Om bewustelik te leef

‘n Geslag of twee gelede het die meeste van ons se ouers en grootouers so hard gewerk om meestal groot gesinne te versorg, dat daar eenvoudig nie genade was vir luukses soos emosionele sorg, berading, terapie van enige aard, bekommernisse oor ‘n kind se selfbeeld of ‘n verskeidenheid van bedrywighede nie. Geld was skaars en dit het dikwels meet en pas gekos om kinders gevoed en geklee en geleerd te kry.
Vandag is die meeste van ons (wat hier kan lees, in elk geval) in die posisie dat kos en klere heelwat laer op ons prioriteitslysies kon skuif. Natuurlik steeds belangrik, maar nie meer ons primêre dryfkrag nie. Ons is nou bekommerd oor die kalorieë in ons kos en die etikette aan ons klere, nie meer oor of ons genoeg daarvan het nie. (Die term genoeg het in elk geval ‘n heel nuwe betekenis gekry.)

Deesdae het ons die luukse om aan ons eie en ons geliefdes se emosionele gesondheid en spiritualiteit te kan aandag gee. Ons kan praat oor wat in ons koppe en harte aangaan. (Ons kan ook in sirkels praat.) Ons het die energie en die tyd om besorg te wees oor hoe ons leef, nie net meer of ons leef nie. Ons verwag veel meer van die lewe – en word daarom ook dikwels teleur gestel. En ek weet nie of ons werklik gelukkiger is as ons voorouers nie.

Wat ek wel weet, is dat mense (oor die algemeen – ek wil nie veralgemeen nie!) meer bewustelik leef as tevore. Ons is nie meer so vreeslik bang vir ons emosies nie. Ons kan hulle nou herken en name gee en selfs die name hardop noem. Ons kan ‘n treetjie agtertoe staan en van ‘n (klein) afstand na onsself kyk. Hoekom het ek in hierdie situasie so kwaad geword? Hoekom is ek fyngevoelig oor daardie saak? Hoekom is ek so bang vir hierdie situasie? En daarom kan ons onsself en andere ‘n bietjie beter verstaan.

Dit stel ons in staat om meer simpatie en empatie met andere te hê, want ons kan ons makliker voorstel hoe die ander persoon moet voel. Wat weer (teoreties) tot beter kommunikasie en minder konflik behoort te lei.

Of dit werk? Wel … soms. Dink ek.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s