RSS

Krag vir stem

“#*#*!” SWETS MY VOORBEELDIGE MA saggies onder haar asem, net hard genoeg dat ek wel deeglik moet hoor.  Ek het wraggies weer my skoolskoene in die middel van die kamer gelos.  En my tas.  En my tekkies.

Resep vir moeilikheid.  En hier kom dit ook:  “Ek is siek en sat om soggens in die donker oor jou goed te val!  Ek weet nie hoekom doen ek nog die moeite om vir jou koffie aan te dra nie!”

En na ‘n oomblik met ‘n effense smile in haar stem:  “Of koeldrank!”  Dankie tog, haar humorsin is op sy pos; vele onstuimighede in hierdie huis is al ontlont deur ons twee se vermoë om die snaaks in die simpelste goed te sien.

As Ma my op ‘n koelerige herfsoggend met ‘n glas gaskoeldrank wakker maak, beteken dit net een ding:  kragonderbreking.

En dít spel net een ding:  chaos.

“Pas tog op vir die gordyne by die kers!” roep sy terwyl sy gangaf verdwyn.  Verwerdig haar nie eens om my kersie vir my op steek nie.

Sy’t dit sowaar bedoel toe sy my tydens ‘n onlangse onderonsie formeel ingelig het my bederfdae is verby, sy gaan nou die skroewe aandraai.  Sy vertroetel my en my smarte nou al so lank met soveel toewyding; sy móés seker iewers byval daar’s ‘n ding soos tough love ook.

En sowaar, daar draai sy die stort oop! Ondenkbaar, maar waar, sy’t wraggies die stort eerste gegaps; koue water is my voorland.

Ek sukkel met die ellendige kers; die vlammetjie lek langtand aan die skadu’s in die hoeke van my kamer.

Jy dink nog kerse is romanties?  Wag maar tot sporadiese kragonderbrekings jou deel van onse land kort-kort tot stilstand ruk.  Jy sal gou-gou van mening verander.  Kerse is nie romanties nie.  Kerse is onprakties, ontoereikend en bowenal onveilig.

Oulike sms wat ek gister van Lindie, my beste pel en geesgenoot – ons deel alles van grimering tot opstelle tot kêrels – gekry het:  Vraag:  Wat het Suid-Afrikaners voor kerse gebruik?  Antwoord:  Elektrisiteit!

Inderdaad.  Die donker Middeleeue het op die Wes-Kaap toegesak.  En daarmee saam ‘n donker moedeloosheid.  Is die pessimiste en doemprofete nie dalk al die tyd reg nie?  Is ons jong demokrasie se wiele aan die afval?

Wel, vandag is my eerste kans om iets daaraan te doen.  Groot oomblik:  Ek, Susanna Maria Marais – San-Marie vir my pelle, Santjie vir my ma – gaan vandag vir die heel eerste keer stem.

Gisteraand het dit na ‘n briljante idee gelyk om my beskeie deeltjie vir volk en vaderland te doen en my kruisie te gaan trek.  Die meeste van my pelle wat ook al agtien is, voel vere vir die hele stemmery.  Daar’s tonne planne gemaak vir die ekstra vakansiedag, en min van hierdie planne sluit ‘n paar uur se toustaan by ‘n stemlokaal in.  Ek, daarenteen, het vir almal loop en vertel dit help nie om te kla oor hoe dinge in die land gaan as jy nie jou demokratiese reg om te stem uitoefen nie.

Vanmôre brand my vlam van vaderlandsliefde egter maar bitter laag.  Om die waarheid te sê, daar’s skaars ‘n gloeiende kooltjie te sien.

Ek was nog nooit ‘n oggendmens nie, om dit nou sagkens te stel.  En deesdae is die slapery so ‘n stryd dat ek soggens nou éérs lamlendig is.  Die nagmerries wil maar nie end kry nie; ek kan hul omtrent al uit my kop opsê.

Ja, ek weet als van posttraumatiese stres.  Ek weet van die gebeure wat aanmekaar in jou kop afspeel, die regressie, die buierigheid, die slaaploosheid.  Ek kan dit net nie handle nie.  En my ma het nie meer raad met my nie; sy’s gedaan gepamperlang aan my.

Vanmôre dring sy ewe harteloos daarop aan dat ons minstens ‘n halfuur voor die stemlokaal oopmaak, daar moet wees; sy’s nie lus vir ‘n toustanery nie.  Nou vra ek jou met trane in my babablou kykers:  Wat anders as toustaan gaan ons vir daardie halfuur doen?

En dan sê grootmense tieners is irrasioneel!

Ek sluk my koeldrank weg en kruip terug in die veilige kokon van my bed.  Ek het nie vanmôre krag vir stem nie.

Ek het die laaste tyd krag vir netmooi niks.

Ergste is, ek kan niemand blameer nie. Net myself.

DIE JONGMAN VAN HOOGLIED KON droom om so mooi te wees soos my Sean.  Bobene soos marmerpilare en haarlokke soos dadeltrosse de lot.  Ja, sy mond smaak soet, alles aan hom is begeerlik.*

Nie is nie – was.

Sean het op sy Harley in my lewe ingejaag en weer op die einste Harley daaruit gejaag.  Nie net uit myne nie, maar ook uit sy ma en sy pa en sy sussie s’n.

Sean is dood.  En dis my skuld.

Ek het hom sit en aanhits om die ysterperd ‘n bietjie oop te trek.  Nie dat hy veel aanhitsing nodig gehad het nie.  Sean het gevrek oor spoed; vinnig geleef, vinnig gesterf.

Ek was weke en weke  in die hospitaal en my ma het spierwit grys geword in daardie tyd.  Alles wat af was (en dit was baie) het genadiglik weer aangegroei; niks aan my is meer sigbaar stukkend nie.

Behalwe my binnekant.  In my diepste binnewerke sweer en etter dit.

Die skuldgevoel verlaat my nooit.

Ja, die pyn is nie meer heeltemal so rou nie.  Maar weggaan?  Seker nooit.  Sielkundiges en pille en dominees en my ma se liefde en my pa se pogings – alles tevergeefs.

Sean se ouers het niemand die skuld gegee nie, minste van almal vir my.  Hulle het gedink ek’s ‘n bestendige invloed in sy lewe, bid jou aan!  Hartseer was hulle, ja, maar nie verbaas nie.  “Hy was van kleinsaf ‘n wilde kind,” het die tannie gesug.  Dis juis daai wildgeit wat die girls so mal gemaak het, my inkluis.

Ma se nat kop kom om die deurkosyn:  “Opskud, Santjie! Ek het gou gemaak, daar sal genoeg warm water wees.”  Sy’t nog nie gekliek die haardroër is buite aksie nie.  Soos die broodrooster, die ketel, die strykyster, die rekenaar, die CD-speler, die verwarmer.

Die hele flippen huishouding staan stil.  Die hele flippen ekonomie staan stil elke keer as daai towerstroom net skielik stomp afbreek.  En lyk my g’n mens weet rêrig presies wát hom so laat afbreek nie.

Die voortdurende kragonderbrekings torring aan almal se senuwees.  Ek kry die gevoel dit kan dalk net die ding wees wat vir Ma over the edge gaan druk.  Sy’s gedaan geworry oor my, asof sy nie swaar genoeg kry sonder Pa nie.  Hy’t mos pas sy laaste varkie kwytgeraak, toe gaan staan en neuk ek en Sean so op.

“Gaan Ma solank, ek lê nog ‘n bietjie.”

Sy’s nou voor my bed.  Ek knyp my oë styf toe. “Santjie, jy weet dis nie vir jou goed om te bly lê nie; maak dit maklik vir die duiwels om jou toe te pak.”

“Ek’s OK, Ma, net lui,” lieg ek.

Ek bluf haar nie.  “Dit gaan nie help om jouself hier te lê en jammer kry nie, my kind.”

Ouch!  So reg in die kol.

Ma’s nou rêrig keelvol vir my gesanik.

DIS NIE DAT SY ONSIMPATIEK is nie.  Sy weet immers wat verlies is. Miskien is dit selfs erger om iemand aan die lewe af te gee as aan die dood.  Hulle was twee-en-twintig jaar bymekaar; ek en Sean ‘n skrale ses maande.  Hulle het saam ‘n kind grootgemaak; ek en Sean het gevry en motorfiets gery, dis basies al.

Pa raak mos toe helemaal bossies toe die vyftig hom strike.  Boer by die gym, grys hare weggekleur, pretensieuse nuwe ryding.  En toe ons weer ons oë uitvee – pretensieuse nuwe meisie.  Skaars ouer as ek, so maer soos ‘n kraai, met ‘n bek soos ‘n skeermeslem.  Weet mos vir my te vertel ons het my pa versmoor met ons liefde en eise.  Ga!

Ek het één keer in hulle armoedige liefdesnessie gaan kuier, en dit was laas.  As Pappie sy enigste dogtertjie wil sien, kan hy ordentlik vir haar kom kuier, in haar (sy) eie huis.  Ek is nie meer ‘n kleuter wat my laat paai met presente en uitstappies nie.  Dit was óf Sondagmiddae, óf nooit.

Wat Skeermesbekkie met haar Sondagmiddae maak, skeel my min; enige bobbejaan kan sien die tydjies hier is vir hom flippen lekker.  Hy kom natúúrlik net om my te sien, so vertel hy elke keer met groot omhaal.

Hy weet maar net nie, hy’s vas aan die hoek.  Ek en Ma gaan vir hom inkatrol.  Tot binne-in hierdie  huis, waar hy hoort.

Anyway, ek wou van Ma vertel.  Ma het gevat wat die lewe na haar kant toe gooi, en gedeal daarmee.  Sy’t haar kop hoog gehou toe Pa sy onderbroek en tandeborsel inpak en tjaila.  Sy’t nie verwyt of geskel of al sy geld probeer inpalm nie.  Sy het bloot botweg geweier om te skei.

En Pa het gou-gou ophou vra.  Tot my innige genoegdoening.

In al die maande van herstel na die ongeluk het Ma my toegewyd versorg: saam gehuil, saam na Sean se ouers toe gegaan, dokter toe gery, fisio toe gery, skoolwerk georganize, lekker kossies gemaak.  En nog ‘n miljoen ander dinge.

Maar my gekerm oor die skuldgevoel het nou te veel geraak vir haar.

EK MOES SOWAAR INGESLUIMER HET.  En salig droomloos vir ‘n verandering.  Dis wraggies oor tien toe Ma moeg en humeurig by die huis aankom.

Haar hare het wild droog geword; as Ma se hare nie reg is nie, is haar humeur ook nie reg nie. “Wat ‘n gemors!  Die mense sukkel daar met kerse en ‘n enkele pieperige lanterntjie!  Ek kan nie glo hulle het nie voorsiening gemaak nie, almal weet tog die krag gaan vir elke bakatel af en bly af so lank hy lus is!”  Sy pluk die gasbottel vererg van die kas af toe ek ingedagte die dooie ketel probeer aanskakel.

Iets byt haar; sou sy vir Pa daar gekry het?  Met Skeermesbekkie op sleeptou?

“Jy’t laas belowe jy sal batterye vir die radio kry, San-Marie!  Hierdie stilte werk op my senuwees.”  Die ongestrykte hemp help ook nie vir die humeur nie.

Soos altyd skrik ons altwee vir die gasvlam se vinnige woeps!; ons kry maar net nie die slag om hom nét reg oop te draai en die vuurhoutjie gereed te hê nie.  En ons draai die ding so styf toe van banggeit vir gas wat ‘n mens in jou slaap oorval, dat dit elke keer ‘n ewige gespook is om hom oop te kry.

Dis mos nou waar ‘n mens ‘n mansmens nodig het.  Verdómde Pa.

“En al wat leef en beef het besluit om vroeg te gaan stem – toe ek daar aankom, is daar al ‘n ellelange ry!  Nou’s dit rustig, jy sal kan instap en uitstap.”

“Já, Má.”  Ek het nie krag vir stem nie.  Ek het krag vir niks.

“Maak tog toe die yskasdeur, kind, ‘n mens weet nie hoe lank dit hierdie keer gaan wees nie.”  Ek het mos hierdie nare gewoonte om die yskas oop te maak en dan in hom te staan en staar asof oplossings vir al my probleme uit hom gaan kom.

Ek klap die ding vererg toe.  “Toemaar, toemaar, moenie ‘n gasket blaas nie, Moeder!”

Iets kielie skielik vir Ma op ‘n lekker plek; onverwags mik sy ewe vrolik met die  vadoek na my:  “Toe, loop en gaan stem!”

En dan praat sý van buierig!

OP DIE LOOM MIDDAGUUR KOM ek lusteloos by die skoolsaal aangeslenter.  Ma het verseg om my die kar vir die entjie te gee; sy’t nou genuine haar mes in vir my.

Genadiglik kom Lindie van die ander kant af aan; ek het haar kop darem geswaai gekry om ook te kom.

Die omies en tannies by die partye se tafeltjies voor die hek lyk of hulle met hul siesta besig is.  Hulle glimlaggies is maar flou; hier’s ook g’n babatjies om te soen of oumense om galant te ondersteun nie.  Aan twee tieners met heupbroeke en kleefhempies se stemme heg hulle duidelik nie veel waarde nie.

Hulle sal hul fout nog agterkom; oor ‘n paar jaar is ons meningsvormers met snyerspakkies en laptops en blink maatskappymotors.

As ek net deur hierdie ding kan kom.

Daar is nie ‘n ry nie; daar is nie ‘n enkele mens nie.  Algar seker vroeg gekom, en die res wag vir op die nippertjie.

Op die stoepie voor die hoofingang sit ‘n figuur op ‘n kitaar en tokkel.  Rustig, soos mens maak as jy net die tyd wil omkry.  Van ver af sien jy net lang bene en lang hare wat vorentoe val om sy gesig.  Nadere beskouing toon die wit hempie met die Onafhanklike Verkiesingskommissie se blou kruisies op; dis ‘n offisiële werker wat die stil middaguur kreatief probeer omkry.  My ma sal hou van hom, kan mos ook nie ‘n oomblik ledig sit sonder om haar hande besig te hou nie.

Die jongeheer spring galant op toe ons nader kom en vra beleefd om ons ID’s te sien.  Lindie draai haar mooiste glimlag op hom oop en begin sommer gesels oor die kitaarspelery.

En ek?  Ek staan vasgevries in my spore.  Versteen soos Lot se vrou.

EK SAL MY MA IN my dag des lewens nie hiervoor vergewe nie.  Vir wie ek op die onderskeie stembriefies my kruisie gemaak het, moet jy my ook liewer nie vra nie.

Ek is soos blits by hom verby; die stemlokaal holderstebolder ingebars en toe hard probeer om yskoud en nevermaaind te lyk.

Maar ek weet hy wag vir my; daar’s nie ‘n ander uitgang nie.

Lindie dink ek het finaal my varkies verloor (dis mos eintlik my pa se gebied).  Haar dringende gefluister laat die wag by die deur noukeurig na ons kyk, dink sweerlik hy’t met landsgevaar te doene hier.

“Wat gaan met jou aan?” sis Lindie.

“Loop voor en loop vinnig; ek wil nie met hom praat nie,” fluister ek terwyl ek soos ‘n moroon agter haar skraal lyfie probeer skuil.

Maar tevergeefs, hy staan my voor.  “San-Marie.”  Vergeet sal ek daai stem nooit.  Diep, met ‘n effense huiwering, asof hy elke woord eers deeglik oorweeg.  “Asseblief, ons moet praat.”

“Ek het niks vir jou te sê nie.”  My trane begin sommer vanself loop.

“Asseblief, die skuld vreet my op, ek kan nie so aangaan nie.”

Dít stuit my in my spore.

“Dit was nie jou skuld nie.”

“Nou wie s’n dan?”

“Myne.”

“Jy’s laf, man, jy was die passassier, wat kon jy nou doen?”

“Ek het hom aangehits.”

“En ek het van voor af gekom.”

Iemand kug vererg; daar’s mense wat wil ingaan.

Lindie is ‘n vlymskerp blonde;  sy som die situasie blitsig op.  “Môre, tienuur, by die coffee shoppe  hier om die hoek,” kondig sy summier aan.

“Ek sal daar wees!  Asseblief, San-Marie!”  Genadiglik kan hy nie sy pos verlaat en agterna kom nie.

Ek rittel so groot soos ek is.

HY’T OOR MY GEBUK; ek het in nat gras gelê. Daar was bloed aan sy gesig en trane in sy oë.  “Ek is jammer, ek is jammer,” het hy aanhou sê.

“Sean, waar’s Sean?” het ek aanhou kerm.

“Ek dink jou ou is dood.”  Hy’t naar geword in die gras langs my.

Toe was daar mense en uitroepe en genadiglik donkerte.

EK STORM VERWOED BY DIE huis in.  Pa en Ma sit penorent in die sitkamer.  Sy’t hom laat kom; hulle wag vir my.

“Ma’t my geframe!” gil ek.

“Julle twee kan mekaar help, my kind.  Julle was saam-saam in die ding.”  Ma se stem smeek.

“Ons ander bly maar buitestaanders, al bedoel ons dit hóé goed.”  Pa het nuwe lyne op sy gesig, en sy hare is weer grys uitgegroei.

“Ek het sy adres gekry; julle móét mekaar weer sien, hy’t ook jou hulp nodig.”

“Hulle sien mekaar môre, tannie,” chip Lindie van diékant af in.

“Hy’s gek, Ma, hy dink dit was sy skuld.”

“Jy’s netso gek, my kind, jy dink dit was jou skuld.”

“Nou wie s’n was dit dan?” gil ek wanhopig.

‘n Groot stilte daal oor ons neer; ‘n stilte wat práát.

“Dalk Sean s’n?”  Lindie se stemmetjie is klein en bang; sy weet sy’s op verbode terrein.

Vir die eerste keer in my lewe skree ek op haar:  “Dit wás nie, dit wás nie, hoor jy my, dit wás nie!”

Ek storm gangaf en slaat my deur donderend toe.  Toe sluit ek hom en haal die boksie met al Sean se onthougoedjies uit my kas.  ‘n Spyskaart, ‘n droë roos, sjokoladepapiertjies, ‘n servet, ‘n enkele foto …

Hy was góéd; niemand het hom geken soos ek hom geken het nie.     Dis maklik vir almal om hom te beskuldig; hy’s nie hier om homself te verdedig nie.

DANKIE TOG VIR ‘N en suite badkamer!  Toe ek tienuur vanmôre steeds stom agter my toe kamerdeur sit, gaan haal Pa vir Wynand Retief in die koffieplek.  Intussen smeek Ma en Lindie onverpoos voor my kamerdeur; g’n mens se senuwees kan dit hou nie.

Iewers in die hele kabaal kliek ek my pa het laasnag hier geslaap.  Dit maak my verskriklik bly; so bly dat ek summier my skuilplek verlaat om seker te maak.  Ek’s buitendien half dood van die honger.

So loop ek my dan in Wynand vas op ons stoep onder die goue herfsprieël.  Die hand wat hy na my uitsteek se naels is stomp gebyt.  Dis nie net ek wat swaarkry nie.

“Dit bly draai in my kop,” sê hy terwyl ek onthou van die bloed aan sy gesig.

“Die nagmerries maak my mal,” sê ek.  Hy’t ‘n sexy baardjie bygekry.

“Dit was nie jou skuld nie,” sê hy.  ‘n Litteken, dus.

“Ook nie joune nie,” sê ek.  Daar’s stokou lyntjies om sy bloedjong oë.

“Nou wie s’n dan?” sê ons gelyk.

Weer eens die vreeslike stilte wat so baie sê.

“Dalk sy eie?” waag hy versigtig.

“Dalk sy eie,” wurg ek dit eindelik met moeite uit.

Sean het sélf besluit om die motor op ‘n blinde hoogte verby te steek.  Nie ek óf Wynand het hom gemáák dit doen nie.

Ek kan nie langer die blaam van hom weghou nie.

Diep in die huis hoor ek musiek en toe my ma se lag; ‘n lieflike geluid.

“Die krag is aan,” sê ek onnodig.

*Hooglied 5:11, 15 en 16

 

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: