- Naam: Bets Smith
- Skuilnaam as jy dit verkies:
- Ouderdom: 65
- Beroep: Skrywer (afgetrede onderwyser J)
- Huwelikstatus: Getroud
- Waar woon jy? Reebok, Suidkaap
- Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.):
My anderhelfte (letterlik en figuurlik 😉 )
- In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?
Uniek? Nie juis nie. Ook nie besonder uitdagend nie. Dit was wel ’n voorreg om inperking te beleef met ’n unieke uitsig op die see.
- Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?
Ons het dit verwag, was dus positief en heel filosofies daaroor, in terugskou miskien omdat ek nie geweet het presies wat dit sou behels nie. Ons was op pad terug van ’n vakansie in die Addo-Olifantpark toe die nuus gekom het dat die president die aand ’n afkondiging sou maak.
- Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5) afgekondig is?
AL het ons nie in die Addo gereeld nuus geluister nie, het ons mins of meer geweet hoe die siekte sy loop neem en hoe lande reageer om dit te probeer bekamp. Ek en Pieter het dus reeds besef dit was onvermydelik. Toe die president saam met die afkondiging van die noodtoestand aankondig dat die grendeltyd daardie Vrydag 23 Maart sou begin, was dit nie ’n verrassing nie. Ons was dus ook hieroor positief en filosofies, weereens waarskynlik omdat ons nie geweet het hoe lank die algehele grendeltyd van vlak 5 sou duur of wat die volle implikasies sou wees nie. Daarin was ons nie alleen nie.
- Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?
Die boswaentjie uitgepak, vakansiewasgoed gewas en voorrade aangevul omdat daar agv ons afwesigheid min kosvoorraad en geen vars groente of vrugte in die huis was nie. Ek het NIE drie bakkievragte toiletpapier gekoop nie L.)
- Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?
- Omdat ek en Pieter pensionarisse is en ek buitendien as skrywer ‘by die huis’ werk, het ons daaglikse werkroetine nie veel verander nie.
- Ons 5 km oggendstappie, en my middagdraf-uitstappie het natuurlik verdwyn.
- Sondae se erediens en Donderdae se Bybelstudie het verval, maar dis vervang met ’n daaglikse oordenking wat ’n wonderlike geleentheid is vir geestelike groei, en ’n vertroosting wanneer mens se gemoed ’n laagtepunt tref. Sondae is daar ook afkondigings met gemeentenuus, en ’n langer oordenking/kort erediens.
- Vrydae se staptogte saam met die Skilpaaie Stapgroep (ja, Skilpaaie want ons is almal ouers as 60 en sommige so oud soos 80) kon natuurlik nie gebeur nie.
- As pensioenarisse en nuwe inwoners hier, het ons net begin gewoond raak aan bogenoemde roetine en ’n nuwe vriendekring by genoemde plekke begin opbou. Die grendeltyd het dit natuurlik stopgesit.
- Wat was die moeilikste tydens vlak 5?
- Om te hoor van troeteldiere wat weggegooi is omdat hulle kwansuis die virus sou versprei.
- Die wete dat sommige mense honger ly.
- Die baie fopnuus wat versprei is, en die hoeveelheid relatief nugter mense wat dit alles vir soetkoek opgevreet het.
- Dit was ongelooflik moeilik om te skryf, in so ’n mate dat ek skaars een paragraaf per dag kon produseer. Daarom het ek doelbewus ’n dagboek (baie kort, feitlik net datum, vlak en statistieke oor die toename in siekes) begin.
- Omdat ek gesukkel het om te konsentreer, kon ek ook nie soos gewoonlik aan die situasie ontsnap deur in ’n storieboek te verdwyn nie.
- Dit was/is vir my moeilik om sonder die geloofsgemeenskap klaar te kom, want ons klein gemeente het ’n baie hegte onderlinge band. Ek het Sondae skoon ontredderd gevoel sonder die erediens en die kuier om die teetafel daarna. Om boonop ook nie my Bybelstudievriende Donderdae te sien nie, het my meer gevang as wat ek gedink het dit sou.
- Ek het dit ook gemis om saam met Pieter te gaan inkopies doen. Die een-een kopery wanneer mens wel jou neus by die deur uitsteek, was goor. (Eintlik is inkopies nog steeds onlekker. Dis nie meer ’n prettige uitstappie met loerkoop in elke winkel nie L)
- Dit was erg om nie enige tyd wanneer ek die bevlieging kry, by my boetie of sussie aan te klop vir ’n blitskuiertjie, of hulle by ons nie. Ek het die samesyn met vriende en familie in die omgewing, en om enige tyd uit te ry veld-in, of om koffie iewers te gaan drink die heel meeste gemis.
- Nog ’n pyn was (is nog steeds) die wete dat ek nie by my kinders en kleinkinders kan uitkom as hulle sou siek word of ’n besering of ongeluk oorkom nie.
- Die vryheid om Vrydae saam met die Skilpaaie veilig in die natuur te kan rondloop, was ’n groot gemis.
- Die heel ergste van die eerste deel van vlak 5 was my kommer (waaroor ek toe eerder geswyg het) dat ek moontlik in die Addo in kontak was met iemand wat Covid-19 onder lede gehad het. Ek en my vriendin het met ons aankoms in die park, by die kamp se Ontvangs gaan aanmeld. Ons moes in die kleinerige lokaal saam met toeriste uit die Ooste en Europa in die rye staan – sonder dat sosiale afstand gehandhaaf is. Daar was wel handreinigers op die toonbank, maar almal het dieselfde penne gebruik, geen maskers gedra nie, ens ens. Ek het vir 2 weke nadat ons tuis gekom het in angs en spanning daaroor gebroei en uitgekyk vir simptome voor ek uiteindelik ontspan het. Ek het eers later daaroor ‘gebieg’.
- Wat is vir jou positief tydens vlak 5?
- Die president se optrede met die afkondiging en daarna was indrukwekkend en die positiewe reaksie wat dit oral uitgelok het, was vir my ’n heerlike bewys dat ons land darem nie so ’n muishond is nie.
- Ook het die reaksie van die meeste Suid-Afrikaners in daardie eerste weke my bewondering vir en geloof in ons land se gewone mense laat toeneem. Mense wat self min het wat uitreik en ander help, wat planne maak en dinge prakseer wat die lewe makliker maak, het ’n gevoel van samesyn geskep wat my skoon bewoë gemaak het.
- Al die briljante nuutskeppings in Afrikaans wat via sosiale media met ons gedeel is.
- Die tipies Suid-Afrikaanse humor wat in sosiale media opgeduik en die dodelike erns van die situasie bietjie verlig het.
- Ek het die projekte wat ek en Pieter onderskeidelik aangepak het, baie geniet, veral die tuinwerk.
- O ja, Switserland wat op 25 April met spesiale beligting die Suid-Afrikaanse vlag teen die Matterhorn in die Alpe gegooi het, was ‘n hoogtepunt. Die vlag in volkleur wat die ruwe berg verlig om solidariteit/samehorigheid met ons land te toon, het ‘n knop in die keel gebring.
- Miskien is ek naïef, of het ek die slegte dinge doelbewus misgekyk. Die meeste inperkingsreëls het aanvanklik vir my sin gemaak. Eers later het die gebrek aan logika van sommige regulasie my op die krop van die maag getref.
- Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?
- Pieter is ’n baie positiewe mens. Praat nie veel nie, maar is kalm en bedaard, en het sonder om te kla elke oggend saam met my die Hamsterloop gedoen, al om die huis vir 5 km. Hy het ook allerhande dinge in en om die huis aangepak, heelgemaak of dingetjies voltooi of geskep wat op die lange baan beland het.
- Dit het hom wel frustreer dat hardewarewinkels toe was en mens nie eens by die supermark daardie tipe items kon koop as iets opraak nie. Nog ’n frustrasie was dat hy nie kon gaan hengel nie J
- Ek het ’n gesinsgroep op WhatsApp begin sodat ons en ons kinders wat in ander provinsies bly, die inperking (soortvan) saam kon deurmaak. Die kinders het in daardie tyd getrou elke dag ‘rapporteer’ dat hulle veilig is, en foto’s gestuur van die kleinkinders (kleuterskoolouderdom) se skoolprojekkies. Daardie nuus was ’n hoogtepunt van my dag. (My seun en skoonseun, ’n dokter en tandarts onderskeidelik, was natuurlik nie ingeperk nie, hoewel hulle tydens vlak 5 nie so besig was nie.)
- Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?
Ons het reeds in die week voor dit verleng is, oor die moontlikheid begin bespiegel en besluit dis onvermydelik. Ons het dit daarom verwag. Maar soos reeds gesê het die onlogiese maatreëls begin skaaf. Na my mening is dit geen wonder mense het die inperkings toenemend begin ignoreer of die reëls begin oortree nie. (Ek vermoed die huidige ontploffing in getalle is te wyte aan daardie onlogiese en ongeloofwaardige maatreëls.)
- Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?
Om mense te sien GLIMLAG. Mens kan wel aan die oor bokant ’n masker sien of iemand glimlag, maar ek mis die TANDE J Die dinge wat vir my die moeilikste was tydens vlak vyf, is ook die dinge wat ek gemis het: Kuiers saam met familie en vriende al is ek en Pieter nie vreeslik sosiaal of regte kuierkrieke nie. Kerk en die samesyn van mense. Die vryheid om te stap waar en wanneer ek wil.
- Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?
Om soggens in Kusweg te gaan stap, was heerlik.
- Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?
Die groter vryheid: om te gaan stap was die lekkerste. En toe hardewarwinkels oopgemaak het, kon ons die projekte afrond/voltooi. O ja, ek het my verlekker in die humoristiese Fb-plasings wat geskep is na aanleiding van die sotlike beperkings op sekere Vlak 4 toegewings.
- Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?
* Wat gou begin knel het, was die onlogiese tydbeperking op die vryheid om te gaan stap of draf, veral hier in die Weskaap waar die son toe reeds later opgekom het. Die gevolg was dat daar tussen 7 en 9-uur ’n hengse toeloop was na die 5km-lange Kusweg, terwyl die strand, 3 meter laer af en parallel met Kusweg, heeltemal verlate was.
*Wat my ook begin vang het, was die toename in onlogiese beperkings en regulasies en die gepaardgaande negatiwiteit, en natuurlik die toename in misdaad.
*Wat my tydens AL die vlakke vang, is openlike kleinlikheid en agterbaksheid van sommige mense, onder andere ook die ontdekking dat mense e-boeke openlik steel. Dit het my lus om te skryf geheel en al ondermyn.
- Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?
Gereeld gestap en gedraf.
- Het jy tydens vlak 5 geoefen?
Jip.
- Hoe het jy dit gedoen?
Ek het eers soos die meeste Suid-Afrikaners al-om-die-huisie gespeel, oftewel die Koronadraffie gedoen. Het ook my Spinning-fiets uit die stof en spinnerakke gaan opdiep, in die woonvertrek staangemaak om te trap terwyl ek TV kyk. Ondanks my pogings met masjienolie en Spray’n Cook het die geskwierie en geskwiek van die trap my (en ek vermoed ook vir Pieter 😉 ) gou begin frustreer. Genoemde fiets is dus teen die middel van vlak 4 teruggeban na die stof en spinnerakke van die diep donker stoorgat onder die huis.
- Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?
Ek het dit geweldig geniet, veral om al die bekendes met die glimlaggende oë te sien en te groet, en selfs met hulle te gesels. Ongelukkig het die 3 ure hier by ons spoedig (weens die duisternis 😉 ) verkort na 2 ure.
- Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?
- Ons is nie een ’n groot drinker nie, maar dit was ’n verligting om ons wynvoorraad te kon aanvul.
- Die toegewing om enige tyd te kan stap/oefen/draf, was wonderlik.
- Die oopstel van haarkappers het my nie juis geraak nie, want ek het eenvoudig my eie hare begin versnipper soos ek ook van tyd tot tyd in die verlede gedoen het. Ek is ook nou Pieter se amptelike haarkapper J.
- Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?
- Die moontlikheid dat eredienste hervat kon word. Tog het ons kerkraad besluit om dit vir eers uit te stel omdat baie lidmate ouer is as 65, en omdat baie van hulle in die Covid-gevaargroep val weens gesondheidsprobleme.
- EN ek was baie verlig ter wille van Pieter wat weer met sy bootjie kon gaan visvang.
- Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?
Ek is nie ’n roker nie maar die onregverdigheid dat die arme rokers steeds nie wettig sigarette mag koop nie, het my woedend gemaak (onlogies, maar tog). Ook die skielike toename in aanvalle op vrouens en kinders, die toename in misdaad en die toename in negatiewe beriggewing in die koerante.
- Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?
Soos die meeste mense ry ek ook ’n emosionele wipplank, dit erken ek. Maar wat my toenemend opval, is dat my gevoel van magteloosheid teen die onsigbare vyand deesdae oorgaan in ’n woede teen die onlogiese maatreëls van Antie Zuma se ‘Politburo’, (nie al die beperkings en reëls is onlogies nie, maar party is werklik idioties). Woede teen alle politieke en ander onregverdigheid, magsmisbruik, korrupsie en veral teen politieke en ander misdaad.
- Is jy finansieel erg geraak?
Nie wat pensioeninkomste betref nie. Wat my wel bekommer is dat ons skrywersinkomste erg gaan krimp weens die beperkings in boekverkope tydens vlak 5 en 4, asook die diefstal van ons e-boeke juis noudat ons die inkomste uit daardie bron so nodig het. Waarskynlik gaan my tantieme-inkomste buitendien opdroog omdat ek nie geskryf kan kry nie. Daarby gaan die styging in voedsel-, brandstof en elektrisiteitspryse seker binnekort ’n effek begin toon, wat ons almal sal raak.
- Wat is nou vir jou die moeilikste?
- Kommer oor my kinders in mediese beroepe wat nou in die brandpunte woon en werk, en oor my kleinkinders. My dogter en haar man is tandartse by Chris Hani opleidingshospitaal in Pretoria. My seun is huisdokter met ’n praktyk in Pongola. Daar is geen hospitaal in die dorp nie en sy praktyk is soortvan die plaaslike bevolking se kliniek. Hy het die afgelope week sy eerste Covid-gevalle gediagnoseer – sommer 6 in een week.
- Hierdie kommer is miskien hoekom dit vir my nog steeds moeilik is om te skryf.
- Agv my kommer oor die komende gebrek aan inkomste uit tantieme het ek die afgelope maand ’n vriendin wat ’n dosent is by NWU uitgehelp deur Grendeltydportfolios te help assesseer. Dit was geweldig vermoeiend om nuwe tegnologie onder die knie te kry en deur die portfolios te worstel. Gevolglik het ek nog minder geskryf. (Ek is nou egter dankbaar dat ek die tegnologie tog bemeester het, want daar kom nog so ’n geleentheid later in die jaar.) Hopelik sal ek noudat die merkery afgehandel is, weer begeesterd kan raak oor my half-verlate storie.
- Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?
Die afgelope 100+ dae het ek myself beter leer ken, veral my swakhede. Ek het (hopelik) geestelik gegroei, meer bewus geraak van hoe bevoorreg ek is. Ek vermoed ek is emosioneel sterker as wat ek gedink het ek is. Ek het weereens ontdek dat humor ’n veiliger uitlaatklep is as die meeste ander en is dankbaar dat ek my ma se vermoë om eerder die humor in ’n situasie te soek as iets anders, geërf het. Ek het kans gekry (of is gedwing) om introspeksie te doen en het nou meer genade met my eie gesin se klein swakheidjies. Hierdie inperkings het my en Pieter, en ook ons en die kinders nog nader aan mekaar gebring.
- Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?
Ek bly op datum, maar broei nie onnodig daarop nie. Ek hou die statistieke daagliks op datum (vermoedelik my manier om ‘beheer’ te neem van ’n situasie waaroor ek geen beheer het nie 😉 ) Weskaap se openheid asook Mosselbaai munisipaliteit se uitstekende inligtingsnetwerk en kontak met hul inwoners, maak dit ’n vinnige, maklike ‘proses’ om op datum te bly.
- Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?
Ons kyk daagliks nuus (Kyknet), maar my aandag dwaal meestal lank voor die weervoorspelling (Terloops, daardie musiek wat hulle sedert die inperking tydens die verkorte weervoorspelling speel, gee my die heebie-jeebies. Ek kry sulke terugflitse na daardie eerste week van inperking toe ek so gestres het oor my moontlike blootstelling dat ek heeldag gehiperventileer het L)
Ek loer ook elke dag na die WGO se blad ‘Corona Virus update’.
- Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?
Onsekerheid maak my mal, dus verkies ek om op hoogte te bly. Wat my wel vang is fopnuus wat via WhatsAp en soms op Fb versprei word. Ek raak ongeduldig wanneer mense sulke strooi sluk vir die waarheid, en sukkel om die waarheid te glo. Wat my meer ontstel as die virus-nuus is die nuus van korrupsie en wanbesteding.
- Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?
Net wat op die nuus genoem word en wat ek op die WHO se blad met Covid-statistieke sien. (Ek meet SA se situasie / vordering daaraan.)
- Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel? 37. Hoekom?
Net die Covid-statistiek van:
- Suid-Afrika (omdat ek ons plek op die lys kontroleer.)
- Amerika,
- Spanje (want my broer se dogter (’n wetenskaplike navorser) en haar man is sedert April 2019 daar),
- China (omdat Covid daar begin het en ek glo hulle het oor hul getalle gelieg 😉 )
- Indië (omdat hulle, soos Suid-Afrika, nog ’n verpligte teringinentingstelsel het).
- Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou?
Dis vir my ontstellend, maar ek broei nie daarop nie. Ek verwyt wel die ‘Politburo’ (Dlamini Zuma en haar trawante) omdat hul onlogiese regulasies mense so negatief gestem het dat hulle in reaksie alle regulasies wantrou en ignoreer, juis noudat dit lewensbelangrik is om versigtig te wees.
- Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin?
Miskien sou ek in die begin minder versigtig gewees het en eers later net meer tuis gebly het. Andersins min of meer dieselfde: As jy daarin is, moet jy maar daardeur. Omdraai kan niemand, wegvlug ook nie. Net een tree op ’n slag, een uur op ’n slag, een dag op ’n slag.
- Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin?
Sal maar weer die humor soek en daarop konsentreer. Sal hopelik ook weer aandag gee aan my geestelike versorging. En ek sal weer saam met Pieter daarin wil wees, want hy is die verpersoonliking van kalm onverstoorbaarheid.
- Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?
Ek ken die man nie persoonlik nie, maar dis goeie vriende van my broer en sy kinders.
- Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?
Nee, dis dalk hoekom ek nog so kalm daaroor kan wees.