Die prys van ‘n glimlag

TandDie storie van die tand is op die agterblad van rooirose gepubliseer. Nou is ek sommer weer hartseer oor dié lieflike tydskrif en al die ander wat onder tante Rona gesneuwel het. 

Australië is die heel laaste land wat sy ooit wil besoek, sê ‘n berese vriendin. Ek stem heelhartig saam. Dis ‘n vervelige land. Ek weet, ek was al daar. Teenoor die Reënboognasie kom die Aussie-samelewing maar bra vaal voor.

Onthou net: Vervelig is veilig, sê my wyse geliefde.

Ten spyte van my wilde uitsprake, bevind ek my onlangs weer in Australië. Wanneer ‘n kans hom voordoen, moet mens dit tog maar vat, of hoe? So beland ek op ‘n maandlange toer saam met my immer-energieke, stuit-vir-niks geliefde. Ek kry vlugsiekte op een lang vlug en iets in die rigting van ‘n paniekaanval op die ander. Ek raak moeg en befoeterd en ek mis die dinamika, die woelinge, die kleurvolheid van my eie land.

Maar ek val ook onder Aussie-land se bekoring. Vervelig of nie, ek geniet die veiligheid en die netheid, al gee die baie reëls en regulasies my engtevrees. In Queensland ontmoet ek ‘n lieflike Afrikaanse leser van my boekpogings. In Canberra sit ek sterk skemer stokalleen langs die meer terwyl die konyntjies ligvoets om my huppel. In Wes-Australië sien ek eers werklik hoe ontsaglik groot en ontsaglik leeg die land is die oomblik as mens die stedelike gebiede verlaat.

Maar dis in Tasmanië wat die opwinding my tref. Dis Saterdagmiddag, naby die einde van ons week in die klein, groen paradys met sy oerwoude en skaap- en beeskuddes en landelike atmosfeer. Ek is pas die swetterjoel trappies na die uitsigpunt op die beroemde Wineglass Bay al morrend uit. Soos alles in dié land is die trappies perfek uitgelê met gereelde waarskuwings en rusplekke en aanduidings van hoe ver dit nog is. My entoesiasme lê betreklik laag. Ek is moeg rondgevlieg en ek is moeg vir alles wat so perfek is. Ek soek knorrig rond vir ‘n stukkie rommel wat rondlê, maar ek kry niks. Wineglass Bay lê vaal daar ver onder ons in die dowwe lig van die bewolkte dag. Mens moet jou mooi verbeel om die wynglasvorm raak te sien. Niks mooier as Clifton se strand nie. Of Hermanus s’n nie. Of enige plekkie op ons Weskus s’n nie.

My bui sak toe ons by die Pondering Frog aankom vir middagete. ‘n Speelse groen padda van sement of iets soortgelyks lê gaste rustig op sy elmboog en inwag. Die gasheer is joviaal en deel sy bevinding met ons dat Tasmanië tien jaar agter die res van Australië is. Dis nie vir my slegte nuus nie. Dit versterk my aanvoeling dat dit eintlik ‘n ander land is, nie net ‘n ander staat nie. Ek voel tuis hier. Seker maar my plattelandse agtergrond wat deurslaan. Die calamari is van die beste en my bui verbeter by die minuut. Die finale vreugde is die salige tuisgemaakte fudge wat by die betaalpunt te koop is. Nie blokkies soos hier by ons nie, maar ‘n stafie baie soos ‘n nougat of iets soortgelyks.

Terwyl ons op die loom Saterdagmiddag deur die rustige platteland ry, vroetel ek die eerste stafie se plastiek van hom af. My ongedurigheid het my verlaat. Salig ontspanne neem ek die lemoen- en sjokoladegeur in. Smaak my ‘n engel het op my tong gepiepie, het ons studenteseuns op ‘n stadium graag gesê as iets hemels lekker is. Hier was beslis ‘n engel betrokke. Die fudge se tekstuur is anders as ons s’n. Dis taaier, nie bros nie, effens toffierig. Dit smelt weg in jou mond. Ek sit en vertroetel die lekkerte so in my enigheid, gehul in ‘n borrel van vrede.

En toe besef ek: Iets het gebeur. ‘n Vreemde soliede voorwerp bederf die salige eetervaring. My gekroonde voortand bevind hom midde-in die taai soetigheid. Die vrede van die oomblik is daarmee heen. Ek elimineer die bron van onheil en druk dit vinnig, grillerig in die sakkie waarin ek iets moois op ‘n poskaartdorpie gekoop het. Ek sluk die res van die soetigheid haastig weg. En ek kyk in die spieël.

Fout. Groot fout. ‘n Onaardige gesig staar terug na my. Haasbek met net die klein puntjie van die oorspronklike tand sigbaar. Liewe Heksie? Nee, veel erger as liewe Heksie. ‘n Lelike vrou wat ek nie wil ken nie.

Op ‘n Saterdagmiddag kry ‘n mens nie ‘n tandarts op die Tasmaniese platteland nie. Ek kerm en kla en soebat, alles met die hand voor die mond. My arme man kan nie help nie en hy verstaan nie die erns van die saak nie. Vir hom is dit net ‘n tand. Vir my is dit my ganse selfbeeld wat daarmee heen is. Ek kom agter ek het meer as ‘n tand verloor. Ek het my glimlag verloor. Om tande te wys is vir my so natuurlik soos asemhaal. Ek het nooit besef om te lag is so lewensnoodsaaklik vir my nie.

Twee stroewe dae later herstel ‘n gawe tandarts in Wes-Australië my glimlag en my selfbeeld teen ‘n astronomiese bedrag. Ek wroeg nie eens oor die bedrag nie. Die waarde van ‘n glimlag kan nie in rande bereken word nie.