Te best exotic marigold hotel

‘n Groepie stywelip Engelse bejaardes vertrek uit Brittanje om te gaan aftree in dié hotel in Indië.  Daar is ‘n goeie lydsame man en sy ontevrede vrou wat al hul geld in hul dogter se besigheid verloor het. Daar is die kwaai tannie wat ‘n heupvervanging moet kry en om die waglys in Brittanje te vermy, haarself met wrewel en vrees oorgee aan ‘n opsie wat in Indië beskikbaar is (vermoedelik ‘n soort opleidingshospitaal). Daar is die gay oud-regter wat na sy jeugliefde kom soek, die mannejagter, die weduwee wat nog nooit iets op haar eie onderneem het nie. O ja, en die rokjagter wat smag na ‘n laaste nag van passie.

Die Best Exotic is ‘n (wonderlik fotogeniese) amper-ruïne met ‘n begeesterde jongeling aan die stuur. Wat Sonny nie kan reg doen nie, praat hy reg. En wat hy nie reg praat nie, verbeel hy hom reg. ‘n Mens kan die akteur al genoeg bewonder net vir die ellelange passasies purple prose  wat hy met soveel entoesiasme aframmel.  Nie, nie aframmel nie. Hy wórd Sonny; sy pyn word jou pyn, sy vreugde word jou vreugde.

Natuurlik word al die karakters aangeraak en verander deur die vreemde omstandighede en deur mekaar. Die stiff upper lip verslap gaandeweg (so ‘n bietjie), die maskers glip uit posisie, die swakhede en geheime verlangens dryf na  bo. Alles te midde van die oorweldigende kleur en klank van Indië.

Ja, alles werk op die ou end vir almal goed uit.  Ja, dis ‘n goedvoel fliek. Maar dis meer as dit. Die Best exotic marigold hotel (die oordadige titel pas perfek op Sonny se tong) is ‘n deernisvolle blik op bejaardheid, op die smagting van oumense om steeds soos ‘n mens behandel te word, om steeds te kan liefhê (en rondslaap!), om steeds te kan verander. Dis ‘n fliek wat jou ‘n bietjie duiselig, meer as ‘n bietjie weemoedig en slap gelag by die deur laat uitstap – en vir ‘n oomblik verbaas laat opkyk na die doodgewone Suid-Afrikaanse straattoneel van gym-gangers en karwagte uit Midde-Afrika en gesinne wat aanstryk Spur toe wanneer skoolgaande kinders eintlik moet bad en huiswerk doen.

Wanneer jy begin sukkel om in die goeie te glo, wanneer die daaglikse dosis moord en doodslag en korrupsie en Julius se nuutste skorsing jou wil onderkry – ontvlug na die Marigold. Al is dit net vir ‘n rukkie.

NS. Nee, daar is nie net oumense in die fliek nie. Daar is twee absoluut beeldskone Indiese jongmense (nie Sonny nie – dit pas nie by Sonny om beelskoon te wees nie) wat as teenpool vir die ouderdom dien. Maar die oumense word ook vir jou mooi. Want hulle is steeds mense.

En dis dalk die grootste vreugde van die Marigold – dat jy – wat die ouderdom onafwendbaar al hoe nader sien kruip – steeds kan weet: Jy sal steeds dieselfde mens bly. En jy sal steeds ‘n keuse hê.

En les bes, gaan lees ‘n bietjie hier oor die lot van die untouchables.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s