Helene de Kock is ‘n gevestigde en geliefde skrywer in Afrikaans en voorsien al jare lank in die behoeftes van diegene op soek na ‘n storie wat lekker lees, maar die leser ook laat dink. Met die historiese roman Debora en seuns doen sy dit weer. Hoewel die milieu waarin haar verhale afspeel altyd sentraal gestaan het (dikwels die Oos-Vrystaat en in die verlede ook dikwels Nederland), word dit na die voltooiing van haar doktorale studie oor die rol van milieu in die romankuns nog meer prominent.
Die titel verwys terselfdertyd na die winkel Debora en seuns en na die gesin Schlagerfeldt. Die lotgevalle van die gesin en die winkel is dan ook onlosmaaklik verweef.
Die plattelandse lewe in ‘n konserwatiewe Afrikaanse gemeenskap van die dertigerjare van die vorige eeu word in fyn detail geteken. Die wisseling van die seisoene, die reuke en klanke van die omgewing werk mee om ‘n besondere atmosfeer aan die roman te verleen. Veral die verwerking van die vrugte uit die dorpstuin en die verskeidenheid gewone en minder gewone gebak wat in die winkel verkoop word, word so lewend geteken dat die leser haarself naderhand verbeel sy kan die laventel en vrugtegeure regtig ruik.
Die verhaal word vertel uit die oogpunt van die jong Margot, dogter van die “weduwee” Susan Scott wat vanweë haar wyer lewenservaring en algemene kennis nie heeltemal by die gemeenskap inpas nie. Debora Schlagerfeldt en haar gesin staan nog meer op die rand van die konserwatiewe gemeenskap. Hulle vaagheid oor hulle verlede en die trotse manier waarop hulle hulle gang gaan, bring mee dat ‘n soort misterie om hulle geweef word, ook in die jeugdige Debora se gemoed. Aanvanklik dien die Schlagerfeldts hoofsaaklik as katalisators vir Margot se persoonlike ontwikkeling en die verruiming van haar denke. Mettertyd word hulle onlosmaaklik deel van haar lewe en moet hulle ook verskeie ingrypende veranderinge hanteer.
Die Tweede Wêreldoorlog bring ‘n einde aan die (oënskynlike) plattelandse idille. In die hegte gemeenskap word andersdenkendes nie simpatiek bejeën nie en staan die Scotte en die Schlagerfeldts alreeds op grond van hulle vanne onder verdenking. Onvermydelik word die twee gesinne se lotgevalle verweef en mettertyd vind Margot dat sy meer en meer deel word van die lewe in die Victoriaanse huis aan die bopunt van hulle straat. Geleidelik leer sy die geheime van die seuns ken en eindelik ook dié van herr Dieter, stilswyend in sy rolstoel. In die proses leer sy ook die liefde ken en maak sy ‘n ingrypende keuse wat haar ver buite haar vertroude en beskermende kring laat beland.
Wanneer die fokus na die gebombardeerde Londen verskuif, word die milieu met soveel sorg geteken dat die leser ook hier ingetrek word en deel word van die Londenaars se lotgevalle. Margot verloor finaal haar kleindorpse onskuld en leer oorlog (en liefde) in al sy felheid ken.
Veral twee van die drie Schlagerfeldt-seuns maak ‘n keuse vir ‘n lewensmaat wat nie inpas by die geslote aard van die Afrikaanse gemeenskap nie en daag die bestaande norme uit. Die invloed van oorlog om bestaande strukture in gedrang te bring, word duidelik uitgebeeld in elkeen se hantering van die komplikasies en implikasies van hulle keuses.
Die tekening van die rol van die swart bediendes in Margot se lewe moet teen die agtergrond van die tyd gesien word. Hoewel dit voor die amptelike instelling van apartheid was, was klasseverskille op grond van ras diep gewortel in die wyer Suid-Afrikaanse samelewing, nie slegs by die Afrikaanse deel daarvan nie. Ten spyte van die hiërargie was (en is) daar dikwels groot lojaliteit en toegeneentheid tussen werkgewer en werknemer, hoewel sosiale interaksie en veral liefdesverhoudings op daardie stadium feitlik ondenkbaar was. Die alternatiewe keuses wat die Schlagerfeldt-seuns binne die wit gemeenskap maak, was alreeds ‘n uitdaging van die bestaande norme.
Verskeie temas word in die verhaal tot ‘n harmonieuse geheel verweef. Dit kan as ‘n soort coming of age-verhaal gesien word wat die ontwikkeling van Margot van tiener tot volwasse vrou boekstaaf. Mettertyd leer sy om ‘n verskeidenheid mense se keuses te verstaan en te aanvaar en leer sy wyer dink, tot waar sy self ‘n ingrypende keuse kan maak en deurvoer sonder die medewete en hulp van haar beskermende kring. Terselfdertyd word die krag van groepdenke en haar stryd om ‘n eie identiteit belig. Die ontwrigtende invloed van oorlog, selfs al gebeur dit op ‘n ander kontinent, blyk duidelik in die verskeurdheid wat in die gemeenskap ontstaan. (Vir Nederlandse lesers: Baie Afrikaners het in WOII outomaties teen Engeland en dus vir Duitsland gekies weens die voortslepende bitterheid oor veral die behandeling van vroue en kinders in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902. Hulle lojaliteit het dus grootliks op emosie berus en nie op feitelike inligting oor bv. Hitler se vergrype nie. Diegene wat wyer gedink en vír Engeland gekies het, is dikwels met agterdog bejeën en die kwessie het gemeenskappe pynlik verdeel.) Die rol van die klassieke outsider word veral deur Debora beliggaam, maar ook tot ‘n mate deur haar seuns en deur Margot en haar ma. Die behoudende Afrikaners word redelik ongunstig as uiters konserwatief en paternalisties geskets, hoewel daar veral by die karakter van Casper pogings tot balans is. Die verhaal kon egter ‘n meer gebalanseerde beeld van die problematiek van die Suid-Afrikaanse samelewing gebied het as ook die eng deel van die gemeenskap se motivering en dryfvere duideliker uitgelig is.
Debora en seuns is nie ‘n aksiebelaaide verhaal wat tot ‘n dramatiese einde opbou nie, maar eerder ‘n familiesage waar die los drade teen die einde netjies vasgeknoop word. Die gegewe word net genoeg geromantiseer om die leser op soek na die goeie tevrede te stel, maar word nooit onrealisties nie. Margot is wel die romantiese hoofkarakter wat vele mans se harte aanraak, maar haar persoonlike ontwikkeling strek ver verby die bloot romantiese ervaring van ‘n groot liefde in oorlogstyd. Daar is wel die suggestie dat die ietwat stram Marnitz verander as gevolg van haar liefde en die terughoudendheid wat hy van kleinsaf in sy gesin aangeleer het tot ‘n mate aflê, maar dis nie ‘n onrealistiese beeld van ‘n vrou wat ‘n man na haar smaak verander nie en word as ‘n groeiproses oor ‘n lang tydperk aangebied.
Vir hierdie leser simboliseer die reuke van laventel en kordiet die twee pole van Margot se lewe, die twee werklikhede wat sy uiteindelik bymekaar moet uitbring en waarbinne sy haar lewe moet voortsit. Uiteindelik word dit dan ook simbool van die lig en die donker waartussen die meeste van ons op een of ander stadium moet kies, op watter vlak dan ook al.
Die oorspronklike artikel is hier te kry: http://www.maandbladzuidafrika.nl/node/244