Hier is ‘n kosbare bespreking van die eerste Geur-boek deur mede-Romanzaskrywer, Annetjie van Tonder. Ek kan maar net hoop dat ander lesers ook met soveel aandag en empatie na my karakters sal kyk.
Ek moet jou gelukwens met ‘n boek wat sy staanplek met reg tussen Eleanore Baker, Engela van Rooyen en Helene de Kock kan kry. Ek kan maar net weergee wat ek met die lees daarvan ervaar het.
Die karakters is baie deeglik ontgin. Lana, wat so ontredderd was dat dit nie meer saak gemaak het om met kaal bolyf in die karooveld teen ‘n boom te gaan sit nie. (Die naakte bolyf teken juis haar weerloosheid so goed. Sy stel haarself hier aan die begin van die verhaal fisies aan die leser bloot, maar ook geestelik en emosioneel. Uitgetrek, sodat die leser met haar verwonde innerlike kan kennis maak. Die vroulike bors se vlees is juis so weerloos sag sonder klere)
Haar wegbreek is egter die begin van haar herstel, want dis ook ‘n wegbreek van Marius se oorheersing. Dit het moed gekos om eindelik sover te kom, maar dit dui alreeds op ‘n sterk innerlike kern waarvan sy self nie bewus was nie. Jou karakter groei tot volwaardige mens en vrou en dit gebeur nie kunsmatig nie, maar deur die verloop van omstandighede.
Netso groei Wilhelm ook na sy ontmoeting met Lana. Onbewustelik dra sy weer by tot sy herstel, in so ‘n mate dat hy ook uit sy skuilplek (die plaas) uitkruip en begin leef.
Vivien en haar ma is twee wonderlik karakters. Sterk. Ek wil glo Vivien het Wilhelm nog lief gehad, maar was sterk genoeg om met haar lewe aan te gaan en hom ‘n nuwe liefde te gun.
Mens kan byna nie glo dat Mariaan vir Marius kon lief wees nie, maar haar karakter word so geteken dat mens eintlik enigiets van haar kan verwag. Ek hoop sy keil ou Marius goed op.
Al wat ek tog wonder is, kry mens regtig vroue wat by ‘n man sal bly sonder trouring en dan toelaat dat hy so oor haar loop. Sy word so ‘n volkome huisvrou, versorg die huis, doen naaldwerk. Dis nie kritiek nie, hoor, eerder omdat mens geneig is om te dink dat ‘n saamwoonvrou nie ‘n huisvrou kan wees nie. Aan die anderkant is daar seker baie vroue wat maar bly hoop dat dit op ‘n huwelik sal uitloop en aanhou om tevrede te wees met die krummels.