Hierdie boek se Nederlandse uitgawe het alreeds ‘n belangrike prys gewen! (Die skrywer is ‘n Suid-Afrikaner wat in Nederland woon en werk.)

Van die uitgewer:
In haar memoir vervleg Van Niekerk haar eie lewensverhaal aangrypend en onthutsend eerlik met ’n verkenning van die groot kwessies in ons land: geweld teen vroue, skuld en onmag, aandadigheid en keuse. Onder ʼn bloedrooi hemel is ʼn diep ontroerende persoonlike reis, van geweld na genade, meesterlik vertel.
Annemarié van Niekerk woon in Den Haag, maar keer terug Suid-Afrika toe vir die begrafnis van haar liewe vriend Ruben, wat saam met sy ma op hul plaas in die Oos-Kaap vermoor is.
Dié reis lei haar terug na ander reise: van haar grootwordjare in die destydse Port Elizabeth in ’n liefdevolle, maar streng Nasionale huishouding, na Umtata, waar sy by UNITRA gaan klasgee, en verstrengel raak in ’n verhouding met Denzel, ’n swart skrywerskollega. Iets wat lei na jarelange ernstige konflik met haar pa. Dan na Hillbrow, en later na Yeoville, waar sy en Denzel – teen die wet – saamwoon en aktief is in skrywerskringe. Tot geweld ook hul verhouding binnedring. Die laaste reis is ’n terugkeer na die moord op Ruben en sy ma, en na die moordenaars se lewens, in ’n strewe na verstaan.