Roberts, Nora – The search

Sit bymekaar: ‘n Dwars, befoeterde, kreatiewe man met ‘n aweregse sin vir humor; ‘n sterk vrou wat diep moet delf in haar eie krag in ‘n skrikwekkende situasie; ‘n pragtige eiland waar almal mekaar ken; ‘n vierstuks briljante opgeleide snuffelhonde; een ooraktiewe, ongedissiplineerde jong labrador; ‘n reeksmoordenaar wie se laaste slagoffer weggekom het; sy opvolger wat net tot op ‘n punt sy instruksies volg. Voeg daarby ‘n volkome gebrek aan seksuele inhibisies of skuldgevoelens by die karakters, sterk gekruide taal; eksplisiete, maar wonderlik beskryfde seks op allerhande interessante plekke; kleurryke en geloofwaardige newekarakters; hoogsopgeleide, effektiewe polisiemanne en speurders – en sit dit in Nora Roberts se hande.
Wat kry jy (wat al begin wonder het wanneer die vrou dan uitgeskryf gaan raak)? Jy kry romantic suspense uit die boonste rakke, dis al wat ek gaan sê.
En nee, sy is nog nie uitgeskryf nie. Sy sukkel wel om haar hoofkarakters elke keer nuut en uniek te maak, soms voel ek sy druk die grense net ‘n ietsie te ver – maar op die ou end raak jy maar weer versot op die twee, hardegat en dwars en diep menslik soos hulle is.
As jy hou van liefde en van moord – go for it!

Lewer kommentaar