‘n Lewe sonder diere? Nooit!

‘n Lewe sonder diere is vir my ondenkbaar. Hulle voeg soveel waarde tot ‘n mens se lewe toe dat die moeite en koste en verantwoordelikheid van versorging vir my nog altyd deur en deur die moeite werd was. En deesdae is daar al groter wordende begrip vir die ongelooflike positiewe rol wat (troetel)diere kan speel in die lewe van mense met spesiale behoeftes, synde dit kinders met gestremdhede, bejaardes of siekes.

Die heel eerste troeteldiere wat ek onthou, is die skaaphonde (Border Collies en ‘n Kelpie) op die plaas. En ‘n gemmerkat met ‘n stomp stert wat ek uit die stoor huis toe gelok het. Maar hulle was nie werklik troeteldiere nie, meer werkers op die plaas. Dit het moontlik meegewerk aan my blywende gevoel dat diere nie in die eerste plek daar is om GETROETEL te word nie, maar om ‘n rol te vervul. Hoewel ek ontsettend lief is vir my diere, bly hulle vir my diere. Ek probeer om nie menslike emosies en eienskappe aan hulle toe te ken nie, en ek probeer in gedagte hou dat diere se lewensverwagting laer is as dié van mense – afskeid is dus onvermydelik. Wat dit ‘n uitstekende oefening vir die liefde maak – wees bereid om liefde te gee en te ontvang, al weet jy êrens in die toekoms gaan daar seerkry ook wees.

Deur meer as drie dekades as volwassene het ‘n indrukwekkende verskeidenheid diere al my lewe verryk. Oor elkeen is daar staaltjies en herinneringe wat voortleef in ons gesin. Die eerste budjiepaar wat in ‘n koutjie in ‘n skoendoos gebroei het. Die langtermyn budjieboerdery, in die groot hokke en in die buitekamer met hokke self saamgeflans uit ou rakke. Die aanleer van die kuns van handgrootmaak van papegaaie. Die mak lovebird wie se voetjie Ouboet per ongeluk raakgetrap en toe self perfek gespalk het. Donsie en Koerie, die yslike slaghoender (wat ‘n pragtige liggroen gekleurde kuiken was) en groot, wit eend wat so graag katkos uit die blikkie geëet het. Vele hanslammers, etlike ander kuikentjies wat dagoud gekoop, grootgemaak en dan plaas toe gestuur is. Kattie I, die wonderlikste Siamese kat wat uit die straat by ons aangekom en vir meer as sestien jaar deel van ons lewens was. Kattie II, wat verwilderd uit die Karoo aangekom het, en ‘n tragiese einde gehad het. En tussenin Sunnyside Sashan Star, netso fynbesnaard soos sy naam impliseer, wat aanhou mors het in die huis van ‘n swanger en baie naar eienaar. Later Kwêkie en Kwakie, die onvergeetlike Hollandse kwakereendjies wat vir etlike jare elke jaar ‘n broeisel kleintjies hier grootgemaak het en vir die eiers vir Ouboet se verjaardagkoek gesorg het. Kwakie wat graag krieke uit jou hand kom neem het en rustig sit en broei en vreet het terwyl die kinders ‘n Sterinappi emmertjie vol slakke vir haar bedien. Die paar reënbooglorikiete, reënboogbont, hondmak en vroetelend met hul borseltongetjies vir lekkernytjies soos Pronutro, dik vla of jogurt. Voëlie, die weggooibudjie wat geweier het om stil-stil van honger te sterf en nou nog saam met Pa werk toe gaan in die week en naweke huis toe kom in ‘n bruin kardoesie van die troeteldierwinkel af. ‘n Hele verskeidenheid konyne, wat begin het by Hasie, van die bure afkomstig en geliefd onder die buurt se kinders. En Alice, die Kaliforniese konyn met die donker punte soos ‘n Siamese kat. Daarna Tesse en Monty, die opregte Hollandse miniatuurkonyne en hul nageslag en opvolgers. En die hartseer afskeid wanneer hulle teen ongeveer vyf jaar totsiens moet sê.
En deesdae Hilde, die eerste hond op hierdie erf. Yslike Duitse herdershond met ‘n hartjie netso klein soos haar ounooi s’n.
Dalk moet ek ‘n boek skryf. Want elke diertjie het ‘n lewensfase verteenwoordig. My life with animals … Hoe sê ‘n mens dit in lekker Afrikaans?
NS. O gaats, ek het die visse heeltemal vergeet …

8 gedagtes oor “‘n Lewe sonder diere? Nooit!

  1. My budgie hou darem net uit – wat ‘n bitter einder. Kan nie glo hy word binnekort ag nie. Ek het vanoggend weer daardie lekker sagte, warm lyfie gesoen. ‘n Ware liggie in my lewe.

    1. Wil nog hier baie goed plaas oor die belangrikheid van troeteldiere – sal jou as getuie nommer 1 oproep!

  2. Terwyl ek hier lees herken ek myself,onthou elke ene want was deel van die huis.laas sondag is my troetwlmakou van 8 jaar dood,hengse hartseer en begrafnis,my dan soveel ure vermaak.sal net wonder hoe oud word hulle oor die algemeen

    1. By my oudste suster (die diereliefhebber in die familie wat gelukkig genoeg was om op ‘n plaas te bly) was daar altyd makoue op die werf. Ek het ongelukkig nie ‘n idee hoe oud hulle kan word nie, maar 8 jaar is waarskynlik ‘n goeie ouderdom. Ja, dis altyd swaar as die afskeid aanbreek – of die diertjie nou groot of klein of belangrik is of nie.

  3. Alta, dalk sal jy hierdie webwerf interessant vind: dit gaan oor mens-dier-interaksies en publiseer die navorsing wat al daarop gedoen was: http://habricentral.org/

    ps. gelukkig gaan my katte ewig lewe, so ek gaan nie daai hartseer dag moet meemaak nie 😉

    1. Dankie, Karen, dis ‘n baie interessante webwerf!
      Gelukkig word katte mos darem baie oud … 🙂

  4. Kan julle ons asb help? Ons bly op ‘n klein hoewe en die buurman se ganse maak ons wakker baie keer in die nag. Ons kry baie min slaap in, deur hulle lawaai reg deur die nag. Sy slaap kamer is baie ver weg en ons sin is net oorkant sy gans hokke. Ons mense kan nie slaap met die lawaai reg deur die nag nie. Help ons asb.

    1. O aarde, ‘n gans is maar ‘n ding wat raas. Dalk moet julle maar konsentreer op die feit dat hulle sulke goeie waghonde is en teen misdaad waarsku.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s