Dan Sleigh, wie se historiese romans Eilande en Afstande bakens in die Afrikaanse letterkunde is, se jongste roman is ‘n enorme verrassing: eietyds, aktueel en met hope, hope houding. Dit is ‘n stormagtige, uitdagende verhaal waarvan elke sin getuig van die insig en kwaliteit van ‘n beleë skrywerskap. Aldus die agterblad.
Eintlik kan ek maar net Sela! sê, dis al.
Ek het nie Eilande en Afstande gelees nie. Hoofsaaklik omdat dit my ervaring is dat die storie waaragter ek aanlees, gewoonlik wegraak binne die omvang van so ‘n lywige roman. Nadat ek met Matilda kennis gemaak het, besef ek natuurlik hier is ‘n skrywer wie se werk ‘n mens behoort te lees net om te sien hoe Afrikaans gebruik kán word, nevermind of die storie jou aanstaan of nie.
Wals met Matilda is die storie van Koos van der Merwe, vermaarde skrywer wat ‘n doodloopstraat bereik het, sowel as die storie van Japie van der Merwe, die swagman oor wie die bekende Australiese liedjie gaan. (Ja, dit was blykbaar regtig ‘n Suid-Afrikaner en regtig ‘n Van der Merwe.) Koos worstel om met persoonlike trauma vrede te maak en weer aan die skryf te kom, Japie reis meer as ‘n eeu gelede Australië toe om oor die Merino-bedryf te gaan leer. Dis ook die storie van Koos en Carelina, die Muse wat deur die uitgewers gestuur word om hom weer aan die skryf te kry. En natuurlik is dít die storie wat my die meeste aangryp, subtiel en onderbeklemtoon soos dit aangebied word.
Die roman bevat kosbare én kostelike uitsprake en insigte oor allerlei sake. Ek haal net ‘n paar aan:
Oor die kortverhaalskrywer wat sy buurman is: … sy sinne, vars soos Karoolug en met klein, harde beelde gestapel … (Die beskrywings van die ses skrywers wat saam met hom op die boonste verdieping woon, is louter vreugde. Onder andere ook omdat bekende SA skrywers duidelik herkenbaar is daarin. Of verbeel ek my?)
Oor die skoolstelsel: Hy het nie die konsep skool vertrou nie, kinders moet gelos word om met hulle neefs te gaan branderplank ry.
Oor die hedendaagse man: Wat het met mans gebeur? Jy sien dertigjariges met ringbaardjies wat my aan die staatsdiens se toiletborsels herinner, en blink kaalgeskeerde skedels waarvoor jy in ‘n meisiekoshuis ook ‘n skokkende naam sal hoor. Hulle dra pienk onderhempies en driekwart-kakiebroeke met drie klein sakkies op elke been en yslike skoene soos daardie flaminke wat in Kenia in die klei vassit.
Oor die skrywer se onmag om te produseer: Sy ongetemde verbeelding, wat hy vroeër soms beskou het as ‘n las, was nou dig en koud. Hy het gevoel toe dit koud word en van hom losraak soos ‘n fetus wat aborteer.
En baie wat sommer net mooi is: ‘n Ou Bolandse naam moet ruik na vergeelde eiendomsbriewe van slawe, ryk koringgerwe in ‘n mied gepak, die vlugsoutreuk van ‘n skemer perdestal, boerbeskuit soet met donker Worcesterse rosyne, die muwwe, digte hitte van die vaste skrum as die koppe almal in is …
Careline se karakter is ‘n juweel. Bekkig en pittig en baie menslik: Novembermaan is gevaarlik. Almal wat dié maand gebore is, is mal, seksbehep en hou van rooi papawers.
En: Daar is niks met jou verbeelding verkeerd nie, Koos. Haal maar die maatemmer van jou kop af …
Die boek bevat genoeg geskiedenis om diegene wat mal is hieroor, tevrede te stel. En genoeg storie (eintlik ‘n hele paar) om die storielustiges tevrede te versadig. Genoeg beeldskone taal om die opregte liefhebbers van Afrikaans van genot te laat sug. Genoeg menslikheid om die leser opnuut van sy eie menslikheid bewus te maak. En genoeg subtiele, dikwels ironiese humor om my tone van genot te laat krul.
Ja, die boek begin stadig. Maar doen jouself ‘n guns en druk deur tot Carelina in die prentjie kom. Daarna is dit louter plesier.
Ek sit nou met die boek. Dit is eindeloos vervelig. Ek vat sommer so ‘n sentimeter bladsye bymekaar en blaai om. Niks beter nie. Om darem hoofstukke en hoofstukke te vat net om te sê: Ek het skywersblok, laat my dink iemand het Dan met Agaat oor die kop geslaan.