Groot was my verwondering die afgelope vakansie toe ek weer sien hoe ver die liewe kind wat as seuntjie bleek en bewerig geword het as jy ‘n bord groente voor hom neersit, sedertdien gevorder het. Praat van gesond eet – genoeg om ‘n ma verbouereerd te maak!
Die grootste nuutjie was die Groen Konkoksie (ook gedoop die Groen Dood 🙂 – ‘n groente shake met bestanddele wat my aanvanklik die jitters gegee het. Basies bevat dit ‘n paar bestanddele wat van die goed is met die hoogste voedingswaarde gekombineer met die laagste energielading. Dis ook veronderstel om alkalies te wees en allerhande onheile wat met te veel suur verband hou, teen te werk. Persoonlik dink ek die grootste voordeel is dié een in jou kop – dit laat voel ‘n mens regtig vreeslik in beheer, verstandig en gesond! Dis iets heilsaam wat jy kan drink wanneer jy vir daardie onbereikbare iets lus is (wat my gewoonlik laataand pak) – die rede waarom ek vir jare baie Coke Light gedrink het – en toe gelukkig my fout agtergekom het.
Tot my verstomming is dit toe glad nie so sleg soos dit klink nie. Dis eintlik vir my nogal baie lekker. (Maar as jy vol fiemies is oor stukkies in jou drankie, gaan jy dalk swaar kry hiermee.)
Hier is die resep min of meer (hoeveelhede kan natuurlik gewissel word na smaak.) Met geurmiddels kan ‘n mens natuurlik na hartelus speel. Dit vries baie goed, jy kan dus ‘n groot hoeveelheid op ‘n slag maak. Wanneer ontvries, drink jy dit met lemoensap (omtrent die helfte). Ek voeg met die mengslag heelwat lemoensap in en by die drink minder, want my versappertjie moet begin met genoeg vloeistof, anders brand hy uit.
1 pak baba- of slaai spinasie (die klein blaartjies, nie Popeye se variasie met die lang, donkergroen blare nie)
1 groot Engelse komkommer
Twee of drie stokke seldery
1 appel
Stukkie vars gemmer
Suurlemoensap as jy wil
Bietjie lemoensap net om vloeibaar te maak
Kap alles fyn en versap dan.
Verdun met lemoensap wanneer drink. En ysblokkies as jy wil.
Waarskuwing: Dis baie sleg as dit nie lekker koud is nie!