- Ouderdom: 38
- Beroep: Tuisbly mamma en fiksie skrywer
- Huwelikstatus: Getroud
- Waar woon jy? Klerksdorp
- Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.) Manlief, tiener dogter en seun en een tween seun.
- In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?
Ons bly op ʼn plot so 13km buite die dorp, so ons was nog altyd as gesin gewoond aan buite die dorp se oopte, dus het die inperking in die begin nie veel ‘anders’ gevoel nie. Ons besef ons is bitter bevoorreg en my hart gaan uit na mense wat opgehok moes sit in klein plekkies soveel so dat – glo dit nou of nie – ek ʼn skuldgevoel begin ontwikkel het en maklik emosioneel daaroor geraak het.
Die afsondering van mense het my nie veel gepla nie want ek hou van my eie tyd. Maar met die inperking was ek nog nie een dag alleen nie en dit is besig om sy tol te eis. Ek ‘recharge’ deur alleen te wees, al werk ek dan in daai alleentyd, maar nou vir maande het ek nog nie “ge- recharge” nie en dit maak my weer daar ook skuldig voel oor ek maklik prikkelbaar is. My man en kinders is lief vir baie mense en om in groepe te kuier is hulle manier van recharge, so ons doen oor die algemeen altyd alles saam en die huis gons van die gesels en lag en saamspeel, of dit nou bordspeletjies of videospeletjies of fliek kyk is, dis heeltyd besig!
ʼn Normale dag vir my sou wees dat ek die kinders by die skool gaan aflaai, heeloggend tot eenuur alleen is, waar ek huiswerkies doen en skryf of sommer net WEES en dan wanneer ek die kinders gaan haal, al my aandag vir hulle gee. Maar met die infasering by die skole het ek steeds heeltyd kinders tuis want hulle gaan nie almal op een slag skool nie hulle grade is van so aard dat al gaan hulle elke tweede dag skool, hier altyd ʼn kind of twee tuis is. En jip – daar voel ma weer skuldig en soos die slegste ma van 2020 want almal is histeries oor die kinders moet teruggaan skooltoe en hier is ek verlig dat myne kan teruggaan L
- Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?
Ek het geskrik. Maande het ons nou al gehoor van die virus, nuus gesien hoe erg dit lande tref maar dit was mos vêr en nie regtig ʼn werklikheid nie. Die oomblik toe die noodtoestand aangekondig was, het dit eers werklik ʼn realiteit geword en het ek meer aandag gee daaraan. Vir die eerste keer het ek my gesin ekstra vitamiene begin invoer, iets wat ek nooit gedoen het nie en wat ook nog nie nodig was nie aangesien my gesin lief is vir vars groente en vrugte en ek altyd geglo het hulle dit beter op die natuurlike manier inkry.
- Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is?
Ek was rustig en het dit gesien as ʼn kans om op te vang met dingetjies wat agterweë gelaat is. Dit selfs verwelkom. My man werk vêr van die huis af so ons sien hom net naweke en dit was ʼn seën om hom vir ʼn volle twee maande by die huis te hê maar weereens ek voel sleg om dit te erken maar ek mis my Louise tyd – ek is moeg en uitgeput!
- Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?
Alhoewel ons nie paniekerig was nie, is ons streng wetsgehoorsaam J so ek en my man het besluit dat ons die dorp gaan vermy sovêr moontlik en het maar die maand se inkopies gedoen met ekstra sorg aan meel en bakbenodighede. Ons het die Donderdag voor die inperking verleng is vir die eerste keer ingegaan dorp toe om ons vars produkte op te knap en was so half oorbluf en verras oor hoe baie mense steeds in die dorpe ronddwaal vir net ʼn brood of melk!
- Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?
Alles het net besiger geword! Waar almal sê hulle lewe het rustiger geword en dat hulle meer tyd op hulle hande gehad het om te rus en ander dingetjies te doen, was dit presies net die teenoorgestelde vir my. Alhoewel my kinders nog altyd behulpsaam was in die huis het die werklading net skielik meer gevoel!
- Wat was die moeilikste tydens vlak 5?
My gesin het baie gesukkel. Soos ek voorheen genoem het, is hulle baie lief vir maats en mense om hulle, so om nie vriende te hê wat ons drumpel deurloop nie was vir hulle baie swaar. Ek het as gevolg daarvan baie meer ‘screentime’ toegelaat en ek besef dat daardeur hulle ʼn paar ongesonde gewoontes aangeleer het deur tot te laat wakker te bly en dan weer te laat bly lê het die volgende oggend.
Maar dit was die kontak vir my kinders met hulle normaal… Dankie tog vir WIFI! My meisie en haar maats het gereeld gezoom en whatsapp terwyl my een seun deur sy Xbox se online gaming kontak met sy vriende gehad het deur saam te speel en steeds deel van mekaar te voel. My jongste die tween, het in die begin so bietjie met sy vriende kontak probeer hou deur whatsapp maar hy het homself eerder in diere en feite videos van Youtube Kids laat wegraak. My man het sy verlange gesus deur homself so besig te hou met die se huis klein diy takies, selfs gras sny en tuinwerk dat ons begin krapperig raak, oor hy heeltyd so besig is en nie kon stilsit nie!
- Wat is vir jou positief tydens vlak 5?
Pa wat voltyds tuis was en ons meer tye as gesin om die tafel kon eet. Die ou resepte van ouma wat ons gaan uitkrap het om brood/ poedings en vetkoek te bak was die kinders se hoogtepunte – natuurlik het ma ʼn hele broekgrootte gegroei as gevolg van al die lekker bak en lekker eet!
- Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?
Soos reeds by punt 13 verduidelik het, was die afsondering van mense nie goed vir hulle nie. My meisiekind 16 het eerlik erken sy sukkel want sy voel alleen en so vêr van almal af. My middelste seun 14 laat dit lyk of dit hom nie pla nie en hy praat nie regtig daaroor as ek hom uitvra nie maar hy het stiller en meer eenkant geword wat my bekommer. My jongste 11 het ook erken hy voel alleen en op sy eie al is hy die heeltyd saam met ons. Ons moet onthou kinders ervaar die inperking meer persoonlik. Hulle voel hulle het iets verloor asof dinge van hulle af weggevat word. Skielik begin hulle wonder oor hulle identiteite want dit waarin hulle goed is en wat hulle deel gemaak het soos sport en skool is nie meer daar nie so hulle “float” net op die oomblik – dit is ook hoekom ek dink al is dit gevaarlik is dit emosioneel die beste ding vir ʼn kind om terug te gaan skool toe. Kinders is baie meer aanpasbaar as ons maar hulle het ook baie meer sekuriteit as ons nodig. My man ervaar nou weer ʼn tweegeveg van sy eie. Hy het tydens die inperking besef hoeveel tyd hy saam met ons verloor deur so vêr te werk en dit was vir hom onsettend moeilik om terug te gaan werk toe.
- Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?
Ons het dit eintlik verwag so dit was nie ʼn groot verrassing nie.
- Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?
Om alleen te wees en ons weeklikse Vrydag aande kitskos aande – pizza of burgers of net iets lekkers!
- Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?
Behalwe vir my man wat gaan werk het en ek wat toe weekliks begin dorp toe gaan, het nie veel verander nie.
- Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?
Dat meer mense kon terugkeer werk toe sodat hulle weer ʼn inkomste vir hulself kan begin genereer.
- Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?
Dat my man moes teruggaan werk toe. Hy werk vir ʼn maatskappy wat paaie en waterkanale bou so ons is heeltyd bewus daarvan dat a.g.v sy werkomstandighede in die townships hy heeltyd blootgestel is en die kans daar is dat hy die virus huis toe kan bring.
- Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?
Matige oefeninge en stap wat ons steeds enige tyd van die dag kon doen. Die plot se ligging is van so aard dat ons steeds die plaaspaaie kan gebruik.
- Het jy tydens vlak 5 geoefen?
Minder as gewoonlik maar my Dogter en man het ontpop in atlete!
- Hoe het jy dit gedoen?
Ek volg ʼn roetine op youtube of ons gaan stap om die buurplase se wild te bekyk
- Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?
Geen inpak op ons gehad nie.
- Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?
Behalwe vir skool wat nou weer begin het en ek wat ons kerk help met die jeugopnames vir youtube het nie veel verander nie.
- Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?
Die feit dat ek nie meer Juffrou hoef te speel nie! Ek het drie grade wat ge-google classroom, ge-zoom en ge-D6 communicator was! My dogter het eintlik op haar eie aangegaan maar ek moes my seuns dreig en smeek om op datum te bly met die massas werk wat die skole deurgegee het. My printer het nog nooit so hard in sy hele bestaan gewerk nie!
- Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?
Ek het eintlik al hier in die middel van vlak vier besluit om covid nuus so vêr as moontlik te probeer vermy want dit saai onnodige negatiwiteit en paniek. En dit hou nie op nie. Ek wil nie eers meer weet hoeveel gevalle daar is of nie is nie en wat opgemaak is of wat ook al nie! So ja die media storm rondom die hele pandemie maak my moedeloos.
Dan maak die onnatuurlike maatreëls, bedrog en onbevoegdheid van ons mense my ook briesend. Ek rook nie en ek drink net eintlik per spesiale geleentheid so die verskriklike streng maatreëls daarteen het my nie veel geraak nie maar dit maak my bloedig kwaad om die politiek in die hele scenario te sien seëvier. Arme mense verloor hulle werk, hulle inkomste ag die land is in ʼn toestand en ek is skoon terneergedruk oor die toekoms wat daar oorbly vir my kinders! So weereens probeer ek die media vermy.
- Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?
Ek wil teen ʼn boom vashardloop, maar hard genoeg dat ek aan geheueverlies kan lei en kan vergeet van die hele covid 19 histerie.
- Is jy finansieel erg geraak?
My man het twee maande geen salaris gekry nie, ook nie die sogenaamde UIF TERS uitbetaling nie. So ons moes mooi werk met dit wat ons het en moes al ons vingers in ons spaargeldjies gaan druk. Spaargeld wat veronderstel is om sussie se universiteitsgelde en studentekar van 2022 te befonds.
- Wat is nou vir jou die moeilikste?
Om net weer ʼn roetine in hierdie nuwe normaal te vind. Ek kry nie meer tyd om te skryf nie en ek het nou eers regtig my droom begin leef. April was my debuut Romanza se verskyning en al is Kiekies en Koffie se sussie reeds by Lapa is ek besig om aan nog ʼn manuskrip te werk maar alles voel net so deurmekaar en moeilik en onbereikbaar om ʼn sukses te waarborg en van my droom ʼn loopbaan te maak!
- Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?
Wat ons gesin ook al voor die lockdown gedoen het, het verseker dat ons ʼn sterk band met mekaar en met die Here gebou het wat ons regtig gedra het die afgelope paar maande. Ek is so dankbaar ons is ʼn hegte gesin en dat in hierdie tyd ons nie nog nodig gehad het om met so iets te sukkel ook nie!
- Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?
Net so bolangs, genoeg om die veiligheid van my gesin te verseker.
- Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?
So min as moontlik. Meestal net as President praat of as die skoolgroepies belangrike inligting deel wat hulle voel van toepassing is op skole.
- Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?
Maak my negatief en opstandig en onseker. Mens weet nie meer wat om te glo of nie te glo nie.
- Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?
Ek het tot so maand /maand en half terug, na die Trump+WHO storm het ek besluit om te konsentreer op goeie nuus eerder as hierdie nuttelose theories en oor en weer moddergooiery.
- Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel?
Ek verwonder my aan China want dit was die oorsprong en ook die land wat dit kon regkry om die virus se aansteeklikheid per kapita die beste te kon beheer maar nee ek vermy eintlik covid nuus oor die algemeen nadat ek my oë uitgehuil het oor Italië se stryd wat groot opslae gemaak het.
- Hoekom?
- Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou?
Dis hartseer en ek bid dat ek en my naastes die seer gespaar sal bly.
- Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin?
Ek sou my nie so baie aand die media gesteur het nie. Ek sou net een betroubare bron gekies het en myself nie blootgestel het aan al die negatiewe nie – dit het my oorheersende positiewe liggie ʼn lelike knou gegee en ek moet van vooraf myself leer om die goeie in alles te probeer raaksien weer.
- Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin?
Ouma se broodbak resepte uitgetoets het!
- Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?
Nee, glad nie.
- Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?
Nee