … ”  Toe begin sy verlore huil.  “Marius … Marius is hier!  Hier in die hotel!”

Marlene gaan sit langs haar.  “Hoe weet jy dit?”  Tot haar verstomming is daar lagliggies in haar vriendin se oë, ‘n onverklaarbare blos op haar wange.

“Ek het hom hoor lag.  Ek ken sy lag!  Marlene, my man is hier met ‘n ander vrou!  Hier in die hotel, terwyl hy weet ons klomp slaap vanaand hier!  Het hy mal geword?  Is dit sy manier om my te straf?”  Marlene is die enigste wat weet van die donker gat.  Net eenmaal het hulle daaroor gepraat, nooit weer nie.

“Nee, nee, Sonika, nou soek jy bobbejane agter bulte wat nie eens bestaan nie!”  Marlene skakel die ketel aan, skep kitskoffie en twee ruim lepels suiker in ‘n beker.  Maar sy lyk nie soos ‘n besorgde vriendin nie; sy lyk soos ‘n skoolkind wat op ‘n stoutigheid betrap is waaroor sy nie regtig spyt is nie.

“Marlene?”  Sonika ondervind ‘n onstuitbare drang om die koffiebeker uit haar hartsvriendin se goedversorgde hand te klap.  “Jy weet!  Toe komaan, jy kon nog nooit vir my lieg nie!  Jy van alle mense!”  Sy sluk verbouereerd aan die gifsterk koffie, brand haar mond, stort ‘n vieslike bruin blerts op die kraakwit beddegoed.

Slaap Marius ook vanaand in so ‘n reinwit bed?  Saam met wie?  Iemand wat sy ken?

“Stadig, stadig, Sonnie, dis nie wat jy dink nie!”

“Hoe kan jy dit sê?  Wat is dit dan, wat moet ek dink?”

Marlene sak langs haar op die bed neer, neem haar rukkende hand in hare.  “Bel hom, vind uit wat aangaan.”

“Jy’s seker lekker laf?  Dink jy ek gaan so ‘n gek van myself maak?”  Nie dat sy nie alreeds die gek is nie.

“Nou SMS hom dan, dóén net iets!  Ek kan jou nie in so ‘n toestand aanskou nie!”

Sonika plak die kofiebeker aggressief op die bedtafeltjie neer; sy is eintlik meer lus om dit teen die muur stukkend te gooi.  Toe staan sy moeisaam op, kry haar foon uit haar handsak en stuur ‘n SMS aan haar man:  WIE IS SY? tik sy woedend. En: HOE DURF JY?? Sy weet hoofletters lees moeilik en beteken jy skree op die ontvanger van jou boodskap, maar dis soos sy voel:  sy voel vir skree, hard en lelik en aanhoudend.

Haar telefoon lui feitlik onmiddellik.

“Sonnie, dis nie wat jy dink nie.”  Is dit waaragtig al wat almal vir haar kan sê?

“Nou wat is dit dan?”  Sy klou die foontjie krampagtig vas.  Haar hande sweet, haar hele lyf bewe.

‘n Lang stilte suis oor die foon.  Langs haar raak sy weer van Marlene se eienaardige houding bewus – ontsteld, maar met ‘n lag wat onder die opppervlak huiwer.  Het die hele wêreld dan nou gek geword?

“Dis ons dogter, Sonika.  Ek het ons dogter opgespoor, vir die afgelope tyd gereeld gesien.  Sy is ‘n lieflike vrou, en sy wil haar ma leer ken.”

Die kamer kom in beweging.  Die outydse wastafel met geblomde waskom en beker, die swaar gordyne, die blink knoppe van die koperbed – alles skuif weg en kom nader, skuif weg en kom nader.  “Sonika?” Dit klink of Marius van ver af roep. “Sonika, ek kon dit nie meer uithou nie.  Hoe ouer ons word, hoe erger het die verlange geword.”

Sewentien.  Hulle was net sewentien.  Haar pa se onversetlike engheid, sy obsessie met kuisheid ná haar ma se verraad lank gelede, sy wantroue, sy ewige kritiek – dit alles het hulle uit die huis gedryf na skelm vryplekke, die verbode vrugte nog begeerliker laat voorkom. Natuurlik het alles gebeur wat hy gevrees het; natuurlik was hy reg – sy was netso sleg soos haar ma.

Maar hy kon haar en Marius nie skei nie.  Die oomblik toe sy mondig word, het hulle getrou.  Deur die jare het hulle liefde gegroei; hulle het ‘n goeie huwelik, ten spyte van die verlede.  Maar die gat was altyd daar, die donker, leë gat waar hulle kind moes wees.

Dat sy werklik kon dink hy het vergeet!

Die deur bars meteens oop; Marlene slaak ‘n hoorbare sug van verligting toe Marius vervaard binnestorm.  Dan is sy arms om Sonika, hy wieg haar, troos haar, soos al die jare nog.  Hy het nie nuwe duur slaapklere aan nie; hy dra sy stokou rugbybroekie en uitgerekte t-hemp.  “Sy wil jou sien, Sonnie, sy wil jou leer ken.  Sy het dit sleg getref met aanneemouers; hulle is in elk geval albei al oorlede.”  Hy vat haar aan haar skouers, skud haar liggies.  “Sy wil haar má hê, Sonnie, haar regte ma.”

“Die vrou wat haar weggegee het.”  Sy wou nooit dat hulle die kind probeer opspoor nie.  Sy kon nooit glo haar kind sou haar kon vergewe en dalk selfs liefkry nie.

“Die vrou wat nie veel van ‘n keuse gehad het nie; die vrou wat vir dertig jaar oor haar treur.  Sy’s jou ewebeeld, Sonika!”

Sonika raak slap teen haar man se lyf.  Sy kry nie ‘n woord uit nie, sy sit net doodstil en laat die ongelooflike verligting deur haar hele liggaam sypel.  Marius is nie ontrou nie, hy is nie saam met ‘n minnares nie.

Maar wat hy gedoen het, is amper erger.  Hy het haar uitdruklike wens verontagsaam en hulle dogter opgespoor.  En vir geen oomblik kan sy glo ‘n kind wat weggegee is, kan haar ma sommer so vergewe nie.  Jare lank het sy haarself aan die lewe gehou met geheime fantasieë oor ‘n ontmoeting eendag, ver in die verskiet, veilig op ‘n afstand.  Die fantasie kon sy skaars hanteer – hoe nou gemaak met die werklikheid?

Marlene staan van die bed op soos een wat ‘n groot las van haar skouers gegooi het.  Sonika swaai om na haar.  “Jy’t geweet!   Julle was kop in een mus!”  Sy weet sowaar nie of sy moet lag of huil nie.

“Ek het hulp nodig gehad, Sonnie.”  Marius se oë pleit woordeloos met haar.  “Ek het mos geweet jy sal nie instem om haar te ontmoet nie.”

“Ek is mal oor jou dogter, vriendin.  Ek stap nou oor na haar toe, en julle tweetjies beter onmiddellik in hierdie lekker bed klim en die ding uitpraat en ordentlik opmaak, hoor julle my?”  Die bekende tergliggies skitter in Marlene se oë:  “Jy was darem lekker bang om saam met my in die dubbelbed te moet slaap, né!”  Sonika lag verleë saam.  Hiervan gaan sy nie gou die einde hoor nie!

Marius gaan kry sy tas, wat hy voor die deur gelos het.  Was seker doodbang sy jaag hom summier weg, siestog! “Hoe’t jy agtergekom ek is hier, Sonnie?  Die plan was dat ons mekaar môreoggend eers toevallig sal raakloop.  Nie dat ek weet hoe ek die nag sou omgekry het nie!”

“Ek het in die vierkant gesit en na jou verlang en toe het ek jou hoor lag.”  Sy kry skaars die woorde uit; haar hart is besig om totaal op loop te sit.  Haar kind – haar kind is hier!

“Jy’t my gehoor?  Jy’t my wragtag gehoor?”  Marius se lag was die eerste ding wat sy liefgekry het, lank gelede toe hulle skaars meer as kinders was.

Sy arms is nog steeds die veiligste hawe wat sy ooit geken het.  Sy klou hom vas soos die dag toe sy hom die eerste keer weer skelm ontmoet het na sy hulle kind moes afgee.  “Ek het gedink jy’s moeg vir my! Jy was so afgetrokke, selde by die huis, en die verlange … Die verlange na my kind wat oor ‘n paar dae dertig word …”

“Ons gaan daardie verjaardag saam vier, as ‘n gesin, Sonika.”

“Ek kán nie.  Sy moet my haat …”

“Sy haat jou nie.”  Hy lig die punt van die beddegoed uitnodigend.  “Kom, klim in, dan vertel ek jou alles.”

“Sy wil my regtig sien?”  Sy is die ene angs.  Sy kan haar kind nie ‘n tweede keer verloor nie.

“Nie net sien nie – leer ken ook.  Toe ek daar uit is, het sy sit en huil met jou album op haar skoot.  Al die foto’s van jou alleen breek haar hart, het sy gesê. Op al die mooi plekke waar ons deur die jare was, moes sy by gewees het, in jou arms, aan jou hand.  Sy sê sy sien die leegheid in jou oë, die verlange.”  Marius, die platjie, se oë is vol trane.  Soos die dag toe hy, amper ‘n seun nog, vir haar gesê het:  “Dis my kind ook, Sonika, ek het ook ‘n kind verloor.”

Hy klim langs haar in, maak haar bymekaar in sy arms.  “Môre vat ek jou na ons dogter toe, maar nou moet jy eers tot bedaring kom.  Marlene sal haar rustig hou; hulle twee kom goed klaar.”

“Julle het saamgesweer teen my!”  Sy nestel teen sy bekende lyf.

“Maar wat ‘n geseënde sameswering!”  Sy lyf skud skielik weer van die lag.  “Jy was darem lekker jaloers!  En doodbang om saam met jou vriendin te slaap!”

Sy lag gelukkig teen sy skouer.  “Het sy jou humorsin geërf?”

“Ja, sy het.  Ek dink dit was haar redding; haar lewe was nie maklik nie.”

“Dan sal ons oor die weg kom.”

In die stilte hoor sy duidelik Marlene se lag.  En daarna dié van die jong vrou, gul en gelukkig.

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: