Chick lit is genre fiction which addresses issues of modern womanhood, often humorously and lightheartedly … the heroine’s relationship with her family or friends is often just as important as her romantic relationships … Amy Sohn redefines the genre as being about women who can stand on their own two feet. Aldus die alwetende Wikipedia.
Kristel Loots se Troukoek maak nie vet nie is al hierdie dinge – en meer. Die titel alleen is ‘n juweel, maar dit geld ook vir die hele lekkerte van 222 energieke bladsy propvol sprankelende humor en verkwikkende krisisse.
Dixie is inderdaad ‘n moderne vrou wat op haar eie bene kan staan (al wankel die stiletto’s soms so ‘n bietjie). Haar familie met al sy geite en griewe (rondloperpa, troulustige sussie, selfbejammerende ma) is vir haar baie belangrik. Al is sy nie altyd heeltemal oortuig almal se varkies is behoorlik op hok nie. En Slons die straatslaper en Coco die verskynsel wat veronderstel is om die bruidswinkel se bestuurder te wees, word inderdaad haar vriende en gewaardeerde kollegas. Nadat heelwat water in die see geloop het, natuurlik. Maar die romanse bly ook nie uit nie. Want Dixie het ‘n herinnering aan ‘n verpligte soen in Die Laan, ‘n soen wat die betrokke man natuurlik binne sekondes volkome vergeet het … Of het hy?
Troukoek maak nie vet nie is ‘n plesierige boek wat met die tong diep in die kies geskryf is in die plesierigste Afrikaans denkbaar. Met ‘n goeie skoot Engels daarby, natuurlik. Want Dixie is nie ‘n teksboekheldin wat in ‘n teksboeksituasie haar held ontmoet nie. Sy is ‘n bekoorlike maltrap met ‘n sagte hart en heelwat sakevernuf wat in die hart van die moderne Kaapstad haar voete moet vind in haar (troulustige) suster se verwaarloosde bruidswinkel. Natuurlik vind sy veel meer as haar voete. Eintlik meer as wat sy kan hanteer … As die nuwe SA vir jou soms ‘n bietjie te veel raak – gryp na ‘n stukkie troukoek! Dis gewaarborg om nie jou figuur te benadeel nie en jou lagspiere ‘n goeie work-out te gee. Soos Dixie sou sê as sy hier was.